Vandag se sportnuus

Rafael Nadal van Spanje hou die trofee vas kort nadat hy die Amerikaanse Ope-tenniskampioenskap gewen het (8 September 2019). (Foto: Charles Krupa/AP)

Tennis:

  • Die goewerneur van New York, Andrew Cuomo, het op Twitter gesê dat die Amerikaanse Ope sal voortgaan, maar dat wedstryde agter geslote deure gespeel moet word.

Die toernooi sal van 31 Augustus tot 13 September aangebied word.

Volgens Cuomo sal bykomende voorsorgmaatreëls getref word – daar sal gereeld vir Covid-19 getoets word, terwyl kleedkamers en ander geriewe deeglik skoongemaak sal word.

Vroeër het organiseerders van die Franse Ope gesê dat hulle kyk om die toernooi op 20 September tot 4 Oktober vanjaar aan te bied.

Daar kan selfs toeskouers toegelaat word, mits alles volgens plan verloop.

“Tans dink ons nie werklik daaraan om die toernooi agter geslote deure aan te bied nie. Ons kyk wel na die moontlikheid om 25 000 toeskouers in te laat, in plaas van 40 000,” het Hughes Cavallin van die Franse tennisbeheerliggaam gesê.

“As die regering voortgaan met hul munisipale verkiesings in Junie, kan ek nie sien waarom ons nie toeskouers kan toelaat nie.”

Volgens mediaberigte het die Ope verlede jaar vir meer as €260 miljoen gesorg en dit kan ’n broodnodige finansiële inspuiting in hierdie onsekere tye wees.

“Die Roland-Garros is tot die voordeel van die hele Parys. Die plaaslike hotelbedryf, restaurante en winkels maak miljoene danksy die toernooi. Dit is in tye soos hierdie waar ons werklik moet saamstaan.”

Wimbledon is egter gekanselleer.

CrossFit:

  • Te midde van die herrie op sosiale media oor Greg Glassman se George Floyd-inskrywing, het die Rogue-uitnodigingsbyeenkoms steeds voortgegaan.

Stadions, entoesiastiese toeskouers en klipharde musiek was egter iets van die verlede en die atlete moes die oefeninge op hul eie (en sonder enige musiek) doen.

Kanada se Pat Vellner en Australië se Tia-Clair Toomey was die uiteindelike wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.