Vandag se sportnuus

Eben Etzebeth. Foto: (AP Photo/Shuji Kajiyama, File)

Rugby:

  • Die Springbokke se vuurvreterslot, Eben Etzebeth, sal tot hoogstens 2024 in Frankryk bly.

Die 28-jarige het ná verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi ’n kontrak met Toulon onderteken en hy het dit gister met nog ’n paar jaar verleng.

  • Intussen het Saracens aangedui dat hulle volgende jaar ’n wedstryd teen die Stormers op die Tottenham Hotspur-stadion wil speel.

Volgens die Stormers-breier John Dobson sal dit die perfekte geleentheid wees om sy span teen een van die bestes in Europa te toets.

  • Beauden Barrett sal die losskakeltrui vir die Blues in hul wedstryd teen die Chiefs dra.

Dit sal die eerste keer in amper ’n jaar wees dat hy ’n wedstryd op losskakel begin.

Matt Duffie sal op heelagter uitdraf, terwyl daar steeds geen teken van Dan Carter in die Auckland-franchise se span is nie.

Krieket:

  • Die derde en beslissende toets tussen Engeland en die Wes-Indiese Eilande begin vandag in Manchester.

Die besoekers het die eerste toets met vier paaltjies gewen, waarna Ben Stokes gesorg het dat Engeland die tweede toets op Old Trafford met 113 lopies gewen het.

Jofra Archer, wat in die sop was omdat hy Engeland se Covid-19-regulasies verbreek het, is weer beskikbaar om in die toets te speel.

Tennis:

  • Alle tennistoernooie wat in China sou plaasvind, waaronder die Shanghai Meesters, is weens die Covid-19-pandemie afgelas.

Die Amerikaanse Ope gaan tans egter steeds voort soos beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.