Vandag se sportnuus

Brad Binder tydens die Motorfiets Grand Prix in Australië. (Foto: AP/Andy Brownbill)

MotoGP:

  • Brad Binder, Suid-Afrika se jong motorsportsensasie, sal die naweek weer probeer om verlede week se prestasie by die Oostenrykse MotoGP te ewenaar.

Hy het verlede Sondag geskiedenis gemaak toe hy die Tsjeggiese wedren gewen het. Sodoende het hy die eerste Suid-Afrikaner geword om ’n resies in die MotoGP-era te wen.

Volgens die weerburo word daar egter reënweer vir Sondag voorspel, wat beteken dat die motorfietsryers hul storie sal moet ken op ’n sopnat baan.

Binder is tans vyfde op die individuele punteleer, terwyl Red Bull KTM Factory Racing die derde plek in die spankompetisie beklee.

Sondag se wedren begin om 14:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Krieket:

  • Pakistan staan op 126/5 ná die eerste dag se spel van die tweede toets teen Engeland.

Hoewel die besoekers ’n goeie vennootskap van 72 lopies om die tweede paaltjie tussen Abid Ali en Azhar Ali geniet het, het James Anderson van Abid ontslae geraak.

Daarna het die Pakistani’s drie paaltjies vir slegs 42 lopies verloor.

Sokker:

  • Volgens mediaberigte is daar ’n moontlikheid dat Cristiano Ronalda saam met Lionel Messi vir Barcelona kan speel.

Hoewel die 35-jarige superster gesorg het dat Juventus die Serie A-reeks in Italië gewen het, het die span in die res van die seisoen gesukkel.

Volgens Guillem Balagué, ’n Spaanse sokkerkenner, wil Juventus van Ronaldo ontslae raak omdat dit net te duur is om hom by die klub aan te hou. Volgens bronne verdien hy ongeveer €23 miljoen in Italië.

Rugby:

  • Die kragmeting tussen die Blues en die Crusaders op Eden Park is afgelas.

Meer as 42 000 toeskouers was verwag, maar Auckland is steeds op vlak 3 van die staat van inperking. Toeskouers word slegs op vlak 1 toegelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Brad is ‘n goeie bestuurder (en ek ondersteun hom ten volle), maar ek dink nie dat daar veel bestuurders by Rossi kan hou op ‘n nat pad nie. Ek het eers onlangs na MotoGP begin kyk en ek dink dit is tans meer opwindend as F1. ‘n Voorste wegspring plek in MotoGP beteken nie dat jy op die podium sal staan nie, en die fietse is bykans identies wat krag en padhou vermoë betref, wat beteken dat die bestuurder se vernuf en moed baie meer beteken as in F1. ‘n Fout op F1 en jy kan regmaak, ‘n Fout in MotoGP en jy is uit die ren.

Dubbelloop ·

Koos, ek is bly dat jy nou na motorfiets renne kyk. Jy moet ook die WSBK kyk, dit is net so opwindend.
Ek self ry motorfiets. Net een dingetjie. Mens praat nie van ń mororfiets bestuurder nie. Dit is motorfietsryer of in engels, “bike rider” net so bietjie inligting. Ek hoop jy waardeer die kommentaar.
Goed gaan.

Paul ·

Hoe spreek mens Brad se van uit? Is “Binder”, “Biender” of “Bainder” ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.