Facebook sê oor probleme met foto’s, video’s

Argieffoto: Pixabay.com

Facebook, WhatsApp en Instagram was vanoggend weer aan die gang nadat miljoene gebruikers Woensdag probleme met dié drie sosialemediaplatforms ondervind het.

ʼn Facebook-woordvoerder het gesê die maatskappy “het ʼn probleem ondervind” gedurende roetine-instandhouding, wat die probleem met foto’s en video’s tot gevolg gehad het.

Hoewel Facebook vanoggend op sy Twitter-profiel gesê het die platform “behoort 100% terug te wees vir almal”, het sommige gebruikers steeds aangemeld dat hulle probleme met stemboodskappe en die aflaai van foto’s ervaar.

Volgens inskrywings op sosiale media kon foto’s op Facebook weer afgelaai word, maar sommige gebruikers het steeds probleme met WhatsApp en Instagram ervaar. CNET berig sommige gebruikers kla dat hutsmerke en hutsmerk-bladsye steeds nie funksioneer soos dit moet nie.

Gebruikers het hulself gister tot Twitter gewend om te kla oor die probleme met Facebook, WhatsApp en Instagram en binne minute was #whatsappdown, #facebookdown en #instagramdown die mees gebruikte hutsmerke op dié platform.

Die meeste gebruikers het gekla dat hulle nie video’s, foto’s en stemboodskappe op WhatsApp kan stuur nie en dat foto’s op Facebook en Instagram nie wil laai nie. Gewone teksboodskappe op WhatsApp het wel gewerk.

Volgens DownDetector.com het dié probleme gebruikers reg oor die wêreld geraak, maar veral gebruikers in Europa en Noord-Amerika. Facebook het meer as 2,38 miljard gebruikers wêreldwyd.

Instagram het ook op Twitter aangedui dat die probleem uitgesorteer is. “Ons is terug! Die probleem is opgelos en ons behoort 100% terug te wees vir almal. Ons is jammer vir enige ongerief,” het die sosialemedianetwerk gesê.

In Maart het Facebook sy grootste stilstand nog ervaar toe miljoene gebruikers sonder die platform moes klaarkom weens verstellings aan ʼn bediener.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Diefie ·

Ek het nogsteeds probleme met my fotos wat nie wil oop maak en whatsapp wat se videos vashak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.