Gaan meganisering ons almal werkloos én moedeloos laat?

Argieffoto (Foto: ColiN00B/Pixabay)

Deur Paul Maritz

Enigiemand wat al ooit laatnagslapeloosheid ervaar het en The Jetsons op die gewilde Cartoon Network gekyk het, óf die onlangse wetenskapfiksie-film Passengers, sou heel moontlik al oor hierdie vraag gewonder het: Gaan ek eendag vervang word deur ʼn vriendeliker, vinniger, en slimmer robot? Gaan my werk of beroep nie meer bestaan nie, omdat tegnologie dit oortollig verklaar het?

Die ouditeursfirma PricewaterhouseCoopers (PwC), het in hul jaarlikse HUB-opname ʼn meningspeiling onder 1 379 hoof- uitvoerende beamptes uit 79 lande wêreldwyd, ʼn antwoord op hierdie onheilspellende vraag gewaag. Snaaks genoeg was hul bevinding eenvoudig: dit hang van jouself af.

In die verslag wat PwC op grond van die bogenoemde meningspeiling saamgestel het, stel 52% van die direkteurs dat hulle in 2018 die totale persone in diens van die maatskappy wil vermeerder, terwyl slegs 16% uitdruklik gestel het dat hulle dié totaal wil verminder. Dit is dus duidelik dat daar werk is, en dat die werk meer gaan word – dit is wel noodsaaklik om die fynskrif rondom hierdie nuwe beroepe deeglik deur te trap voordat die werkswêreld met te veel optimisme betree word.

Dit is onvermydelik dat sekere beroepe deur ewig verbeterende tegnologie op die lys van bedreigde spesies in die volgende 40 jaar geplaas gaan word. Dit is ook die tydperk waarbinne huidige jong werkendes hul merk gaan maak in bedrywe waarvan baie nog nie eens bestaan nie.

Beroepe wat die grootste kans het om weg te val as gevolg van meganisering is beroepe waar daar ʼn voorspelbare roetine en konstante repetisie is, byvoorbeeld as jy ʼn spesialis proppie-opdraaier is, of wil wees, is daar ʼn kans dat jy binnekort werkloos kan wees. Daar is egter ʼn magdom beroepe wat nie sommer bedreig sal word nie.

Die deelnemers aan die PwC-meningspeiling het dit duidelik gemaak dat daar in hul organisasies ʼn tekort aan spesifieke vaardighede is, d.w.s. vaardighede wat nie deur robotte nagemaak kan word nie. Dié verslag wys vyf van hierdie vaardighede uit:

Wat maak my beter as ʼn robot?

  1. Kreatiwiteit – Die vermoë om buite die boks te dink, en met nuwe oplossings vir ou probleme te kom kan nie sommer deur ʼn robot nagemaak word nie.
  2. Leierskap – Die mees komplekse wese in enige werkplek is die mense in daardie werkplek. Die vermoë om ʼn klomp mense in ʼn eenderse rigting te stuur bly van onskatbare waarde.
  3. Emosionele intelligensie – ʼn Robot kan dalk data analiseer en interpreteer, maar die sensitiwiteit wat met emosies saamgaan bly uniek tot die mens.
  4. Aanpasbaarheid – Meer en meer robotte dateer hulself gereeld op en pas sodoende aan by ʼn dinamiese werkomgewing, maar die vermoë om blitsvinnig by heeltemal nuwe omstandighede aan te pas is vir robotte nog nie moontlik nie. Mense wat dit goed kan doen het dus altyd ʼn voordeel oor hul metaal kollegas.
  5. Probleemoplossing – Hierdie eienskap is ʼn samevatting van sommige van die ander eienskappe, maar in beginsel kan ʼn robot voorspelbare probleme op ʼn voorspelbare wyse oplos, soos wat dit geprogrammeer is. As die probleem egter kompleks of uniek is, is die robot meestal nutteloos.

Vir matriekleerlinge, studente, of jong werkendes is hierdie lys van eienskappe verskriklik belangrik, omdat dit die norm gaan wees waarvolgens aanstellings in die volgende jare vir die voorsienbare toekoms sal geskied.

Vir skoliere om skoolvakke te kies wat hulle gaan beperk tot ʼn beroep wat herhaling en roetine vereis, is ʼn besluit wat hierdie skoliere dalk duur te staan kan kom. Dit sou meer sin maak om vakke wat vir die skolier leer hoe om innoverend en uit die boks te dink, aan te bied.  Vakke soos wiskunde en wetenskap word tradisioneel as moeilik beskou, maar dit is en bly bo aan die lys van velde wat nooit deur robotte oortollig verklaar sal word nie, juis omdat hierdie vakke innovering aanspoor.

Om vakke te kies wat makliker is met die doel om ʼn goeie punt te verkry is nie noodwendig slim nie, want alhoewel mens dan met ʼn hoë gemiddeld matriek slaag, het so ʼn persoon ʼn beperkte keuse in studierigtings – juis omdat die vakke wat tradisioneel as moeiliker beskou word meer studiedeure oopmaak.

Dit is ook slim om reeds as skolier of student by strukture wat leierskap en emosionele intelligensie ontwikkel, betrokke te raak juis omdat jy in jou eerste onderhoud sal kan sit en die werkgewer kan oortuig dat jy meer waarde kan toevoeg as net kwalifikasie-spesifieke kennis, wat dikwels programmeerbaar is.

So, gaan ʼn robot eendag jou werk vat? As jy leierskapsvermoë, innoverende denke, en probleemoplossing as vaardighede ontwikkel en opskerp, nie sommer nie!

 

 

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android- en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

Hierdie artikel is ook te sien op Solidariteit Jeug

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae