Die internet is behoorlik op hol oor ʼn video wat daarop dui dat die vervaardiger Xiaomi daarin geslaag het om die eerste buigbare slimfoon te vervaardig. Dié video het onlangs op die webwerf Youko uitgelek.
In die video, wat soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, kan gesien word hoe iemand ʼn gebuigde slimfoon in sy handpalm vashou en al die normale funksies uitvoer.
Xiaomi is onder meer ook bekend vir die vervaardiging van huishoudelike toestelle, soos lugsuiweraars en klankstelsels.
Hoewel buigbare slimfone al ʼn geruime tyd ʼn konsep vir vervaardigers is, is een nog nie vir kommersiële doeleindes vervaardig nie.
Die nuus volg nadat die vervaardiger LG Display Co. in Augustus vanjaar aangekondig het hy gaan miljoene daaraan bestee om buigbare slimfone te vervaardig. Gerugte doen ook sedert Junie vanjaar die ronde dat Samsung in LG se spore gaan volg.
Xiaomi het nog geen kommentaar oor dié video gegee nie.
Bron: Gadgets 360
https://youtu.be/Go5QTKi5wPE
[Video nie meer beskikbaar nie.]