[Entrepreneurskap] Mense moet goeie goed oor jou sê

klipkouersMarlene Oosthuizen is stigter en eienaar van North West School of Design, ʼn private mode-kollege in Klerksdorp. Die kollege bied ʼn kursus aan wat oor drie jaar strek en internasionaal aanvaar word.

  • Wat is die aard van jou sakeonderneming?

Ek bied aan die modebedryf ontwerpers en nou ook professionele mense in die modewêreld wat nie net ontwerp doen nie, maar ook bemarking en aankope kan doen; wat benewens formele onderrig ook praktiese ondervinding het. Ons oogmerk is beroepgerigte opleiding wat nie noodwendig akademies van aard is nie, maar wel internasionaal gereken word.

  • Meen jy baie van die ander ontwerpskole is steeds te teoreties ingestel?

Die probleem lê by die registrasie by die departement van onderwys en om SAQA-toelating te kry – alles wat nodig is om kursusse geakkrediteer te kry. Ons is nie by die departement van onderwys geregistreer nie, omdat ons buitelandse kwalifikasies aanbied. Ons voldoen aan City and Guilds-vereistes. As ons derdejaars aan die einde van hul opleiding na werkplekke stuur, is die terugvoer wat ons kry dat ʼn student van North West School of Design “die werk kan doen”. Hulle kan alles baasraak, van kosteberaming tot die aanpas van ʼn patroon.

Ek dink die probleem lê nie by ander kolleges nie, maar om geregistreer te word en geakkrediteer te word. Die mense wat die aansoeke moet oorweeg is akademies ingestel. Om ʼn praktiese kursus deur hulle goedgekeur te kry gaan nie deug nie.

  • Dis ʼn belangrike kwessie wat jy aanroer. Ek moet sê my ervaring in Suid-Afrika laat my dink SAQA is die probleem. Ek het spesifiek na die sakeskole gekyk en met die mense daar gesels, en het gou agtergekom die professore bied nou maar die kursus aan wat daar is – hulle kan net werk met wat hulle het, maar ongelukkig moet ek byvoeg: Wat hulle het, is ʼn teoretiese gemors.

Dit is so, en dit is frustrerend. Uiteindelik sit jy met ʼn papier-oorlog met die akkreditasie en registrasie, en daarom het ons daarvan wegbeweeg om eerder net te fokus op beroepgerigte opleiding. Mense het lank neergesien op beroepgerigte opleiding omdat almal akademies geskool wil wees, omdat dit gaan oor ʼn graad. Ons het in 2012 ʼn ondersoek gedoen onder ons studente en oudstudente om hul behoefte te bepaal wat vir hulle belangrik is: ʼn internasionale kwalifikasie of ʼn graad. En honderd persent van ons terugvoer was “internasionaal” en “ek wil weet wat ek doen”.

Die kwalifikasie wat ons bied is ʼn lisensiaat in mode, die hoogste internasionale kwalifikasie wat jy in Suid-Afrika kan behaal. Die statuur wat ʼn lisensiaat in Europa en Brittanje het, is gelykstaande aan ʼn baccalaureus of ʼn honneursgraad. In Suid-Afrika is dit moeilik om die status van ʼn lisensiaat te verduidelik omdat SAQA-kwalifikasies akademies georiënteerd is.

  • Daar is steeds so baie mense wat prestige heg aan ʼn Suid Afrikaanse graad. En hier bied jy ʼn internasionaal geakkrediteerde kursus aan wat jou studente toelaat om nie net die boksie af te merk in terme van die kwalifikasie nie, maar onmiddellik te begin waarde toevoeg in die werkplek. Wat maak jou onderneming anders as dié van jou kompetisie?

Ons is ʼn kleiner kollege, as jy dit byvoorbeeld vergelyk met ons mededingers in Johannesburg en Kaapstad. Hulle registreer jaarliks so 200 eerstejaars, terwyl ek 40 eerstejaars inneem. Ons is klein en het individuele kontak met elke student. Ek wil ook nie uitbrei nie want ons studente en ons alumni benadruk die “familieaspek” van North West School of Design. As een student vandag nie hier is nie, is dit baie duidelik daardie student is nie hier nie, en ons vra die ouers dat daardie student moet klas toe kom. Omdat ons prakties ingesteld is, is die interaksie baie belangrik. Dit is die belangrikste verskil.

Ons verskil ook in die opsig dat die studente ʼn patroon van die begin af moet kan ontwerp. Ek het ʼn instrument waarmee ons patrone kan maak – ʼn vaardigheid wat baie ander kolleges nie meer toepas of oordra nie. Hulle gee vir studente ʼn basiese patroon wat hulle net moet aanpas.

Ons kursus sluit benewens nuwe tegnieke ook die ou beproefde benadering tot ontwerp en patroonontwikkeling in.

  • Jy het netnou gepraat van alumni. Ek het onlangs ʼn bietjie na julle webwerf gekyk. Julle het ook top-alumni gelewer wat waarskynlik weer op soek is na julle studente?

Weet jy, dit is ʼn groot probleem. Gert-Johan Coetzee het my nou die week gebel op soek na nog ʼn assistent. Maar almal wat verlede jaar afstudeer het, het reeds werk. Ek kon hom nie help nie.

  • Sê net vir die klipkouers wat nie weet nie, wie is Gert-Johan Coetzee.

Hy is een van Suid-Afrika se top-ontwerpers. Hy het al Hollywood-sterre aangetrek en ek reken hy is ons no. 1-ontwerper. Hy het hierdie jaar twee beurse beskikbaargestel vir North West School of Design.

Nog een van ons oudstudente is Anél Botha wat meer fokus op Afrikaanse glansmense. Sy is baie bekend in Suid-Afrika. Kobus Rautenbach is ook baie bekend en is ʼn dosent by ons.

Maar ons alumni is nie net beroemde ontwerpers nie, ons het ook alumni wat aankopers is. En dan is daar ontwerpers wat kies om nie in die kalklig te wees nie. Die sukses van ʼn ontwerper word nie gemeet in terme van roem nie, maar verkope. My oogmerk in die kursus is nie noodwendig roem nie, maar volhoubare inkomste.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te verwerf?

Die jongste werwingstrategie is die Gert-Johan Coetzee-beurse. Luminance, ʼn konsepwinkel wat spesialiseer in die luukse mode-items, het ook aan boord gekom. Hulle ken ook ʼn beurs toe en daardeur kry ons nogal baie mediabelangstelling.

Ons het ʼn effektiewe sosialemedia-strategie wat ons aan die kook hou en dan is daar ons webwerf. Nietemin bly dit belangrik dat mense goeie goed oor jou sê.

  • Ek neem aan dis belangrik dat dit wat julle doen gesien moet word. Mode is tog ʼn visuele produk?

Ja, dit is, en dit is belangrik om vir mense te wys wat die studente kan doen. Ons tweedejaars het nou mansklere gedoen en ons was gister stomgeslaan oor die kwaliteit. Ek het vanoggend vir hulle gesê om hulle goed in te bring, dat ons foto’s kan neem om dit met die hele wêreld te deel.

  • Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou onderneming?

Definitief die wanindruk wat mense het oor die mode-wêreld. Mense dink as jy mode studeer gaan jy ʼn ontwerper word. Mense dink “ek wil nie ʼn ontwerper word nie, so ek gaan nie mode studeer nie”. Daar is soveel geleenthede in die bedryf, nie net vir entrepreneurs nie, maar ook vir iemand wat ʼn professionele loopbaan in aankope, kleinhandel, modevoospelling of neiging-analise oorweeg.

Ongelukkig word kinders nie regtig op skoolvlak daaraan blootgestel nie, en as hulle ʼn aanlegtoets doen is dit ʼn kwessie van: “Ag, hierdie kind kan goed met haar hande werk, so laat sy mode studeer.” Dit is nie handewerk wat maak dat jy mode kan studeer nie, jy het dieselfde aanleg nodig as ʼn argitek, want die ontwerp is eweneens eendimensioneel terwyl die eindproduk ʼn 3D-item is wat beweeg. Die argitek se eindproduk beweeg nie eers nie, die ding staan stil. So jy moet nog steeds daardie soort aanleg hê. Die mense wat die aanlegtoetse ontwerp is nie regtig begaan oor modewêreld en die geleenthede wat daar is nie. Daar is plek vir mense wat wiskundig aangelê is, en vir mense met sakevernuf, en vir die kreatiewe ontwerpers, die tegnies georiënteerdes en ook mense wat drie-dimensioneel kan dink. Dít dink ek is ons grootste frustrasie.

  • Dit klink vir my (en dis nie die eerste keer wat ek dit hoor nie) asof die aanlegtoetse net nie aanpas met die uitdagings van die sakewêreld nie.

Glad nie, en die modebedryf het wêreldwyd só verander, nie eers net in Suid Afrika nie. Ons modewêreld in Suid Afrika het verander ná apartheid. Nou doen ons dinge meer soos die wêreld dit doen en aanlegtoetse is nooit daarby aangepas nie.

  • Ek wil vinnig by jou aansluit, in terme van die ontwerp, my laaste korporatiewe rol was in die sonbrilbedryf in Brittanje, en dit was my ondervinding dat die beste bemarkers ter wêreld uit die modebedryf kom. Soos jy sê dis nie net vir mense wat kan ontwerp nie, daar is die hele verskaffingsketting wat mense nodig het – veral mense wat sterk sakegeoriënteerd, sterk bemarkingsgeoriënteerd en verkopegeoriënteerd is. Jy kan die mooiste rok in die wêreld ontwerp, maar as jy dit nie verkoop kry nie, wat is die punt?

Beslis, dit bring ons weer terug by “die sukses van ontwerp lê in verkope”. Selfs ʼn aankoper wat ʼn hele reeks aankoop. Die sukses van daardie reeks word gemeet aan die verkope. Ek kry dikwels studente wat sê hulle gaan by ons kom swot en daarna gaan hulle bemarking swot, en ek vra altyd hoekom, want jy gaan meer in-diepte bemarking híér doen. Daar is die sielkunde van aantrek, die sielkunde van mode, verbruikersneigings en verbruikersgedrag. Dit verander deurgaans en as jy dít in mode kan bemeester kan jy dit enige plek regkry.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy begaan het?

Die grootste sakefout wat ek gemaak het is dat ek eers in 2011 my klasgeld net mooi verdubbel het en vandat ek die klasgeld verhoog het, het ek meer studente en my studente betaal meer gereeld. Die les wat ek daaruit geleer het, is dat mense waarde heg aan die prys wat jy vra. As jy te goedkoop gaan vra, gaan hulle die produk wat jy bied, bevraagteken.

  • Dit is fantastiese advies: Hoe laer jou prys, hoe minder geld maak jy, hoe meer kliënte het jy en hoe meer probleme gaan jy hê, dit is so eenvoudig soos dit.

Definitief, so ek hou maar by die klasgeld wat ek nou vra en 40 studente. Eerder dit as dat ek met 200 studente sit en in elk geval nie by almal uitkom nie. Dit is is nog steeds goedkoper as om in Johannesburg te studeer, want die verblyfkoste en uitgawes is goedkoper in Klerksdorp as wat dit is in Johannesburg.

Iemand het nou die dag vir my gevra hoekom die ontwerpers in Klerksdorp so baie vra vir rokke, en toe antwoord ek “want ek het hulle geleer om baie te vra”. Vra jou prys, daar is ʼn rede waarom daardie prys daar is. Vra jou prys en moenie skaam wees nie.

  • Dit is vir my ʼn baie belangrike punt wat jy maak ek dink somtyds wat mense vergeet is, natuurlik gaan jy van die geld in jou sak druk, en dis om jou pot aan die kook te hou. Maar wat die Klipkouers daar buite moet verstaan is dat jy met die geld jou diens en jou produk kan verbeter, jy kan meer geld in die masjien belê en net nog ʼn beter produk lewer. Mense dink ouens vra meer geld om ʼn groter huis en beter motor te koop, nee, dis ʼn goeie onderneming wat as “niche” gefokus is en wat kwaliteit wil aanhou verbeter en versterk.

As jou kwaliteit verbeter styg jou oorhoofse koste.

  • Absoluut! Dit kos geld om ʼn Bugatti Veyron te bou, dis hoekom hulle ʼn miljoen pond kos, want dit kos geld.

 Hoe hanteer jy oomblikke van onsekerheid of vrees?

In geloof en gebed, definitief. Ek gaan sit en bid en ek raak rustig. Ek gee die onsekerheid en die vrees vir Jesus om mee te deel, en ek hoef my nie verder daaroor te bekommer nie, definitief in geloof.

  • Watter sagteware of applikasie is vir jou baie waardevol, vir jou onderneming of persoonlik?

Ek dink in die onderneming beslis die aanlynonderrigstelsel wat ons gebruik. Dit maak dit net soveel makliker vir die studente om hulle notas daarvan af te trek en hul projekte op te laai. Dit is net so effektief. Die kalender is daar op, so definitief dit. Ons gebruik Moodle op die oomblik, ons het Lore gebruik, maar dié het toegemaak, so ons is van gister af op ʼn nuwe stelsel. Ons leer nog om die stelsel baas te raak. Ons gebruik nou al ʼn soortgelyke stelsel sedert 2012 en as ek moet terugdink weet ek nie hoe ons dit daarsonder gedoen het nie.

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

Ek het twee: Winston Churchill het gesê “Never ever ever give up.” En Gucci het gesê “Quality remains long after the price is forgotten.” Ek het dit groot in my kantoor op sodat almal wat in my kantoor inkom dit sien, en ek sien dit ook elke dag.

  • Dit is kragtig en ek dink kwaliteit word onthou want dit hang tien jaar later nog in jou kas.

Definitief, en dis nie eers net só in mode nie, jy kan dit oral laat inpas.

  • Hoe kan die klipkouers met jou kontak maak?

Marlene Oosthuizen op Facebook, of op ons webwerf www.northwestschoolofdesign.co.za. Die webwerf is die beste manier om ons te kontak.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae