BMW C 400 X – ideale stedelike mobiliteit

Die BMW C 400 X. (Foto: Brian Cheyne)

Hierdie tyd van die jaar is gewoonlik die stilte voor die storm vir motorfietsjoernaliste. Al die nuwe modelle is nou al deur die loop van die jaar gevestig, en die twee groot motorfietsskoue (EICMA en Intermot) is om die draai. Reg om 2020 se modelle aan te kondig.

So in dié stilte het ek tyd met die nuwe BMW C 400 X deurgebring. Soos ek nou al baie gesê het: bromponies is nie gewild hier in Suid-Afrika nie, en tog het BMW besluit om die C 400 X en C 400 GT hierheen te bring.

Net soos met groot avontuurfietse of superfietse, grond kopers hul besluit op hul behoeftes. As jy net pendel, brandstof wil bespaar en ’n fiets met praktiese pakplek soek, dan is ’n bromponie ideaal.

Die BMW C 400 X. (Foto: Brian Cheyne)

Die C 400X is nie BMW se eerste kleinkapasiteit‑bromponie nie. BMW het al probeer met die C1. Alhoewel ’n motorfiets met ’n dak op sekere voordele ingehou het, was dit nie ’n groot sukses nie.

BMW het dit opgevolg met die C 650‑reeks. Hierdie fietse het veral in Europa aanklank gevind. BMW fokus egter deesdae op die onder-500 cc‑mark, en hulle het hul teenwoordigheid hier verder uitgebrei met die C 400‑reeks. Die fietse word in die Loncin‑fabriek in China vervaardig.

Alhoewel die plakkertjie 400 lees, is die enjin ’n 350 cc‑enkelsilinder‑eenheid. Hy ontwikkel ’n skaflike 25 kW teen 7 500 r.p.m. In Europa is daar verskeie spesifikasievlakke beskikbaar, maar hier in Suid-Afrika kry ons net die topmodel.

Die BMW C 400 X. (Foto: Brian Cheyne)

Die klein BMW is nie ’n onooglike fiets nie, alhoewel party toeskouers hul bedenkinge gehad het oor die voorkant en veral die klein windskermpie. Die toetsmodel was in wit afgewerk en die swart saal het ’n windmakerige rooi insetsel gehad. Die saal is breed en bied baie ondersteuning. Selfs al is die fiets fisiek klein, het ek heel gemaklik gepas. Daar is nie baie beweegruimte vir jou voete nie, maar oor die algemeen is die ryposisie glad nie ongemaklik nie.

Omdat dit ’n BMW is, is die C 400 se toerustingsvlak hoog. Hy beskik oor verhitte handvatsels en ’n verhitte saal – albei is verstelbaar deur drie vlakke.

Die fiets gebruik BMW se sleutellose stelsel. Die groot TFT‑instrumentasie is van sy groter boeties geneem en bevat ’n magdom inligting. Die uitleg is heel eenvoudig, maar met behulp van die bekende BMW‑kontrolewiel is daar vier skerms vol inligting tot jou beskikking. Natuurlik kan die skerm met jou foon en sekere kommunikasie‑eenhede koppel. Die stelsel kan ook jou foon se navigasie gebruik en jou roete op die skerm vertoon.

Die BMW C 400 X. (Foto: Brian Cheyne)

Ek het aanvanklik gedink die R125 000 prys is hoog, maar as jy die spesifikasievlak in ag neem, is die prys heel billik.

Die groot verkoopspunt van ’n bromponie bo ’n tradisionele motorfiets is egter die praktiese pakplek. Die C 400 X het twee sluitbare paneelkissies voor die ryer. Die pakplek onder die saal is egter nie waffers nie – dit is te vlak vir bonkige items. As jy stilstaan, kan jy BMW se Flexcasestelsel gebruik om die spasie te vergroot. Basies knip die bodem van die pakplek los om te sak tot op die agterwiel sodat jy genoeg plek het om jou valhelm te stoor. Jy kan egter nie ry met die Flexcase in plek nie.

As jy die aansitter druk, kan jy hoor dit is nie ’n groot enjin wat hier in die lewe geroep word nie. Ek het al ’n soortgelyke klank gehoor toe ek per ongeluk op my skoonma se poedel se stert getrap het. As hy luier klink dit ʼn bietjie beter.

Die BMW C 400 X. (Foto: Brian Cheyne)

Die verrigting het my egter verras. Die C 400 trek sterk en sal jou ver verby die spoedgrens kan kry. Versnelling is ook rats en sal jou maklik voor die verkeer kan hou. Wat ekonomie betref, het my brandstofverbruik selde bo 4 liter/100 km gestyg, selfs met my oorywerige regterhand.

Die X beskik oor dubbele skywe voor en ’n enkelskyf agter. Sluitwering en traksiebeheer is standaard.

Ek was beïndruk met die klein BMW en ek wonder wat dit sal kos vir ons Suid-Afrikaners om bromponies te sien as volwaardige motorfietse. Die BMW C 400 X is ’n prima produk met uitstekende bougehalte. En tog word alle bromponies summier eenkant toe geskuif en nie eers oorweeg deur die meeste mense nie. As jy egter ’n behoefte het aan ’n ekonomiese vervoermiddel om mee te pendel, dan moet die BMW C 400 X minstens jou kortlys haal.

Kliek hier vir die produkblad.

Die feite:

Enjin350 cc‑enkelsilinder
Gewig (nat)204 kg
Kraglewering25 kW @ 7 500 r.p.m.
Wringkrag35 Nm @ 6 500 r.p.m.
Tenkkapasiteit12,8 ℓ
PrysVanaf R125 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marco polo ·

Behalwe vir die prys, waarvoor jy darem ‘n lekker motorfiets kan koop, is dit redelik voor die hand liggend waarom bromponies nie gewild is in SA nie. Baie mense gebruik hulle fietse om mee te toer en dis iets wat maar gaan neul op ‘n bromponie. En dan is daar nog die status faktor vir baie. Dis darem baie beter om te spog dat jy ‘n 1200GS het, as om te vertel van jou scootertjie.

SjN ·

In daai prysklas is daar verskeie puik gebruikte 1200 gs Adventure beskikbaar met minimum kilos en jaarmodel. Die model is vir n rykmans dogtertjie.

Kalie ·

Alles goed en wel maar vir daai prys koop ek n regte fiets , Honda se NC reeks is n 750 en nuut goedkoper , dis ma BMW vir jou ,net te duur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.