Dié Merc nie net mooi

Mercedes-Benz GLE 400d. Foto: Verskaf

Mercedes-Benz het in 1997 hul splinternuwe ML bekendgestel. Jeff Goldblum het een gery in die fliek Jurassic Park. Dit was al wat dit gevat het om Hollywood te oorreed dat ʼn ML cool was.

Daai eerstes was effe voor my tyd – maar ek onthou die eerstes as ietwat van ʼn lelike eendjie. Soos Porsche wat ʼn paar probeerslae gevat het om die Cayenne reg te kry. So ook is die nuwe ML, of GLE as ʼn mens sy nuwe benaming gebruik, ook nou ʼn heel mooi motor.

Ek was opgewonde oor die GLE 400d wat by die kantoor opgedaag het.

Mercedes-Benz GLE 400d. Foto: Verskaf

Ek hou van ʼn sterk sessilinderturbodiesel aangedrewe sportnuts… veral die volgrootte sportnutse. Die ontwerp aan die buitekant is vir my beslis mooier en meer ambisieus as die binneruim. Die binneruim voel vir my ietwat plein. Dis ergonomies, en die materiale is van ʼn puik gehalte, maar die ontwerp is vir my ʼn bietjie plat, veral as mens gewoond is aan ʼn E-klas-binneruim wat pragtig is.

Die enjin is ʼn 3.0-sessilinderturbodiesel. Hy bied 243 kW en 700 Nm. Hy toer soos ʼn droom en indien mens bietjie woema nodig het – begrawe net die versneller dan is die krag daar.

Mercedes-Benz GLE 400d. Foto: Verskaf

Waar die 400d beslis agter sy mededingers is, is by brandstofverbruik. Ek het die week voor die GLE ʼn BMW X7 M50d gehad, en hy’t hope meer krag én is ligter op brandstof. Baie ligter. Ek kon met baie oop pad en versigtige voete nie beter as 9,3 ℓ/100 km kry met die GLE nie.

Waar die GLE my werklik beïndruk het, is met padhouvermoë en ritgehalte; die GLE ry lekker sag. Dit het verskriklik gereën toe ek die GLE gehad het, en hy voel vere vir ʼn nat pad. Die GLE trap perfek in sy spoor. Waar die GLE my verder beïndruk het, is met sy vierwielaandrywing.

Mercedes-Benz GLE 400d. Foto: Verskaf

Ek en ʼn ander joernalis is op pad na nog ʼn joernalis se reinigingseremonie ná haar man oorlede is. Sy bly op ʼn plaas tussen Randfontein en Carletonville.

Google Maps neem ons soontoe. Wel… die tannie op die navigasie sê draai links, en ons draai links. So 200 m in sê die pêl vir my, “sjoe, ek glo darem nie”. Dit was toe al te laat en ek besluit as ons hier stilhou, sink die GLE weg tot teen sy aste in die modder. Ek hou toe koers teen so 40 km/h en soek verwoed na die vastrapbeheerknoppie om dit af te sit. Die volgende drie minute was fantasties.

Mercedes-Benz GLE 400d. Foto: Verskaf

ʼn Mens moet by die kantruite uitkyk om te sien waar mens gaan en die GLE is soos ʼn kat met botterpote op ʼn kombuisvloer deur die modderbad en anderkant uit. Albei ons oë is groter as die GLE se magtige 20”-bande en daar is baie modder bo-op die dak, enjinkap en kantruite, maar ons is daar deur.

By die plaas sien ons karretjies soos Citroën C3’s en Toyota Corolla’s en is dadelik oortuig dat ons ʼn verkeerde afdraai moes gevat het, want geen kar sonder vierwielaandrywing sou dit daardeur gemaak het nie. Ek moes daai GLE drie keer met die hoëdrukwasser afspuit en was. Ek hoor eers later dat hy daarna handelaar toe is om modder uit sy verkoeler se waaierlemme te haal. Ek’s jammer oor die modder, maar nou weet ons dat ʼn GLE sy rokkie kan oplig en net so taai is soos enige ander.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLE300d 4Matic180 kW/500 Nm6,4 ℓ/100 kmR1 252 187
Mercedes-Benz GLE300d 4Matic AMG Line180 kW/500 Nm6,4 ℓ/100 kmR1 325 187
Mercedes-Benz GLE450 4Matic286 kW/500 Nm9,4 ℓ/100 kmR1 377 855
Mercedes-Benz GLE400d 4Matic243 kW/700 Nm7,5 ℓ/100 kmR1 400 729
Mercedes-Benz GLE450 4Matic AMG Line286 kW/500 Nm9,4 ℓ/100 kmR1 450 855
Mercedes-Benz GLE400d 4Matic AMG Line243 kW/700 Nm7,5 ℓ/100 kmR1 473 729

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Jaguar F-Pace 30d AWD Pure221 kW/700 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

4 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 039 334
Volkswagen Touareg V6 TDI Luxury190 kW/600 Nm7,2 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 074 600
Audi Q7 45TDI Quattro183 kW/600 Nm6,3 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 094 000
Jeep Grand Cherokee 3.0CRD Overland179 kW/569 Nm7,5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

6 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 101 900
Volvo XC90 D5 AWD Inscription173 kW/480 Nm5,7 ℓ/ 100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 122 600
Lexus RX 350 F-Sport221 kW/370 Nm9,6 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km-waarborg

7 jaar/105 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 154 800
Porsche Cayenne250 kW/450 Nm9,2 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 174 000
BMW X5 xDrive30d xLine195 kW/620 Nm7,0 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 233 096
Toyota Land Cruiser 200 4.5D-4D V8 VX-R195 kW/650 Nm10,2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

90 000 km-diensplan

R1 510 100

Tussen dié mededingers is nét die Cruiser 200 duurder as die Merc. Die BMW X5 is vir my onoortreflik en bly my keuse in dié segment, behalwe as mens na die Cruiser kyk vir werklike 4×4-vermoë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.