Foto’s: 2 500 klassieke motors dié naweek by Zwartkops te sien

Hierdie 1931 Nash Tourer van Potgietersrus sal by die uitstalling te sien wees. (Foto: Verskaf)

Meer as 2 500 klassieke motors word dié naweek by die gewilde Cars in the Park by Zwartkops-renbaan in Centurion, Gauteng, verwag.

Die jaarlikse Classic Car Spectacular word deur Pretoria Old Motor Club gereël. Die eerste uitstalling het amper 40 jaar gelede in Silverton plaasgevind en daar is nét 15 karre uitgestal. Die afgelope paar jaar het tot 3 000 klassieke en veteraanmotors by elke uitstalling opgedaag.

Vanjaar sal daar verskeie spesiale voertuie op uitnodiging in die kuipe uitgestal word. Een só ʼn motor is Allie van Jaarsveld se 1903-Peugeot, ʼn piepklein enkelsilindermotortjie. Lazarus Ford Centurion gaan die heel nuutste Bullitt Mustang ten toon stel.

Daar word ʼn magdom verskillende voertuie verwag, alles van ʼn nuut gerestoureerde Seat Abarth 750 GT, talle Unimogs en Volvo- militêre voertuie. Die lys is byna nimmereindigend.

Hierdie oulike 1903 Peugeot sal die oudste voertuig by vanjaar se Cars in the Park wees. (Foto: Verskaf)

Daar sal Sondag verskeie stalletjies wees wat allerhande motorverwante items gaan verkoop, asook heerlike kos- en drinkgoedstalletjies. Dit is die ideale geleentheid vir ʼn pretdag saam met die hele gesin.

Cars in the Park vind Sondag 4 Augustus by Zwartkops-renbaan plaas. Elke bestuurder en een passasier kry gratis toegang tot die uitstalling solank hulle voor 09:00 opdaag om hul voertuig uit te stal. Toegang tot die skou is R100 per volwassene en gratis vir kinders onder 12. Die hek maak om 08:00 vir toeskouers oop.

Parkering is langs Zwartkops gereël op die R55.

Vir meer inligting besoek: http://www.pomccitp.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elize C ·

Net vir interessantheid vir die “petrolkoppe”: die 2019 Thunder Tour deelnemers vertrek ook vanaf hierdie punt gedurende die dag. Dit is almal V8’s, en die motors sal deel uitmaak van die uitstalling die oggend. Great om die “thunder” te hoor as daardie voertuie almal gelyktydig gestart word…… Kyk gerus na “The Thunder Tour” facebook blad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.