Honda sing ’n nuwe Ballade

(Foto: Verskaf)

Honda het in die vroeë tagtigerjare met hul eerste Ballade in Suid-Afrika aangekom. My stiefma het ʼn rooi een gehad. Dit was ʼn puik 1.3-viersilinder met ʼn 5-spoed-handrat. Ek onthou nou nog hoe daardie voertuig binne geruik het. Daarna was die tweede generasie met die “op-pop” liggies. Hulle was grênd met elektriese vensters, lugreëling en sentrale sluitstelsel… leiers in die mark in daardie dae.

Die derde generasie is waarskynlik my gunsteling. Baie mense sal die DOHC onthou. Dit was toe Honda met kleptydreëling begin rondspeel het, en daai voertuie was blitsig. Daar was ʼn luikrug-weergawe van die derde generasie Ballade, naamlik die Honda CRX – tot vandag toe nog ʼn droommotor van my. Die vierde generasie het die eerste Civic na Suid-Afrika gebring, en sodoende die eerste VTEC. Daar was nie ʼn petrolkop wat nie oor ʼn Civic VTECH gedroom het nie.

In 2011 het Honda besluit om die Ballade-naam terug te bring met ʼn B-segment-voertuig uit Indië. Billike bougehalte met ʼn sterk handelsnaam soos Honda was ʼn resep vir sukses. Ongelukkig is die sedan-segment besig om tot niet te loop.

Die nuutste Ballade sit tussen die B-sedan- en C-sedan-segment. Daar is ʼn billike kattebak en sitplek vir vyf; ʼn sterk spesifikasievlak met klimaatbeheer, spoedkontrole, kragstuur, CarPlay en Android Auto. Aan die veiligheidskant is daar ABS, EBD, vastrap en stabiliteitsbeheer en ISOFIX.

(Foto: Verskaf)

Die Ballade word aangedryf deur ʼn atmosferiese 1.5-viersilinderpetrolenjin. Die enjin bied 89 kW en 145 Nm gepaard met ʼn 7-spoed-palwisseltransmissie. Die CVT bied goeie brandstofverbruik en toer heel goed.

Op die pad is dit ʼn bekwame voertuig. Die padhouvermoë is aanvaarbaar vir dié segment en die ritgehalte lekker gemaklik. Tydens die bekendstelling het die suidooster sy heel beste probeer om ons totaal en al weg te waai, so die windgeraas om die spieëltjies was heeltemal te verstane.

Ons sal weer op die platorand tyd met die Ballade deurbring en sien hoe hy hom dan in die verkeer gedra en ook kyk hoe die hoogte bo seespieël hom beïnvloed en hom dan met sy mededingers vergelyk.

Die reeks lyk só:

Honda Ballade 1.5 ComfortR336 500
Honda Ballade 1.5 EleganceR366 900
Honda Ballade 1.5 RSR396 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andréas ·

Honda was altyd meganies uitmuntend maar hul pryse in SA maak dit moeilik. Neem in ag jy kan intreemodel Mitsubishi Eclipse kry vir Ballade 1.5 Elegance se prys. Kruismodel vs B/C-segment sedan…

andre ·

Invoertariewe maak die Ballade nou te duur.Dis n uitblinker wat spasie,ekonomie en betroubaarheid aanbetref,maar die Quest is beter waarde vir geld

koos10 ·

Ek wil saam met die ander kommentators stem. My eerste indruk toe ek begin lees het was: as sy prys reg is gaan hy verkoop, en toe kom ek by sy prys en besef in die prysklas kan jy Toyota, Mazda, Jeep, Ford, Opel, Suzuki, VW en nog ‘n spul ander kan koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.