Dit is weer tyd vir Dakar. Daardie vreemde wedren wat net in naam Dakar heet. Die werklike eindpunt is duisende kilometers en ʼn oseaan verwyder van Dakar. As jy egter na die wenners gaan kyk in die motorfietskategorie sal jy opmerk dat daar in 2000 laas ʼn ander wenner was as ʼn KTM. Wat jy ook sal opmerk, is dat die 2002 wenner ʼn 950 cc was, en die 2017 wenner slegs ’n 450 cc. Dit staaf net weer eens: As jy ernstig is oor jou vrotpad fiets, is ligter en kleiner beslis beter.
Wat ek verlede jaar geleer het, is dat ʼn mens deesdae nie meer slegte fietse kry nie. Elke fiets waarmee ek gery het, het my beïndruk. Maar, daar is iets aan ʼn KTM wat by my, persoonlik, aanklank vind. Ek weet nie of dit die aggressiewe stilering of die helder oranje kleure is nie, maar hierdie oranje monsters praat met my binneste.
KTM het hulle 1090 en 1290 verlede jaar bekend gestel. Ek het nou al die 1290 Superadventure onder hande gehad, en nou is ek aan die ander kant van die reeks. Die intreemodel, as jy wil. Hy heet die 1090 Adventure. Sy voorganger was die 1050 Adventure en die 1090 het ʼn groot kraghupstoot gekry al het die gewig feitlik onveranderd gebly. Die 1090 Adventure is gemik op ryers wat die oorgrote meerderheid van hulle tyd op teer deurbring, en so nou en dan ʼn stofpaadjie aandurf. Vir dié rede het die Adventure allooi vellings. As jy avontuurlustiger is, bied KTM die 1090 Adventure R. Hierdie model het vrotpad bande, speekwiele, langer skokbrekers en ʼn grondvryhoogte van 25 cm.
In terme van toerusting is daar ʼn groot verskil tussen die 1290 Superadventure en 1090 Adventure. Die groter boetie het ʼn volkleur TFT skerm, waar die 1090 ʼn meer tradisionele benadering het. Twee gewone vloeikristal eenhede sit weerskante van die groot toereteller. Aan die regterkant is inligting soos spoed en brandstofvlak. Aan die linkerkant is al die fiets se verstellings en alles word gehanteer van kontroles op die handvatsel. Die windskermpie kan ook verstel met ʼn eenvoudige meganisme.
Die 1090 Adventure het drie ryprogramme, Sport, Street en Rain. Daar is nie ʼn vrotpad-program nie, wat in strook met die fiets se padvoorkeur. KTM het egter die toetseenheid onlangs gebruik in een van hulle KTM-saamtrekke, so hy is nie heeltemal lomp weg van die teer af nie.
Die elektroniese versneller is uiters sensitief en die KTM trek genadeloos. Selfs met 35 pk minder as wat die 1290 beskikbaar het, is die 1090 nie in die minste ʼn stadige fiets nie. Wat hy verloor in krag, maak hy op in gewig. Vir die tweede keer in minder as ses maande bevind ek my weer in die situasie waar ek ʼn fiets wat geensins ʼn sportfiets is nie, wil ry soos een. Selfs met sy groot voorwiel is die KTM nie bang vir ʼn draai nie. Die 1090 kry nie snelskakeling nie, maar die hidroliese koppelaar is lig en ratskakeling is sekuur.
Die KTM 1090 Adventure het min foute. Die enigste krapperigheid is dat die hitte van daardie enjin amper onmiddellik merkbaar is as jy ʼn kort entjie gery het. KTM het hittewerende materiaal onder die saal aangebring en dit help seker tot ʼn mate. Die ander weglating is spoedbeheer. Met ʼn elektroniese versneller en die fiets se rol as ʼn toerfiets kon KTM dit gerus as standaard toerusting ingesluit het. Behalwe daarvoor is sy grootste vyand seker die Suid-Afrikaanse mark. Ons soek krag en al die opsies. Hoe meer, hoe beter. Hierdie fiets, met sy brutale kraglewering en relatiewe ligtheid is ʼn bewys dat minder beter kan wees.
Vir meer inligting, besoek die produkblad.
In ’n neutedop:
1090 Adventure | 1090 Adventure R | |
Enjin | 1050cc, 2-silinder, V 75° | |
Gewig (Droog) | 205kg | 207kg |
Maksimum kraglewering | 92kw/125pk | |
Saalhoogte | 85cm | 89cm |
Grondvryhoogte | 22cm | 25cm |
Tenk kapasiteit | 23L | |
Prys | R173 999 | R187 999 |
Oe-la-la!
Watse mooi fiets is dit nie.
KTM beteken vir my duur en onbetroubaar. Amper soos Ducati en Alfa Romeo.
Ek sou dink KTMs is betroubaar as hulle nou al vir 17 jaar in ‘n ry die formidabele Dakar uithouwedren gewen het?