Nuwe Vitara tref wel die kol  

Die nuwe Suzuki Vitara 1.4T GLX. Foto: Verskaf

Net soos kos, is motors amper altyd ʼn som van hul bestanddele of in die geval onderdele.

Partykeer is 90% van die onderdele perfek, en dan is daar een vlieg in die salf. As ons na die Suzuki Vitara spesifiek kyk is dit ʼn heel aantreklike, eenvoudige Japannese ryding met sitplek vir vyf. Dis ʼn kruismodel, so hy sit effe hoër as ʼn gewone luikrug met ʼn bietjie beter grondvryhoogte.

Die probleem kom in die vorm van sy atmosferiese 1.6-viersilinderpetrolenjin. Dit was ʼn bietjie asmaties. ʼn Lekker atmosferiese enjin wat van toere hou, is lekker in ʼn buksie soos ʼn Suzuki Swift Sport waar ʼn mens die heel tyd aan die ratte roei om hom aan die kook te hou, maar dit raak uitputtend in ʼn gesinsmotor.

Die nuwe Suzuki Vitara 1.4T GLX. Foto: Verskaf

Gelukkig het Suzuki dié probleem opgelos met sy nuwe Suzuki Vitara 1.4T GLX. Die verandering kom in die vorm van Suzuki se 1.4-viersilinderturbopetrolenjin. Hy bied 103 kW en 220 Nm. Die kW is nie waar die grootste verskil inkom nie, maar eerder met die wringkrag. Daar is twee ratkaste beskikbaar, ʼn 6-spoed-handrat en ʼn 6-spoed-outo. Albei is puik. Verrigtingsyfers is indrukwekkend met 0 – 100 km/h in 9.5 sekondes en ʼn topspoed van 200 km/h. Heel goed. Wat dit nóg beter maak, is die 1.4T kan ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 5,9 ℓ/ 100 km haal; heel indrukwekkend vir ʼn tjor met dié tipe krag.

Op die pad voel die Vitara lekker ruim en gemaklik. Daar is CarPlay en Android Auto, klimaat- en spoedbeheer sowel as ʼn magdom veiligheidstelsels soos sewe lugsakke, ABS, EBD en stabiliteitsbeheer.

Die nuwe Suzuki Vitara 1.4T GLX. Foto: Verskaf

Die 17”-bande dra darem nog ʼn 55-profiel tekkie, so die ritgehalte is aangenaam  en die padhouvermoë in die kol.

Die Suzuki Vitara is ʼn perfekte voorbeeld hoe een klein dingetjie soos die enjin die produk heeltemal kan verander. Nou sit ʼn mens met ʼn bekwame, gemaklike en ruim gesinsmotor wat sy sokkies kan oprol en hol. Suzuki is gewild weens sy betroubaarheid en kliëntetevredenheid. Ek kan nou sien hoekom.

Die reeks lyk só:

Suzuki Vitara 1.6 GL86 kW/151 Nm5,8 ℓ/100 kmR293 900
Suzuki Vitara 1.6 GL+86 kW/151 Nm5,8 ℓ/100 kmR332 900
Suzuki Vitara 1.6 GL+ outo86 kW/151 Nm6 ℓ/100 kmR352 900
Suzuki Vitara 1.6 GLX outo86 kW/151 Nm6 ℓ/100 kmR381 900
Suzuki Vitara 1.4T GLX103 kW/220 Nm5,8 ℓ/100 kmR386 900
Suzuki Vitara 1.6 GLX AllGrip86 kW/151 Nm6,2 ℓ/100 kmR390 900
Suzuki Vitara 1.4T GLX outo103 kW/220 Nm5,9 ℓ/100 kmR405 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Honda HR-V 1.5 Comfort88 kW/145 Nm6,3 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R399 400
Nissan Qashqai 1.2T Acenta85 kW/190 Nm6,2 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R408 800
Subaru XV 2.0i115 kW/196 Nm7,3 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/75 000 km omvattende instandhoudingsplan

R426 000
Mitsubishi Eclipse Cross 1.5T GLS110 kW/250 Nm7,7 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R459 995

Tussen dié mededingers is die Subaru die enigste model met vierwielaandrywing en ʼn omvattende instandhoudingsplan. Ek sou hom sterk oorweeg. Indien die vierwielaandrywing nie ʼn trekpleister is nie, is die Suzuki ʼn winskoop teen R386 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.