Padlangs: Slaggate, ’n ‘spookdorp’ en ’n reuse-kremetart

‘n Ysige lagie op ons ysterperde. Dit was -1 oornag op Haenertsburg. (Foto: Gerhard Horn)

Ek word 06:00 wakker in my kamer by The Pennefather in Haenertsburg. Die verwarmer wat gistermiddag in die kamer aan was, maak nou heeltemal sin. My lyf is warm onder die komberse, maar ek kan skaars my gesig voel – en ek is bevrees dat as ek aan my neus raak, gaan hy moontlik afbreek. Plaas ek die verwarmer deurnag aangelos het.

Ek stap uit my kamer om die drie Suzuki’s met ʼn lagie ys op te aanskou. Sjoe, maar dis darem bitter koud. Vandag skuif ek agter die stuur van die Suzuki S-Presso in. Toni is steeds my linkerhand. Ek het gister gehoor die manne praat van hulle gaan dit rustig vat met die Vitara’s sodat ons nie vir die S-Presso wegry nie. Bog. Ek sal hulle vandag wys. Ek het al ʼn paar keer tyd met die S-Presso deurgebring, en sy 1.0-driesilinderenjintjie is puik. Hy soek net omwentelinge – maar hy kan sy man staan.

Vandag trek ons weg uit Haenertsburg, gaan laai gou ʼn kospakkie af vir ʼn dame in Tzaneen wat in nood is weens die Covid-19-pandemie, kom ʼn bietjie terug en sluit weer by die res aan in die Agatha-woud. Dan Leydsdorp, en sy vreeslike interessante geskiedenis, ʼn kort sprong na die tweede grootste kremetart in Suid-Afrika en dan begin ons suidoos draai na Graskop, Sabie en uiteindelik Witrivier.

Die Suzuki S-Presso. (Foto: Andre Badenhorst)

Dis skaars 200 m van The Pennefather tot by The Eatery on Rissik. Hulle het vir ons ʼn privaat tafel gereël. Bemasker en met hande wat drup van die saniteermiddel skoffel ons die restaurant in. ʼn Cappuccino en spek en eiers agter die blad en ons is reg vir vandag se 380 km. Ons bedank die mense by The Eatery en waai by die deur uit. Ek is aangenaam verras dat toe die son sy kop uitsteek, die ysige koue sommer dadelik retireer.

Die Suzuki Ignis, S-Presso en Vitara Turbo. (Foto: Andre Badenhorst)

Ek en Toni ry ʼn entjie saam met die groep af met die George’s Valley-pad. Dis bitter mooi… die wêreld, nie die pad nie – ongelukkig. Dis ʼn laslapkombers van slaggate. Gelukkig is die S-Presso se spoor piepklein – hy dans soos ʼn ballerina tussen die slaggate deur. Dis meestal afdraande, maar ons sien in ʼn stadium 33,7 km/ℓ op die metertjie. Dis fantasties. Ons moet gou ʼn pakkie gaan afgooi in Tzaneen, en só breek ons weg van die res van die groep af. Ek sit die adres in Google Maps op my foon, en die wys dit op die raakskerm-klankstelsel wat met CarPlay toegerus is.

33.7 km/l (Foto: Brendon Staniforth)

Die Suzuki S-Presso se binneruim. (Foto: Andre Badenhorst)

Ons laai die pakkie af en draai terug Agatha toe. Daar is nou ʼn mooi stuk grondpad vir ʼn rukkie. Met die afdraai van die teer af is ek dadelik skepties. Hier is ʼn stewige bult, en hy is redelik uitgetrap deur groter bakkies. Die S-Presso stel my vinnig gerus, en maak korte mette met die grondpad. Ek kom vinnig agter die S-Presso is die gelukkigste van die drie op grond. Sy maer wieletjies en sagte vering werk puik op die grondpad.

Die Suzuki S-Presso (Foto: Andre Badenhorst)

Daar is ʼn kort stukkie teer voor ons in Leydsdorp arriveer. Ek maak gebruik daarvan om die manne se monde stil te maak oor my S-Presso se verrigting. Toni begin brieke soek aan die passasierskant van die voertuig ná ons ʼn paar trokke verbysteek teen 140 km/h. Sy is self verbaas.

Leydsdorp is vir my ʼn vreemdheid. Daar is nou net die een hotel. Hy is onlangs gerestoureer en lyk heel goed. Dit voel wel of daar moontlik vreemde spoke jou kamer in die nag sal besoek. In 1890 het oudpres. Paul Kruger Leydsdorp geproklameer. Die dorp self was ʼn Suid-Afrikaanse weergawe van die wilde weste. Rateltaai manne en vroue het hier kom goud myn. Ná daar meer goud op die Witwatersrand gevind is, het Leydsdorp stadig maar seker verdwyn. As ʼn mens nou op Google Maps kyk, is daar baie strate, name en al, maar daar is amper niks daarvan te siene nie.

 

Ons spring terug in ons S-Presso. Dis net ʼn klein sprong tot by die tweede grootste kremetart in Suid-Afrika. Sy stam het ʼn reusagtige omtrek van 28 m. Die oom wat vir ons vertel van die boom pas hom al jare op. ʼn Kremetart groei ongeveer 1 cm per jaar. Dié boom is om en by 2 000 jaar oud. Dis fantasties om te sien. Die boom was al deur die jare ʼn poskantoor, ʼn tronk en ʼn kroeg in die tyd van die Voortrekkers. Kremetartbome is gewoonlik hol in die middel. Toni klim met die leer op om te sien en te poseer vir ʼn foto. Ek het ander planne. Ek weet sy is verskriklik vreesbevange oor vlermuise. Toe sy net mooi in die knik is, gooi ek ʼn klip tussen haar bene. As sy nie ʼn paar meter in die lug was nie, het sy pens en pootjies in iemand se arms gespring. Die angsbevange kreet en tale wat my toegesnou is, het ons almal laat skater van die lag. Dis lekker om op die pad te wees.

 

Brendon Staniforth binne in die reuse-kremetart. (Foto: Toni Herbst)

Ek het al Suid-Afrika van hoek tot kant platgereis. Ek was wel nog nooit in van die dele nie, en nog bitter min op Graskop en Sabie. Die passe en natuurskoon is pragtig. Elke nou en dan kom en gaan ʼn Afrikadorpie. ʼn Mens hoor darem elke nou en dan van moeite wat gedoen word om dié gebied terug te probeer neem na sy ou sjarme en skoonheid.

Soos ons uit die Laeveld begin klim, het die S-Presso meer inspanning nodig om by die ander te bly. Iewers tussen Graskop en Sabie klim ons naby aan 2 000 m. Dis vreeslik hoog, maar sit die S-Presso’tjie terug na derde rat, en trap hom. Hy klim so saam die ander. Dis net die turboaangejaagde Vitara wat onder ons kan uitry laat die stof so staan.

Ons vang nog ʼn stukkie grondpad vir oulaas soos ons tot in Witrivier daal. Ek is verstom. Die S-Presso het al 380 km verorber sonder ʼn enkele klagte. Die wieletjietas, knapsak en rugsak in sy kattebak, en die permitte in sy paneelkissie. Hy’s klein, maar getrein. My kamer by Oliver’s in Witrivier is pragtig, maar mens verlang skielik na die sjarme van ʼn klein dorpie.

Die laaste stuk grondpad voor ons Witrivier binnegaan. (Foto: Andre Badenhorst)

Vanaand hou ons afskeid vir ons twee kollegas en met ons eie sopies in die hand trek ons op restaurant toe. Ek en Toni was saam in Indië vir die bekendstelling van die S-Presso. Daar het ons die lekkerste rum ontdek danksy ons gasheer daar. Old Monk is die rum se naam. Ek het vir ons elkeen in Januarie ʼn bottel gekoop by die lughawe toe ons vertrek. Myne is ongelukkig klaar, maar Toni sʼn is nog toe. Ons bestel ʼn klomp Coke’s en gooi vir almal ʼn Old Monk met komplimente van die Suzuki S-Presso.

In Oliver’s se restaurant. Van links: Johan Kriek (ZA Trax), Reuben van Niekerk (Leisure Wheels), Toni Herbst (Suzuki Suid-Afrika), Khulekani Dumisa (Khulekani on Wheels), Gerhard Horn (Leisure Wheels), Salaphezulu Masindane (Khulekani on Wheels), Brendon Staniforth (Maroela Media).

Die drie Suzuki’s is bewys dat ʼn mens geensins ʼn reusagtige viertrekvoertuig nodig het om ons land te verken en te waardeer nie. Spring in die kar en ry… dis kos vir die siel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae