Porsche se sportnutse beïndruk

Foto: Verskaf

Die wêreld is besig om stelselmatig deur sportnutsvoertuie oorgeneem te word.

Sedanmotors word een vir een met ʼn sportnuts vervang. In baie opsigte is dit ʼn jammerte, maar dit is wat die mark soek. Dan is daar ʼn spesifieke sportnuts wat ʼn mens nóg verder laat kopkrap – ek verwys daarna as ʼn supersportnuts.

Meeste van die premiumvervaardigers het nou al ʼn rolspeler in dié segment. Audi het S- en RS-weergawes van hul Q3, Q5 en Q8; BMW het M-weergawes van die X3, X4, X5, en X6; Jaguar en Land Rover het SV- en SVR-weergawes van die F-Pace, Range Rover Sport en Velar; Mercedes-AMG het ʼn magdom GLC, GLE en G’s in 53- en 63-weergawes; Porsche met sy Macan en Cayenne en laat ons nie die Lamborghini Urus vergeet nie.

Foto: Verskaf

Meeste mense het gemeen die Italianers sal die versoeking weerstaan, maar tog is daar ʼn Alfa Stelvio, met ʼn Quadrifoglio-weergawe en die Ferrari Purosangue wat in 2021 verwag word. Die feit bly staan – sportnutse, in elke vorm en smaak is hier om te bly.

Dit bring my by twee sportnutse wat ek ʼn wyle terug bestuur het. Porsche se Cayenne en Cayenne Coupé. Gelukkig kan ek sê – ʼn Porsche, enige Porsche word eerstens as ʼn sportmotor ontwerp. Dán kan ʼn mens kies hoe jou sportmotor moet lyk. Die gewone Cayenne is vir my bitter mooi, en die koepee een van die eerstes wat vir my mooi genoeg is. Ek is nie ʼn groot liefhebber van koepee-sportnutse nie – ek sien nie die punt nie – koop eerder die volgrootte een en kry die veelsydigheid van die groter kattebak … dit ís mos ʼn sportnuts. Tweedens het elke Porsche ʼn inherente Porsche-gevoel. ʼn Mens kan ʼn Porsche-kenner blinddoek en hy sal weet dis ʼn Porsche, of dit nou ʼn 718, 911, Macan, Cayenne óf Panamera is.

Die Cayenne se eerste ontwerpe was vir my maar lelik. Die tweede generasie was ʼn groot verbetering, maar die derde generasie het die ontwerp in die kol. Dit is nou voorwaar ʼn mooi motor. Sportief dog elegant.

Foto: Verskaf

Die binneruim is soos mens van enige Porsche verwag. Die bougehalte is verstommend. ʼn Cayenne voel asof dit ʼn atoombom kan weerstaan. Die ontwerp van die binneruim is heel konserwatief, en die ergonomie getrou aan hoe Porsche dit wil hê. Daar is altyd verskeie maniere om dieselfde funksie te doen. Een van my gunsteling-dinge van ʼn Porsche is die feit dat daar ʼn raakskerm ís, maar steeds fisieke knoppies wat ʼn mens kan draai om die volume harder of sagter te draai ensovoorts.

Die Cayenne se standaard spesifikasievlakke is indrukwekkend. Daar is dan ook opsionele ekstras sodat jy jou Porsche kan verpersoonlik nes jy hom wil hê.

Foto: Verskaf

Ek het vroeër in die berig gepraat van die feit dat ʼn Porsche eerstens ʼn sportmotor is. Die Cayenne ook. Die baba in die reeks, die Cayenne het ʼn 3,0 V6-turbo-enjin wat 250 kW en 450 Nm bied. Die S, my gunsteling in die reeks, het ʼn nuwe generasie 2.,9 V6-turbo-enjin wat 324 kW en 550 Nm bied. Dan kom die asemrowende Turbo. Hy het ʼn 4,0 V8-turbo-enjin wat 404 kW en 770 Nm bied. Gek. Daar is dan twee hibridiese modelle, die E-Hybrid wat die 3,0 V6 enjin gebruik saam met die elektriese motors – hy bied 340 kW en 700 Nm … en dan die baas van alle Cayenne’s … die Cayenne Turbo S e-Hybrid. Hy gebruik die V8 en die elektriese motors en bied ʼn allemagtige 500 kW en 900 Nm. Hy sal 100 km haal in 3,9 sekondes en aanhou draf tot 295 km/h. Verregaande.

Foto: Verskaf

Terug na die twee modelle wat ek op die proef gestel het. Die gewone 3,0 Cayenne en die 2,9 Cayenne S Coupé. Op die pad is hul ritgehalte puik. Albei modelle het nie reuse 22”-wiele met laeprofielbande gehad nie, eerder ʼn 19”-band met ʼn lekker 55-profiel. Die vering op die Cayenne is verbasend. Dit is nie hard nie, maar daar is tog amper geen bakrol en die padhouvermoë indrukwekkend vir ʼn sportnuts. Die vermoë om klank te demp in die kajuit is van ʼn baie goeie gehalte en die geraas, vibrasie en felheidvlakke is bitter min. Die Cayenne het ʼn indrukwekkende veiligheidspesifikasie met agt lugsakke standaard en nóg twee opsioneel. Daar is dan die gewone magdom veiligheidstelsels soos ABS, EBD, vastrapbeheer en so meer.

Die Cayenne is baie maklik om op te som. Dit is ʼn puik handelsmerk wat vir jou ʼn premium sportnuts bied met ware sportiewe geloofsbriewe. Mens hoef net een keer met ʼn Cayenne Turbo deur ʼn bergpas te jaag – dan maak dit alles sin. Daar’s die wat wil, en die wat kán. Die Cayenne kan.

Die reeks lyk só:

Porsche Cayenne250 kW/ 450 Nm6.2 sek245 km/h9.2 ℓ/ 100 kmR1 263 000
Porsche Cayenne Coupé250 kW/ 450 Nm6 sek243 km/h9.4 ℓ/ 100 kmR1 421 000
Porsche Cayenne S324 kW/ 550 Nm5.2 sek265 km/h9.4 ℓ/ 100 kmR1 438 000
Porsche Cayenne S Coupé324 kW/ 550 Nm5 sek263 km/h9.4 ℓ/ 100 kmR1 555 000
Porsche Cayenne e-Hybrid340 kW/ 700 Nm5 sek253 km/h3.4 ℓ/ 100 kmR1 832 000
Porsche Cayenne Turbo404 kW/ 770 Nm4.1 sek286 km/h11.9 ℓ/ 100 kmR2 353 000
Porsche Cayenne Turbo Coupé404 kW/ 770 Nm3.9 sek286 km/h11.4 ℓ/ 100 kmR2 448 000
Porsche Cayenne Turbo S e-Hybrid500 kW/ 900 Nm3.8 sek295 km/h3.9 ℓ/ 100 kmR2 950 000
Porsche Cayenne Turbo S e-Hybrid Coupé500 kW/ 900 Nm3.8 sek295 km/h3.9 ℓ/ 100 kmR3 023 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 3 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan. Die hibridiese modelle se battery dra ʼn 8 jaar/ 160 000 km waarborg.

Die kompetisie lyk só:

Lexus RX450h SE230 kW/ 335+e Nm7.7 sek

200 km/h

5.7 ℓ/ 100 km7 jaar/ 105 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 342 100
Jeep Grand Cherokee SRT344 kW/ 624 Nm5 sek

257 km/h

14 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 348 900
Jaguar F-Pace 35t AWD S280 kW/ 450 Nm5.5 sek

250 km/h

8.9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 352 532
Audi Q8 55TFSI Quattro250 kW/ 500 Nm5.9 sek

250 km/h

9.1 ℓ/ 100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 402 000
Range Rover Sport HSE P360265 kW/ 450 Nm6.6 sek

209 km/h

9.2 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 547 184
BMW X5 M50d294 kW/ 760 Nm5.2 sek

250 km/h

7.2 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 548 248
Mercedes-AMG GLE53 4Matic+320 kW/ 520 Nm5.3 sek

250 km/h

9.3 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 631 280

Dié segment is nou wyd. ʼn Mens kan kies en keur nes jy wil. Indien jy in dié klas speel, gaan toetsbestuur almal – maar die Porsche praat bitter hard met my hart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.