Suzuki GSX-R 750: ʼn Eerlike superfiets

Die Suzuki GSX-R 750. (Foto: Brian Cheyne)

Tot en met die laat 70’s was groot kapasiteit fietse meestal toegerus met tweeslagenjins. Die vierslag enjin is eers in 1976 deur Suzuki aanvaar as die pad vorentoe.

Suzuki se GS-reeks fietse was toegerus met vierslagenjins en die GS 750 was alombekend vir sy goeie hantering. Dit het natuurlik ’n goeie platform gebied vir mense soos Pops Yoshimura om groot sukses te behaal op die renbaan. Die naam Yoshimura leef vandag steeds voort in uitlaatpype wat dié naam dra.

In 1985 het Suzuki die wêreld verras en die GSX-R 750 op renbane losgelaat. Dit was ’n revolusionêre fiets met twee ronde hoofligte en ’n liggewig aluminium raam. Die enjin was gebaseer op dié van die GS 750 maar om gewig te bespaar, is lug- en olieverkoeling verkies bó waterverkoeling. Die GSX-R 750 het wedrenne oorheers en vir die renjaer Kevin Schwantz verskeie titels besorg.

Die Suzuki GSX-R 750. (Foto: Brian Cheyne)

Ná meer as 30 jaar in produksie, en vele opdaterings, het ek uiteindelik ’n kans gekry om ’n been oor die GSX-R 750 te gooi. Die fiets was vir so jaar of twee nie plaaslik beskikbaar nie omdat daar nie duidelikheid was oor die toekoms van die model nie.

Net soos met die Hayabusa het die verkope van die GSX-R 750 ook tot ’n einde gekom in Europa danksy die Europese gasuitlaat-wette, maar Suzuki kan egter nog hierdie fietse verkoop in lande waar wette nie so streng is nie. Soos hier in sonnige Suid-Afrika.

Die GSX-R 750 is ’n aantreklike fiets en het oral aandag getrek. Die fiets is baie kompak en ek het gewonder hoe ek, met my lengte, suksesvol gaan opvou om op hom te pas. Die saal self is redelik hoog en is verbasend gemaklik. Die handvatsels is baie ver vorentoe, maar die voetrusse sit baie hoog. Jy kan hulle ’n klein bietjie laer stel, maar ek twyfel of dit veel van ’n verskil sou maak. Na so dag of wat was ek baie meer gemaklik op die fiets.

Die Suzuki GSX-R 750. (Foto: Brian Cheyne)

Die instrumentasie is baie eenvoudig. ’n Groot toereteller met ’n vloeikristal eenheid langsaan is al wat jy kry. Dit wys jou ratposisie en spoed en nie veel meer nie. Die fiets dui nie eers jou brandstofvlak aan nie. Dit het wel ’n stophorlosie, dus neem ek aan dat Suzuki hierdie fiets eerder op ’n baan wil sien as op die N1. Die fiets het twee verstellings vir enjin krag. As dit reën, of die pad glad is, kan jy die krag minder maak. Anders as dit is jy op jou eie. Hierdie fiets beskik nie oor sluitwering of tolbeheer nie. Dit alleen het gemaak dat ek die GSX-R baie rustiger gery het as wat ek andersins sou, en is ook deel van die rede hoekom die Europeërs hierdie model verbied het.

Hierdie fiets is deur en deur gemaak vir werkverrigting. Voorlangs is daar radiaal gemonteerde Brembo-knypers met 310 mm skywe. Die wiele is liggewig allooi met drie speke, en hulle word op die pad gehou deur verstelbare Showa-vering. Daar is selfs ’n elektroniese demper op die stuur, wat die stuur lig maak teen laer spoed en meer weerstand bied teen hoë snelheid.

Die Suzuki GSX-R 750. (Foto: Brian Cheyne)

Op die pad was die 750 vir my meer as genoeg. Hierdie fiets is vinnig, moenie ’n fout maak nie, maar die spoed en die versnelling gee jou nie angsaanvalle soos op ’n 1 000 die geval sou gewees het nie. Die 750 sal die spoedgrens behaal voor jy hoef oor te skakel na tweede rat. Wys hom ’n draai, en die fiets sal jou daar ook nie teleurstel nie. Hy klink ook wonderlik! Ek het eers gedink die uitlaatpyp klink so mooi, tot ek besef dat die klank eintlik sy oorsprong onder die tenk het. Dit is die asemteue wat hy gee wat die GSX-R sy unieke klankbaan gee.

As jy dus kyk na ’n Superfiets, maar jou rande strek nie tot by die GSX-R 1000 nie, kan jy nie verkeerd gaan met die 750 nie. Teen R161 500 is hy aansienlik goedkoper as die 1 000, en ek moet sê, aan verrigting staan hy nie ver terug nie. Die GSX-R 750 is regtig ’n eerlike, geen-fieterjasies superfiets.

Klik hier om die produkblad te sien.

Die feite

Enjin750 cc vier-silinder
Gewig ( nat )190 kg
Kraglewering109,5 kW  @ 13 200 rpm
Wringkrag86,2 Nm @ 11 200 rpm
Tenk kapasiteit17 ℓ
Saalhoogte810 mm
PrysR161 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.