Suzuki Swift Sport bewys my verkeerd

Die Suzuki Swift Sport. (Foto: Verskaf)

Ek sê nog altyd – ʼn handrat is vinniger as ʼn outo. Ek praat nou van ʼn doodgewone wringkragomsitter outo, nie die nuwe fensie goed met dubbelkoppelaars en al sulke dinge nie. ʼn Gewone outo – soos jou pa se Cressida was.

Suzuki het verlede jaar hul puik klein Swift Sport bekendgestel. Baie van die media was redelik opgewonde, dog hartseer dat die nuwe Swift Sport nie meer ʼn atmosferiese enjin gehad het nie, maar eerder Suzuki se nuwe 1.4 Boosterjet turboaangejaagde viersilinder. Ek moet bieg dat ek wel die barbaarse omwentelinge van die voorganger mis.

By die bekendstelling het ons beperkte tyd met die outo gehad, so ek wou hom weer onder hande kry om te sien wat gaan vir wat. Vroeg vanjaar het Suzuki vir my ʼn outo gestuur. Vir die eerste keer in my lewe verkies ek in ʼn klein blitsbuksie die outo. Sjoe, ek kan nie glo ek het dit so pas geskryf nie.

Die Suzuki Swift Sport. (Foto: Verskaf)

In my kop moet ʼn sportmotor altyd ʼn handrat hê. Dis vinniger… of so het ek gedink. Wel, ek weet nie wat die Japannese met die Swift aangevang het nie, maar sy outokas is puik. As ʼn mens hom trap van die lyn af tol sy bande. Dis fantasties. Al waar die handrat uitblink wat verrigting betref, is op topspoed. Toe Mark Jones van Citizen hom getoets het, het sy masjientjies 213 km/h gekry… en die outo 206 km/h.

Verder lyk sy tye só:

StatistiekHandratAuto
0 – 100 km/h8,02 sek7,67 sek
Kwartmyl15,91 sek15,74 sek
1 km180,37 km/h177,19 km/h
Topspoed213,34 km/h206,41 km/h

 

Die Suzuki Swift Sport. (Foto: Verskaf)

Daar is een ander gebied waar die handrat vir my lekkerder is en dis as ʼn mens soos ʼn besetene deur draaie jaag. Ek verkies om self te besluit in watse rat die kar is. Verder is die outo die beter buksie in elke opsig. Suzuki se nuwe 1.4 Boosterjet bied 103 kW en 230 Nm. Die groot verbetering in wringkrag met die turbo-enjin is wat die outomatiese ratkas so puik maak.

Verder is die twee voertuie identies. Die outo was ʼn asemrowende blou kleur – beslis my keuse sou ek self een koop. Die binneruim in die Sport teenoor die res van die Swift-reeks is opmerklik van ʼn  beter gehalte. Die Swift Sport word in Japan gebou – en die res van die reeks in Indië.

Die Suzuki Swift Sport. (Foto: Verskaf)

Die sportsitplekke in die Swift is lieflik en hou ʼn mens styf vas, die enigste probleem is dat my boude nie meer só sportief is soos die Suzuki sʼn nie. Ai! Die ritgehalte in die Swift is heel hard, maar dis te verstane – die Suzuki Swift Sport het nog altyd soos ʼn knortjor gevoel. Die voordeel is wel dat die padhouvermoë uitsonderlik goed is. Wat tot die indrukwekkende padhouvermoë bydra, is die liggewig van die Swift – ʼn veeragtige 970 kg.

Die Swift Sport is maklik om op te som. Dit is ʼn puik klein, prettige luikrug. Suzuki is ʼn handelsmerk wat van krag tot krag in Suid-Afrika gaan en is tans die 7de grootste fabrikaat in Suid-Afrika. Die Sport het ook nie ʼn direkte mededinger nie. Al die ander blitsbuksies is aansienlik duurder. Ek dink vir almal wat ʼn hot hatch wil hê, is die Swift Sport ʼn puik beginpunt om jou tande op te sny.

Die reeks lyk só:

Suzuki Swift 1.2 GA handrat61 kW/113 Nm4,9 ℓ/100 kmR166 900
Suzuki Swift 1.2 GL handrat61 kW/113 Nm4,9 ℓ/100 kmR183 900
Suzuki Swift 1.2 GL outo61 kW/113 Nm4,9 ℓ/100 kmR198 400
Suzuki Swift 1.2 GLX61 kW/113 Nm4,9 ℓ/100 kmR217 900
Suzuki Swift Sport 1.4 turbo handrat103 kW/230 Nm6,1 ℓ/100 kmR317 900
Suzuki Swift Sport 1.4 turbo outo103 kW/230 Nm6,1 ℓ/100 kmR337 900

 

Die kompetisie lyk só:

Honda Jazz 1.5 Sport97 kW/155 Nm5,6 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km diensplan

R338 900
Opel Corsa GSi110 kW/220 Nm5,8 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R365 900
VW Polo GTI147 kW/320 Nm5,9 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R398 400
Mini Cooper S141 kW/280 Nm5,5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R481 386

 

Tussen dié mededingers is die Suzuki Swift Sport beslis die beste waarde vergeleke met sy mededingers. Die Polo se kwaliteit is wel van ʼn beter gehalte, maar die voertuig kos amper R100 000 meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Ek het einde laas jaar my 3de Suzuki gekoop (eers ‘n Ertiga, toe ‘n Swift auto en nou weer ‘n Ertiga auto) en hou baie van Suzuki’s. Beter waarde vir geld kry jy nie.
Net bietjie raad van ‘n persoon wat veral met Suzuki’s geleer het: Moenie die prys soos geadverteer word, betaal nie. Gaan soek rond by agentskappe. Ek het vir my Ertiga GL auto R252000.00 (alles ingesluit met alooiwiele, smash and grab en sleepstang) betaal by ‘n agentskap in Johannesburg en was nie een keer daar heen nie. Prys soos geadverteer is R258000.00 sonder kostes of extras. Ek het sowat R30 000.00 gespaar en het met finasiering gekoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.