Onafhanklike, tegnologies gevorderde SARB broodnodig vir SA se toekoms

Die Reserwebank. Foto: ANA

Laer koste en beter toegang tot belegging is fundamenteel vir groei- en werkgeleenthede. Hierdie voordele word ʼn realiteit wanneer geskikte tegnologie toegepas word. Maar tegnologie kan riskant wees en almal verkies ʼn stabiele hand wat die proses kan lei. Met hierdie wete het die Suid-Afrikaanse Reserwebank die Khoka-projek begin (In Zulu beteken khokha “om te betaal”). Hierdie projek sal die inskakeling van kettinglêer-tegnologie (Blockchain) deur die hele land se finansiële sektor dryf – ʼn hoogs proaktiewe aksie soortgelyk aan ander slim ontluikende markte soos Dubai en Singapoer.

Blockchain, ’n verspreide digitale liasseringsnetwerk, is relatief nuut. Buiten die lawaai wat kripto-geldeenhede veroorsaak het, is ʼn blokkettingstelsel (kettinglêer-tegnologie) uniek deurdat dit ʼn ingeboude stelsel het wat nie gemanipuleer kan word nie en gebaseer is op ʼn deursigtige kontrak. Verskeie stelsels bevat grootboekinskrywings wat onafhanklik van mekaar funksioneer. Enige transaksie kan dus outomaties ondersoek word deur bloot grootboekinskrywings te vergelyk. En aangesien ʼn rekenaar nie omgekoop kan word met iets in ʼn koevertjie nie, mag dit dalk ook net die einde van bedrog beteken.

Wat is so uniek en spesiaal hieraan? Andries Brink, direkteur van die onafhanklike sakeorganisasie Sakeliga, verduidelik: “Blockchain is ʼn nuwe manier om vertroue daar te stel. Dit skakel as’t ware die middelman uit deur laasgenoemde te vervang met ʼn grootboekinskrywing wat deur middel van baie verskillende masjiene veelvoudige kopieë maak om die geloofwaardigheid van iets te onderskryf. Dit versnel ooreenkomste tussen partye en, afhangend van die ontwerp, kan dit kostes drasties verlaag. Met behulp van slim kontrakte kan dit sowel kredietverskaffers as leners beskerm en ʼn optimale omgewing vir entrepreneurskap skep. Dit beveg ook korrupsie en skakel netwerke van begunstiging uit.”

Die SARB se eintlike waarde

Maar dit is nie wat hier van belang is nie. Die eintlike hoofopskrif gaan oor die SARB se proaktiewe houding. Deur middel van die Khoka-projek help die SARB om Suid-Afrika te lei na ʼn tegnologies gevorderde toekoms wat tot almal se voordeel sal strek. Dit skep die nodige stabiliteit waarop ander kan voortbou, en in ruil sal lei tot meer innovasie en werkskepping. Dit was vir lank die SARB se kernrol: om die pad vorentoe oop te maak sodat ander kan floreer op die stabiliteit wat daardeur verskaf word.

Geen wonder die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) beskou Suid-Afrikaanse banke, as dit kom by standvastigheid, tweede ter wêreld nie. Ten spyte van beduidende terugslae wat die afgelope paar jaar ondervind is, het die Suid-Afrikaanse ekonomie grotendeels daarin geslaag om sy veerkragtigheid te behou en blyk dus steeds aanloklik vir beleggers te wees. Dit is nie bloot toevallig nie, maar het inderdaad alles te make met die SARB se vaste beleid en visie.

“Die Suid-Afrikaanse nywerheid het van die beste selfregulerende liggame,” sê Brink. “Liggame soos die Banking Association of South Africa (BASA), Paying Association of South Africa (PASA) en vele subkomitees gaan onverpoos voort om uitstekende werk te verrig, sonder om weens eksterne invloede te verswak. Op die kapitale markfront is die Johannesburgse Effektebeurs (JE), South Africa’s Central Securities Depository (Strate) en ander soortgelyke instellings, steeds solied en kan effektiewe handel en kapitaalvloei fasiliteer.”

Maar dit is ʼn kultuur wat slegs kan floreer indien die SARB apolities bly. Sprake om die SARB te nasionaliseer, het die afgelope paar maande toegeneem. Daar is ʼn nuwe siening dat ʼn sentrale bank wat deur die regering beheer word, die beste manier sal wees om winste vir Suid-Afrikaners te skep. Maar sowel teoretiese as konkrete voorbeelde dui teenstrydig hiermee te wees. Die SARB se reputasie dien as bewys dat ʼn privaat sektor-entiteit in der waarheid tot almal se voordeel kan wees.

Die beste bank vir die geleentheid

Daar is onlangs skerp vinger gewys na die SARB se tekortkominge – juis met die hoop om sy onafhanklikheid te beëindig. Brink gee toe dat die SARB nie ʼn vlekkelose prestasielys het nie. Buiten die meer onlangse voorbeelde wat die African Bank en VBS insluit, kan die vlak 2-bankstaking en die 1998-minikrisis ook hier genoem word. Maar, wat wel in ag geneem moet word, is dat geen instelling tog perfek is nie.

“Dit is onmoontlik om omvattend genoeg beheer toe te pas dat geldgierigheid, soos by African Bank, en doodgewone korrupsie, soos in die geval van VBS, nie voorkom nie. Verder is daar ook geen bewyse dat genasionaliseerde banke enigsins beter daarin slaag om sulke ekstreme misdrywe te voorkom nie. As daar in ag geneem word hoe beslissend die SARB gereageer het ten opsigte van die African Bank-debakel en daarin geslaag het om laasgenoemde instelling se situasie binne twee jaar te beredder, kan die SARB eintlik as heel effektief gesien word. Daar is banke in Eerste Wêreld-lande wat nog steeds nie volkome herstel het van die 2009-krisis nie. Ons onderskat waarskynlik die effektiwiteit en stabiliteit wat die SARB ons bied.

“Deur Blockchain-tegnologieë te ondersteun, sê die SARB eintlik dat dit selfregulering voorstaan en ondersteun, gebaseer op deursigtige kontrakte as ʼn tegnologies gevorderde toevoeging tot normale bankregulering. Dit maak my opgewonde, aangesien die SARB demonstreer dat dit bereid, en ook in staat is, om te moderniseer en terselfdertyd standvastig bly in die uitvoer van sy kernverantwoordelikhede.”

Tegnologie skep positiewe verandering. Ná die vlak 2-krisis, het nuwe uitdagerbanke tegnologie begin gebruik om die vakuum te vul en ampsdraers te ontstel. Dié uitdagers is Capitec en Discovery en sluit tans ook Bidvest en Sasfin in. Hulle was bereid om te waag, maar met die wete dat die korrekte beleide en ondersteuning reeds verseker was.

Sulke ondersteuning materialiseer nie sommer net uit die bloute nie. Hierdie uitdagers benodig ʼn instelling wat oor die nodige visie en dryfkrag beskik om hulle te ondersteun – soos wat die SARB tereg doen. Blockchain is net een voorbeeld – die wêreld is vinnig besig om te verander as gevolg van verskeie digitale tegnologieë. Lande wat nie hierby kan aanpas nie, sal die agtergeblewenes van die 21ste eeu word. ʼn Tegnologies progressiewe en visionêre SARB hou die sleutel tot Suid-Afrika se toekoms.

Voorafgaande is nie moontlik indien die SARB nie onafhanklik van staatspolitiek is nie.

“Die vermoë van Suid-Afrika om self en behoorlik gereguleer te bly deur onafhanklike en uitstekende instellings soos die SARB, is ʼn ekonomiese noodsaaklikheid – een wat net so belangrik is soos die lewe self en die beskerming van alle eiendomsregte. Diegene wat ongemaklik voel oor wanbestuurde banke wat deur belastingbefondsing uit die moeilikheid gehelp word, behoort ʼn onafhanklike SARB te ondersteun, aangesien dit staan vir innovasie, vertroue en waarde.

“ ʼn Staatsbeheerde SARB sal lei tot presies die teenoorgestelde, ook bekend as die “Venezuela-tragedie,” het Brink afgesluit.

  • Hierdie artikel word met die vergunning van Sakeliga geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Arak ·

Wat ‘n wonderlike stukkie propaganda vir die reserwebank. Kom ons praat liewer oor die skep van geld uit die lug uit wat gewone mense met rente moet terug betaal en hoekom ons nie meer op ‘n goud standaard is nie. Verder kan meneer Brink ook sommer vir ons die lysie name van die bank se direksie gee, wat nie een burgers van die land is nie, wat die bank besit en bestuur.

Jan ·

Brei uit asb.uitstekende kommentaar.as die publiek maar net geweet het hoe die instansies soos die reserwebank hulle mislei en hulle spaargeld vernietig deur inflasie te skep en die waarde van die geld vernietig.alles deel van die groter program om die land te verarm…

Jan ·

Die reserwebank is maar deel van die groter program en agenda om die heldeenheid te vernietig en die land te verarm ten hunste van china

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.