Pierneef, Stern onder hamer by winterveiling

Pierneef se monumentale landskapskildery, Bosveld, met ʼn geskatte waarde van tussen R9 en R12 miljoen, is in 1953, ʼn latere tydperk in Pierneef se lewe, geskilder (Foto: Verskaf)

Pierneef se monumentale landskapskildery, Bosveld, word vanjaar as hoofitem van Strauss & Co se winterveiling opgeveil.

Dié bosveldtoneel, met ʼn geskatte waarde van tussen R9 en R12 miljoen, is in 1953, ʼn latere tydperk in Pierneef se lewe, geskilder. Dit vorm deel van ʼn enkel-eienaar se privaat versameling wat kunswerke van museumgehalte van onder meer Gregoire Boonzaier, Dylan Lewis, Alexis Preller, Gerard Sekoto, Irma Stern en Edoardo Villa insluit.

Susie Goodman, uitvoerende direkteur van Strauss & Co, sê die aanbieding van dié versameling is ʼn hoogtepunt van hul driedagveiling.

“Die omvang en diepte van hierdie versameling is verbysterend. Dit verteenwoordig die belangrikste neigings in die Suid-Afrikaanse landskapskildering en sluit uitsonderlike humanistiese figuurstudies in.”

Goodman sonder kunswerke uit van Pieter Wenning, Walter Meyer, Gerard Sekoto en Irma Stern. Dié versameling bestaan uit 45 lotte en word Dinsdag 28 Julie om 19:00 opgeveil.

Kunsbeleggers kan ook op ʼn tweede eienaar se privaat versameling bie. Dit bestaan uit 11 historiese lotte en word as ʼn gefokusde versameling beskou.

The Scout (met ʼn geskatte waarde van R1,2 miljoen), ʼn seldsame bronskunswerk van die meesterbeeldhouer Anton van Wouw (Foto: Verskaf)

The Scout (met ʼn geskatte waarde van R1,2 miljoen), ʼn seldsame bronskunswerk van die meesterbeeldhouer Anton van Wouw, asook Pierneef se Landscape with Purple Mountains (met ʼn geskatte waarde van R800 000), ʼn Oos-Kaapse landskapskildery van Erich Mayer (met ʼn geskatte waarde van R50 000) en Kennis van die Aand wat deur Marjorie Wallace geskilder is, word uitgesonder. Wallace se skildery is vir André P Brink se omstrede roman met dieselfde titel geskep toe dit in 1973 verskyn het. Die verwagte prys is tussen R50 000 en R70 000.

Volgens Strauss & Co is dit twee unieke versamelings, maar wat albei sterk gegrond is in die twintigste-eeuse Suid-Afrikaanse modernisme. Kunsbeleggers en versamelaars het dus die geleentheid om vername skilderye en beeldhouwerk huis toe te neem.

Stern se Congo Forest Scene (met ʼn geskatte waarde tuseen R4 en R6 miljoen) (Foto: Verskaf)

Strauss & Co se regstreekse winterveiling word vanaf 26 tot 28 Julie aanlyn in dieselfde formaat aangebied as die vorige een wat in Mei aanlyn plaasgevind het. Afslaers slaan die hamer in veilingslokale wat in Johannesburg en Kaapstad geleë is, terwyl bieërs in die gemak van hul huise aan die veiling deelneem. Dit word regstreeks op die Strauss-webwerf aangebied wat met Invaluable.com, die wêreld se toonaangewende internasionale platform vir die koop van kuns, antieke en versamelstukke, geïntegreer is. Die veilingsmaatskappy is toegerus met kragopwekkers wat in die geval van beurtkrag inskop.

Die inhoud van die virtuele veiling is op Strauss & Co se webwerf beskikbaar. Mense wat wil deelneem, kan aanlyn registreer en ʼn aanbod op die kunswerke maak.

Kunsliefhebbers kan solank ʼn voorsmakie kry van kunswerke wat opgeveil word. Kyk hier na die virtuele vertoonlokaal wat deur Strauss & Co gedeel is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.