Babanuus vir ‘Alles Malan’-aktrise

Greteli de Swardt en haar man, Juan, word eersdaags ‘n pienkvoet ryker. (Foto: Johann de Swardt)

Die Alles Malan– en Blood and Water-aktrise Greteli de Swardt en haar man, Juan, word eersdaags ouers van hulle eersteling.

Die egpaar wat in Februarie getroud is, het die nuus onlangs op sosiale media bekend gemaak. De Swardt is veral bekend vir haar rol as enkelma in die kykNET-reeks Alles Malan.

“As ek nou terugkyk oor die jare is dit vir my so duidelik hoe die Here my op verskeie maniere voorberei het om eendag self ‘n ma te wees,” sê De Swardt aan Maroela Media.

“Op die stel van Alles Malan was daar baie tye toe ek vir die seuntjie wat my kind gespeel soos ʼn regte mamma moes wees. Ek moes vir hom kos gee en sy doeke ruil en seker maak hy is gelukkig terwyl ek sy swaar lyfie rondgedra het omdat hy na niemand anders toe wou gaan nie.”

Haar ouers tree ook gereeld as pleegouers vir babas op en ʼn handjievol van haar vriendinne het onlangs geboorte geskenk of is tans swanger.

“Ek besef nou dat ek die laaste ruk baie deur babas omring was. Ek het self begin broeis raak, maar ek en Juan het nie ʼn spesifieke tydlyn gehad vir wanneer ons wou kinders hê nie. Ek het ʼn ruk gelede gebid en vir die Here gevra om my rustig te maak oor wanneer dit ons tyd is en ʼn maand later het ek uitgevind ek is swanger.

“Dit is vir ons só ʼn seëning omdat ons dit nie beplan het nie. Ons het altyd geweet ons wil graag ouers wees, en het geweet dat ons ouerskap sal verwelkom wanneer dit oor ons pad kom. Toe ons uitvind was ons so verras en net uiters dankbaar.”

Greteli en Juan is uiters opgewonde oor die koms van hulle eersteling. (Foto: Mandy Stander)

Die 21-jarige aktrise, wat nou sowat vier maande swanger is, vertel laggend dat sy nog vroeg in haar 40’s gaan wees wanneer hulle eersteling ʼn volwassene word.

“Dit maak my opgewonde dat ek energie gaan hê om my kind groot te maak, hoewel dit ook miskien lekker sou wees om nog ʼn jaar of twee alleentyd saam met Juan te hê. Ek glo egter elkeen se paadjie is reeds vir hom uitgelê en ek kan nie wag vir hierdie baba om te kom nie.”

Die egpaar verkies om nie voor die geboorte te weet wat die geslag van die baba is nie. “Ons wil net fokus op dit wat nou belangrik is, en babakamers en kleurskemas voel nie tans vir ons soos ʼn prioriteit nie. Ons wil net ‘n gesonde baba hê, dit is die belangrikste.”

Hulle gaan ook op ʼn paar name besluit voordat die baba gebore word. “Sodra die baba dan sy of haar opwagting gemaak het, wil ek graag hê dat Juan die naam moet kies wanneer hy die baba sien.”

Sy vertel Juan (27) se reaksie was een van “absolute opgewondenheid”. “Juan is baie avontuurlustig en hou daarvan om te reis, en ek was eers ʼn bietjie bekommerd oor hoe hy sou reageer op babanuus. Hy het my egter só verbaas en dadelik in trane van blydskap uitgebars. Ons het mekaar lank omhels en die oomblik ingeneem. Juan wou sommer dadelik na stootwaentjies begin kyk,” lag sy.

Greteli de Swardt. (Foto: Johann de Swardt)

Volgens De Swardt het sy ʼn maklike swangerskap en het sy nie te veel gesukkel met naarheid nie. “Ek het wel lus gehad vir die vreemdste kos en goed wat ek normaalweg nooit eet nie, soos vis. Ek is ook oor die algemeen mal oor avokado’s, maar ek kon in die eerste trimester glad nie avokado eet nie. My lyf het vir my laat weet wat hy nodig het om dié klein lyfie te laat groei.”

Die aktrise vertel die werklikheid van ʼn baba wat eersdaags hulle woonstel in die Kaap gaan deel, het onlangs eers ingesink.

“Ek kan nie wag nie. Ek het saam met Juan in die bed gelê met die kat tussen ons, en soos wat ek die kat gevryf het, het ek besef dit gaan een van die dae ʼn kinderlyfie wees wat tussen ons lê. Dit gaan harde werk wees, maar ek kan nie wag nie. Ek wou nog altyd ʼn mamma wees, so dit is vir ons ʼn ongelooflike seëning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.