Dié bekendes word ‘Barbies’ vir pop se 65ste verjaardag

Helen Mirren se Barbie is deur haar uitrusting by die Cannes-rolprentfees in 2023 geïnspireer. (Foto: Instagram/@barbie)

“Man, I feel like a Barbie!” kan die bekende lirieke van Shania Twain se 1997-treffer nou maar lui.

Twain, tesame met bekendes soos die Australiese popster Kylie Minogue en Oscar-wenners Helen Mirren en Viola Davis is onder ʼn paar ikoniese vroue wat nou as deel van Barbie se 65ste verjaardagviering in pop-formaat verewig gaan word.

“Al wat ek nog my hele lewe lank wou doen, is om stories te vertel van bemagtiging, onafhanklikheid en selfuitdrukking deur my liedjies, alles anders is ʼn pragtige bonus! Dit beteken baie om my verantwoordelikheid as rolmodel uit te brei na die Barbie-wêreld, dankie!” het Twain in ʼn Instagram-plasing geskryf.

Dié vierings volg op ʼn mylpaal-oomblik in die handelsmerk se geskiedenis met die 2023-uitreiking van die Barbie-fliek wat loketrekords verpletter het en meer as ʼn miljard dollar ingeoes het.

Daarbenewens het die rolprent agt Oscar-benoemings losgeslaan en sy draaiboekskrywer en regisseur, Greta Gerwig, is as die Amerikaanse tydskrif Time se vrou van die jaar aangewys.

Hoewel die oorspronklike Barbie-pop se verjaardag op 9 Maart is, sal die handelsmerk voortgaan om die wêreld se bekendste pop regdeur die jaar te vier met vennootskappe en werksessies wat daarop gemik is om jong meisies te help om beroepsbelange te verken.

Verskeie ikoniese vroue word in pop-formaat verewig. (Foto: Instagram/@barbie)

“Barbie se storie was nog nooit net oor haar nie. Dit gaan oor die ontelbare jong kinders wat sy geïnspireer het en die miljoene stories wat sy hulle help skep het,” het Krista Berger, senior vise-president van Barbie en wêreldhoof van poppe, oor die viering gesê.

Kylie Minogue. (Foto: Instagram/@barbie)

“Vir die afgelope 65 jaar het Barbie haar wêreldwye platform gebruik om meisies te bemagtig om groot te droom, hul onbeperkte potensiaal te verken en hul eie verhaal om hul toekoms te vorm. Terwyl ons hierdie mylpaal-herdenking vier, gee ons erkenning aan meer as ses dekades se stories wat Barbie help skryf het en die pop wat aanhou om almal die geleentheid te gee om te droom – en groot te droom.”

Dít het jy dalk nie oor Barbie geweet nie:

  • Barbie se amptelike verjaardag is 9 Maart 1959, die dag waarop sy in die speelgoedbedryf tydens die New York Toy Fair onthul is.
  • Die model Twiggy was die eerste bekende persoon wat met ʼn Barbie gevier is.
  • Die eerste Barbie het in haar ikoniese swart-wit gestreepte swembroek verskyn.
  • Ken, Barbie se kêrel, het in 1961 by haar aangesluit.
  • Die eerste Barbie-pop is vir $3,00 (vandag R56) verkoop.
  • Wêreldwyd word daar elke minuut meer as 100 Barbie-poppe verkoop.

Bykomende bronne: www.barbiemedia.com, Good Housekeeping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.