‘Barbie’-aanhangers sien rooi oor Oscar-benoemings

Margot Robbie en Ryan Gosling tydens “Barbie” se wêreldpremière. (Foto: Michael Tran/AFP)

Pienk was dalk verlede jaar die kleur van die jaar, maar ná Dinsdag se aankondiging van vanjaar se Oscar-benoemings, sien veral aanhangers van die Barbie-rolprent net rooi.

Hoewel dié lokettreffer, wat handel oor die wêreld se bekendste langbeenpop, altesaam agt benoemings losgeslaan het, gons sosiale media behoorlik oor die Barbie-aktrise Margot Robbie en regisseur Greta Gerwig, se uitsluiting in die toekennings se topkategorieë vir beste aktrise en beste regisseur.

Dít terwyl America Ferrera, die Latyns-Amerikaanse aktrise bekend vir haar rol in die TV-reeks, Ugly Betty, en Ryan Gosling, wat lewe aan Barbie se kêrel, Ken, gegee het, wel met Oscar-benoemings vir hul onderskeie Barbie-rolle spog.

Gerwig is egter as draaiboekskrywer benoem vir beste verwerkte draaiboek, terwyl Robbie as ʼn vervaardiger van die fliek benoem is vir beste rolprent.

Twee van die fliek se liedjies, insluitende die treffer “I’m just Ken”, is ook vir beste lied in ʼn rolprent benoem.

Tog het talle mense hul misnoeë veral op X (voorheen Twitter) met die hutsmerk #Barbiesnub gedeel, met baie wat Gosling se benoeming as ironies bestempel – veral gegewe die fliek se storielyn rakende feminisme en vroueregte.

Die aktrise Margot Robbie tydens die ‘Barbie’-vertoning in Seoul. (Foto: Jung Yeon-Je/AFP)

“Miskien in Barbie-land is sy [Barbie] alles en hy is net Ken. Maar in die Oscar-wêreld is die wenner… patriargie!” het een verbruiker geskryf.

“Ondersteunende karakters kry ʼn Oscar-knik, maar die twee vroue wat lewe aan Barbie gegee het, kry niks? Iets voel af,” het ʼn ander gesê.

Selfs Gosling en Ferrera het hul sê oor die Academy se uitsluiting van Gerwig en Robbie gesê.

“Daar is geen Ken sonder Barbie nie, en daar is geen Barbie-fliek sonder Greta Gerwig en Margot Robbie nie. Ek is teleurgesteld om die minste te sê,” het die akteur in ʼn verklaring oor sy benoeming gesê.

Margot Robbie, Greta Gerwig en America Ferrera tydens ‘n onlangse toekenningsgeleentheid. (Foto: Instagram/@barbiethemovie)

Gosling het egter bygevoeg dat hy “so bly” is vir Ferrera en die ander “ongelooflike kunstenaars wat hul talente bygedra het om hierdie so ʼn baanbrekersrolprent te maak.”

Ferrera het op haar beurt gesê Robbie het “miskien mense geflous om te dink dat die werk wat sy vir die rol gedoen het, maklik was.”

“Margot is egter meer van ʼn towenaar as ʼn aktrise. Sy bring soveel hart en humor en diepte en vreugde en pret na die karakter. In my boek is sy ʼn meester.”

Ryan Gosling as ‘Ken’. (Foto: Twitter/Barbie The Movie)

Ander bekendes, insluitende die Full House-akteur John Stamos, het sy steun op sosiale media aan Robbie en Gerwig uitgespreek.

“Hierdie fliek het nie net diep aanklank by mense gevind nie, maar het ook meer as ʼn miljard dollars verdien. Tog, in ʼn ironiese wending, is albei vroue deur die Academy afgekeur. Almal, gaan kyk weer Barbie vanaand!” het Stamos geskryf in ʼn plasing saam met ʼn video waarin hy en sy vrou ʼn toneel uit die rolprent namaak.

Ander het daarop gewys dat die Oscars selde komiese rolprente benoem, en dat sukses by die loket nie ʼn aanduiding van sukses by toekenningsgeleenthede is nie.

Oppenheimer, wat met 13 benoemings lei, is die gunsteling om die toppryse by die 96ste Oscar-toekennings op 10 Maart los te slaan.

Bykomende bronne: BBC, Sky News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.