Foto’s: Sangeres spog met nuwe baba

Charlize Berg en haar man, Warren Linden. (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse popsangeres Charlize Berg en haar man, Warren Linden, se babaseuntjie is Maandag gebore.

Die seuntjie heet Kailer Noah John Linden en het 3,4 kg geweeg en was 51,5 cm lank by geboorte. Hy het ʼn ouer sussie, Aleiah Rose, wat in April 2018 gebore is.

Berg het in Oktober verlede jaar bekend gemaak dat sy swanger is. Sy het in Januarie vanjaar aangekondig dat sy ʼn seuntjie verwag.

“Ons name is ons identiteit, wat die mag van ons lot bepaal. Mag jy met vrymoedigheid en dapperheid in joune stap, my geliefde Kai,” het sy toe op Instagram geskryf.

Sy het in 2019 in ʼn onderhoud met Maroela Media oor ma-wees gepraat en vertel dat sy, nadat sy ʼn ma geword het, leer om nie te hard op haarself te wees nie.

“Ek dink alle mammas moet besef hulle is goed genoeg. Dit voel partykeer vir my, en ek is seker vir ander mammas ook, asof ek ʼn slegte ma is omdat dit soveel moeiliker is om al die balle in die lug te hou as wat mense daar buite dink.

“Ek dink ons as mammas is ongelooflik hard op onsself. Ons almal moet net onthou dat jy goed genoeg is, selfs wanneer jy regtig net in ʼn hoek wil gaan huil of in die spenskas wil klim. Onthou net jy doen ʼn briljante werk om die klein mensie reg te kry vir die wêreld,” het sy gesê.

Berg en Linden is in April 2016 getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.