Greteli gons oor haar ‘grootste verrassing’

Greteli de Swardt het ma geword. (Greteli de Swardt/Instagram)

“Ek was 99% seker dat ons ’n seuntjie gaan kry, sy is ’n ongelooflike verrassing!”

Só gesels Greteli de Swardt, aktrise en ma, oor haar en haar man, Juan, se babatjie, Alé, wat ’n week gelede gebore is.

Dié egpaar het gekies om eerder nie die geslag van hul eersteling voor geboorte uit te vind nie, ’n besluit waarvoor Greteli vandag baie dankbaar is.

“Ek bederf altyd verrassings vir myself,” erken sy.

“Ek het selfs geweet wanneer my man my gaan vra om te trou. Dit was lekker om vir eens behoorlik verras te wees.”

Sy beskryf die oomblik wat sy en Juan uitgevind het dat hulle ’n dogtertjie ryker geword het, as die hoogtepunt van die hele geboorteproses. Die egpaar het immers tot op die dag voor Alé se geboorte nog nie eers op ’n naam vir ’n dogtertjie besluit nie.

Greteli erken dat sy eintlik natuurlik wou kraam, maar dat Alé in ’n posisie gelê het wat dit lewensgevaarlik sou maak om daarmee voort te gaan. Hulle het daarom eerder op ’n keiser besluit.

“Ek was bang dat dit koud en klinies sou wees, maar dit het elke verwagting oortref.

Greteli en Juan toe Alé die eerste keer gehuil het. (Foto: Greteli de Swardt/Instagram)

“My man was die heeltyd by my, hy het my hand vasgehou en my in die oë gekyk.”

Greteli erken dat sy en haar man nie genoeg van hul “droombaba” kan kry nie.

“Ek weet dat pasgebore babatjies baie slaap, so ek laat nie myself mislei nie – ek mag dalk oor drie weke les opsê.

“Maar vir nou geniet ons elke liewe oomblik.”

Sy erken dat sy ma-wees op ’n natuurlike, rustige en gemaklike wyse aanpak. Sy het grootgeword in ’n huis waar daar gereeld babatjies was. Nie net was sy reeds sewe jaar oud toe haar sussie gebore is nie, maar haar ouers het deur die jare heen as pleegouers vir talle klein kinders en babas opgetree.

Dit is dus nie vir haar ’n vreemde idee om nou na ’n babatjie van haar eie om te sien nie. Sy wil ook nie Google te veel raadpleeg om haar in hierdie nuwe fase van haar lewe by te staan nie.

Greteli net voordat sy geboorte geskenk het. (Foto: Greteli de Swardt/Instagram)

“In hierdie week het ek al so baie by klein Alé geleer.

“Vroue het duisend jaar terug babas grootgemaak sonder boeke en die internet, ek behoort dit ook te kan doen. Tensy daar ’n uiterste is, gaan ek vir my lyf en baba luister.”

Greteli is dankbaar vir die lekker en gemaklike swangerskap wat sy gehad het en besef dat dit nie die ervaring van elke ma is nie.

“Ek het baie oor myself en my lyf geleer in my swangerskap. Dit is ongelooflik wat mens se lyf kan doen en dat jy ’n mens kan laat groei. Die Here is wonderlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.