Hoe lyk Hollywood: ‘Friends’-foto het weer internet gaande; sangeres onthul molestering

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Tyler Gwozdz en Hannah Brown se ontmoeting tydens 'The Bachelorette'. Hoewel sy hom gekies het vir die eerste afspraak, het hy later self die program verlaat. (Foto: Instagram/Tyler Gwozdz)

Tyler Gwozdz en Hannah Brown se ontmoeting tydens ‘The Bachelorette’. Hoewel sy hom gekies het vir die eerste afspraak, het hy later self die program verlaat. (Foto: Instagram/Tyler Gwozdz)

‘The Bachelorette’-deelnemer sterf

Tyler Gwozdz, die man wat aan die jongste seisoen van The Bachelorette om Hannah Brown se hart meegeding het, is Woensdag in die ouderdom van 29 dood.

Volgens berigte was Gwozdz reeds sedert 13 Januarie in die intensiewe eenheid van ʼn hospitaal in Florida in die VSA nadat hy vermoedelik ʼn oordosis dwelms geneem het.

Gwozdz se mededeelnemers het hul medelye op sosiale media betoon. Garrett Powell, wat ook aan Brown se seisoen deelgeneem het, het Gwozdz as ʼn “goeie vriend” bestempel. “Hy het niks behalwe respek teenoor die res van ons in die [Bachelor-] huis betoon nie, en hy sal gemis word,” het Powell geskryf.

Die vervaardigers van die uiters gewilde werklikheidsreeks het ook hul hartseer op die Bachelor Nation-blog uitgespreek.

“Ons harte is gebroke ná die tragiese nuus oor Tyler se dood. Ons gedagtes is met die Gwozdz-familie en sy vriende.”

Brown het nog nie kommentaar gelewer nie.

Jessica Simpson maak hart oop oor molestering

Jessica Simpson en haar man, Eric Johnson, tydens die feesseisoen saam met hulle kinders, Maxwell, Ace en Birdie Mae. (Foto: Instagram/Jessica Simpson)

Jessica Simpson en haar man, Eric Johnson, tydens die feesseisoen saam met hulle kinders, Maxwell, Ace en Birdie Mae. (Foto: Instagram/Jessica Simpson)

Die blondekop Amerikaanse sangeres Jessica Simpson het vandeesweek onthul dat sy as kind gemolesteer is en het gebieg dat dié voorvalle gelei het tot haar alkohol- en pilverslawing.

In ʼn uittreksel van Simpson se nuwe memoires, Open Book, wat in die People-tydskrif gepubliseer is, erken die 39-jarige popsangeres en aktrise sy het vir jare alkohol en pille misbruik as gevolg van haar kindertyd-trauma.

“Ek was besig om myself dood te maak met die alkohol en pille,” het sy gesê. Sy het egter in 2017 besef sy moet haar drinkery staak toe sy besef het dit “vererger dinge”.

“Dit was maklik om die drank op te gee. Ek was kwaad vir die bottel. Vir hoe dit my toegelaat het om selfvoldaan en gevoelloos te bly,” het Simpson gesê.

Simpson is in 2014 getroud met die voetbalspeler Eric Johnson en hulle het drie kinders, ʼn dogter Maxwell, ʼn seun, Ace, en nog ʼn dogter, Birdie Mae.

Sy het verder onthul dat sy op sesjarige ouderdom deur die dogter van ʼn familielid seksueel misbruik is. “Dit sou begin met rugkieliery en lei tot dinge waarmee ek uiters ongemaklik was,” het Simpson vertel.

“Ek wou my ouers vertel. Ek was die slagoffer, maar op ʼn manier het dit gevoel of ék verkeerd was.”

‘Friends’ se ‘laaste ete’ het aanhangers gaande

Die sterre in 'n toneel uit 'Friends'. (Foto: IMDb)

Matt le Blanc, David Schwimmer, Matthew Perry, Lisa Kudrow, Jennifer Aniston en Courteney Cox in ‘n toneel uit ‘Friends’. (Foto: IMDb)

Courteney Cox (55), bekend om haar rol as Monica Geller in die komediereeks Friends, het ʼn foto op Instagram gedeel wat nog nooit voorheen deur aanhangers gesien is nie.

“‘Die laaste ete’ voor ons ‘The Last One’ geskiet het op 23 Januarie 2004. #tbt #friends,” het die aktrise onderaan die foto geskryf.

Op die foto sit Cox, Lisa Kudrow (Phoebe Buffay), Matthew Perry (Chandler Bing), Jennifer Aniston (Rachel Green), David Schwimmer (Ross Geller) en Matt le Blanc (Joey Tribbiani) almal saam om ʼn tafel met ʼn reusefeesmaal voor hulle op die tafel.

Die foto, wat nog nie eens 24 uur op Instagram pryk nie, het reeds meer as 2 miljoen trefslae en bykans 23 000 kommentare.

In Oktober verlede jaar het Aniston haar eerste foto op Instagram gedeel van die groep wat saamgekuier het vir die 25ste herdenking van die eerste episode van Friends wat op 22 September 1994 uitgesaai is.

Dit was die eerste keer wat al ses vriende saam op ʼn foto verskyn sedert die laaste episode van die tiende seisoen in 2004 uitgesaai is.

Bronne: E! News, People.com, BBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VanAfrika ·

Dit was n awesome program, wens dit het nooit geindig nie.

Dolf ·

As ons op 144 maar net “genuine” komedie gehad het en nie die laevlak programme waarvoor ons ten duurste betaal nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.