Hoe lyk Hollywood: ‘Glee’-ster steeds vermis; Kanye West het Covid-19 gehad

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Glee-ster verdwyn in water

Naya Rivera (Januarie 2018) (Foto: Willy Sanjuan/Invision/AP, File)

Die voormalige Glee-ster Naya Rivera, wat Woensdag as vermis aangemeld is nadat sy verdwyn het in die water by ʼn meer in die suide van Kalifornië in die VSA, is nog nie gevind nie.

Die plaaslike televisiestasie KNBC het berig die 33-jarige aktrise het Woensdag ʼn pontonboot (pontoon boat) by die meer gehuur. Haar vierjarige seun, Josey, is ure later met ʼn reddingsbaadjie aan in die boot aangetref.

Josey het glo aan ondersoekbeamptes gesê sy ma het in die water ingeduik, maar net nooit weer opgekom nie. Rivera se identifikasiebewys is in die boot gevind.

Kapt. Eric Buschow, woordvoerder vir die Ventura County-polisie, het gesê daar is tans geen bewyse van vuilspel nie en dat die polisie ʼn saak van moontlike verdrinking ondersoek.

Naya Rivera (Februarie 2016) (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP, File)

Rivera het bekendheid verwerf vir haar rol as Santana Lopez, ʼn rasieleier in Ryan Murphy se musiekkomediereeks Glee, wat van 2009 tot 2015 uitgesaai is. Glee is vir 32 Emmy-toekennings en nege Golden Globe-toekennings benoem.

Rivera, wat in 113 episodes verskyn het, is benoem vir ʼn Grammy-toekenning saam met haar medesterre vir hulle weergawe van Journey se “Don’t stop believin’”. Rivera is in 2017 met Ryan Dorsay, Josey se pa, getroud. Die egpaar is in 2018 geskei.

Haar ekskêrel, Mark Salling, het in 2018 selfdood gepleeg nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte wat met kinderpornografie verband gehou het. Nog ʼn medester, Cory Monteith, is in 2013 dood aan ʼn oordosis drank en heroïen.

Dr. Phil se seun, bekende televisiester verloof

Morgan Stewart en Jordan McGraw. (Foto: Instagram/Jordan McGraw)

Die sanger Jordan McGraw, seun van die bekende sielkundige en televisiepersoonlikheid Dr. Phil, het Saterdag verloof geraak aan Morgan Stewart.

Stewart is self ʼn bekende televisiepersoonlikheid en bekend vir haar verskyning op die E! Entertainment-program The Rich Kids of Beverly Hills, asook as aanbieder van die modeprogram Necessary Realness.

Dr. Phil en sy vrou, Robin, het dit duidelik gemaak hulle is verheug oor die nuus. “Ons is trots om jou familie te noem. Ons is lief vir julle albei,” het hy op Stewart se Instagram-plasing oor die verlowing geskryf.

Sy het ʼn foto van haarself tydens die tradisionele “Fourth of July”-viering in die VSA geplaas, waar ʼn verloofring aan haar ringvinger blink, met die byskrif: “Vuurwerke!”. McGraw het ʼn foto geplaas met die onderskrif: “Baie om oor te glimlag”.

Stewart (32) en McGraw (34) is nog net ses maande lank ʼn paartjie, maar reeds langer as ʼn dekade goeie vriende. Stewart het in Augustus verlede jaar aangekondig dat sy en haar eksman, die sakeman Brendan Fitzpatrick, se paaie gaan skei.

Kanye West onthul hy het Covid-19 gehad

Kanye West (November 2019) (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Die musikant en sakeman Kanye West het in ʼn onlangse onderhoud met Forbes-tydskrif onthul dat hy in Februarie vanjaar positief getoets het vir die nuwe koronavirus (Covid-19).

“Koue rillings, bibber in die bed, warm storte neem, terwyl ek video’s kyk wat vir my wys hoe ek veronderstel is om gesond te word,” het West oor sy ervaring met die virus gesê.

“Ek onthou iemand het vir my gesê [die kletsrymer] Drake het die koronavirus en my antwoord was: ‘Drake kan nie sieker as ek wees nie’.”

Die omstrede West, wat vroeër aangekondig het dat hy vanjaar gaan deelneem aan die VSA se presidentsverkiesing, het ook sy standpunt oor ʼn potensiële entstof vir die koronavirus gestel.

“Daar is so baie van ons kinders wat ingeënt en verlam gelaat word … so wanneer hulle sê die enigste manier om Covid-19 te keer is deur ʼn inenting, is ek baie versigtig. Dit is die merk van die dier,” het hy gesê.

Bronne: Washington Post, E! News, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die Wolf ·

KW het werklik n klap van die windmeul weg. Sien hom as President!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.