Hoe lyk Hollywood: Johnny Depp verloor lastersaak, rol in fliek; ‘Friends’-akteur verloof

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Johnny Depp verloor lastersaak, rol in fliek

Links: Johnny Depp. (Foto: Eric Gaillard/Pool/AFP)
Regs: Amber Heard. (Foto: Daniel Leal-Olivias/AFP)

Die Deense akteur Mads Mikkelsen gaan Johnny Depp vervang as die towenaar Gellert Grindelwald in die Warner Bros-franchise Fantastic Beasts.

Dit kom nadat Depp se aansoek om te appelleer teen ʼn uitspraak deur die hooggeregshof, wat beslis het dat hy sy eksvrou Amber Heard aangerand het, afgekeur is.

Depp het die News Group Newspapers (NGN), uitgewer van The Sun, gedagvaar vir laster oor ʼn berig wat in 2018 na hom verwys het as ʼn “vroueslaner”.

Regter Andrew Nichol het die saak vroeër vandeesmaand uitgegooi en gesê die appèl sou “geen redelike vooruitsig van sukses” hê nie.

Die regter het die akteur tot 7 Desember tyd gegee om direk by die appèlhof aansoek te doen. Depp moet ook die eerste paaiement van NGN se byna £630,000 aan regskoste betaal.

Depp het in 2016 ʼn kort verskyning as Grindelwald in Fantastic Beasts and Where to Find Them gemaak en het in 2018 dié rol voortgesit in Fantastic Beasts: The Crimes of Grindelwald.

Eddie Redmayne en Jude Law is ook in die flieks te sien. Die flieks is geskoei op die boeke van JK Rowling, skrywer van die Harry Potter-reeks.

Taylor Swift onthul identiteit van misterieuse medeskrywer

Links: Joe Alwyn. (Foto: Jon Kopaloff/Getty Images North America/Getty Images via AFP)
Regs: Taylor Swift (Foto: Neilson Barnard/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die musikant Taylor Swift het onthul dat William Bowery, die misterieuse medeskrywer in haar nuwe album Folklore, haar kêrel, die akteur Joe Alwyn, is.

“William Bowery is Joe,” het die Amerikaanse sangeres onthul in ʼn nuwe rolprent op Disney+, waarin sy liedjies in die album sing en die vervaardiging daarvan bespreek.

Bowery kry erkenning as skrywer van die liedjies “Betty” en “Exile”. Folklore is vir volgende jaar se Grammys benoem vir album van die jaar en beste popalbum terwyl Swift se enkelsnit “Cardigan” sal meeding vir liedjie van die jaar en beste solopop-aanbieding.

Swift en die musikant Bon Iver is benoem vir beste popduo of groepuitvoering vir die liedjie “Exile”.

Aanhangers het gespekuleer dat William Bowery ʼn skuilnaam kan wees vir die Britse akteur, met wie Swift al vir drie jaar in ʼn verhouding is.

Die 30-jarige Swift het haar aanhangers verras toe sy in Julie die uitreiking van Folklore, wat opgeneem is in isolasie tydens die Covid-19-pandemie, aangekondig het.

In Folklore: The Long Pond Studio Sessions, wat Woensdag op Disney+ uitgereik is, bespreek die sanger die liedjies op haar agtste ateljeealbum met vervaardigers Jack Antonoff en Aaron Dessner.

Antonoff and Dessner het reeds die geheim geweet: “William Bowery is Joe, soos ons weet,” het Swift vir hulle gesê.

Matthew Perry is verloof

Matthew Perry. (Foto: Noam Galai/Getty Images vir “A Doll’s House Part 2″/AFP)

Die Friends-akteur Matthew Perry (51), bekend om sy rol as Chandler Bing in dié ikoniese sitkom, is verloof aan die talentbestuurder en vervaardiger Molly Hurwitz.

Perry het die nuus aan People bevestig. “Ek het besluit om verloof te raak. Gelukkig gaan ek tans uit met die ongelooflikste vrou op die planeet.”

Perry en Hurwitz is sedert 2018 in ʼn verhouding.

Bronne: People.com, E! News, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.