Hoe lyk Hollywood: Kobe se vrou praat; susters saam swanger en Ozzy praat oor siekte

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Ozzy Ozbourne praat oor Parkinsons-diagnose

Ozzy Osbourne en sy vrou Sharon tydens vanjaar se Grammy-toekennings. (Foto: Instagram)

Ozzy Osbourne en sy vrou Sharon tydens vanjaar se Grammy-toekennings. (Foto: Instagram)

Die 71-jarige rocker Ozzy Osbourne, wat onlangs op die geselsprogram Good Morning America bekend gemaak het dat hy aan Parkinson se siekte ly, het vandeesweek sy hart oopgemaak oor sy siekte.

Die Black Sabbath-voorsanger het aan die tydskrif Kerrang! gesê hoewel sy gesondheid nou op die voorgrond in sy lewe is, peins hy nie oor sy lot nie.

“Dink ek ooit oor wanneer ek sal heengaan? Ek dink daaroor, maar ek is nie bekommerd daaroor nie. Ek gaan nie oor 15 jaar of wat nog hier wees nie, nie veel langer nie, maar ek is nie bekommerd daaroor nie,” het hy gesê.

Osbourne het aanhangers geskok met die bekendmaking van sy siekte in ʼn hartroerende onderhoud saam met sy vrou, Sharon Osbourne.

Bella-stoeisusters saam swanger

Nikki en Brie Bella se swangerskappe is in die People-tydskrif aangekondig met eksklusiewe foto's. (Foto: Instagram)

Nikki en Brie Bella se swangerskappe is in die People-tydskrif aangekondig met eksklusiewe foto’s. (Foto: Instagram)

Die uitgetrede WWE-superstersusters, Nikki en Brie Bella, is albei swanger. Volgens berigte is die tweelingsusters se verwagte datums slegs ʼn week en ʼn half uitmekaar.

Nikki, wie se regte naam Stephanie Nicole Garcia-Colace is, en haar verloofde, Artem Chigvintsev, verwag hul eersteling. Nikki het vir Chigvintsev ontmoet toe hy haar dansmaat op die program Dancing with the Stars was.

Sy was vroeër verloof aan die stoeisuperster en akteur John Cena, maar hul verlowing is verbreek, glo omdat Cena nie kinders wou hê nie.

Haar suster, Brie, wie se regte naam Brianna Monique Danielson is, het ʼn tweejarige dogtertjie saam met die WWE-rofstoeier Daniel Bryan. Hulle is in 2014 getroud.

‘Bachelor in Paradise’ se Kendall en Joe uitmekaar

Kendall Long en Joe Amabile van 'Bacherlor in Paradise' se paaie het geskei. (Foto: Instagram)

Kendall Long en Joe Amabile van ‘Bacherlor in Paradise’ se paaie het geskei. (Foto: Instagram)

Kendall Long en Joe Amabile, of Grocery Joe soos hy onder Bachelor in Paradise-aanhangers bekend staan, is uitmekaar. Dié paartjie was sowat ʼn jaar saam nadat hulle tydens die vyfde seisoen van hierdie uiters gewilde liefdeswerklikheidsreeks ontmoet het.

Amabile gaan glo na sy tuisdorp in Chicago terugtrek terwyl Long in haar tuisdorp van Los Angeles sal aanbly.

Long was eers in Arie Luyendyk Jr. se seisoen van The Bachelor te sien terwyl Amabile op Becca Kufrin se seisoen van The Bachelorette te sien was.

Kobe Bryant se vrou maak oop ná ongeluk

Vanessa Bryant, Kobe Bryant se vrou, het Woensdag dié gesinsfoto gedeel. (Foto: Instagram)

Vanessa Bryant, Kobe Bryant se vrou, het Woensdag dié gesinsfoto gedeel. (Foto: Instagram)

Die basketbalspeler Kobe Bryant se vrou het Woensdag vir die eerste keer haar hart oopgemaak nadat haar man en hul 13-jarige dogter, Gianna, Sondagoggend in ʼn helikopterongeluk dood is. Sewe ander passasiers het ook in die ongeluk gesterf.

Vanessa Bryant het in ʼn Instagram-verklaring gesê sy en haar man se ander drie dogters wil dankie sê aan die miljoene aanhangers wat hul medelye die afgelope week teenoor die gesin betoon het.

“Dankie vir al die gebede. Ons het dit beslis nodig. Ons is heeltemal verpletter deur die skielike verlies van my liefdevolle man, Kobe, die ongelooflike pa van ons kinders, en my pragtige, lieflike Gianna – ʼn liefdevolle, wonderlike dogter en ongelooflike suster vir Natalia, Bianka en Capri.”

Sy het ook bygevoeg dat hulle ook verpletter is saam met die families wat ook hul geliefdes in die ongeluk verloor het.

“Ons deel op ʼn intieme vlak in jul hartseer.”

Bronne: Sky News, CNN, E! News, New York Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.