Hollywood: Britse aktrise neem Zim-naam aan; ‘Harry Potter’-ster sterf

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Britse aktrise neem weer Zimbabwiese naam aan

Thandie Newton. (Foto: Chris Delmas / AFP)

Die Britse aktrise Thandie Newton sê sy gaan na dekades in Hollywood voortaan die oorspronklike spelling van haar Zimbabwiese doopnaam, Thandiwe, aanneem.

Newton, dogter van ʼn Britse laboratoriumtegnikus en ʼn Zimbabwiese prinses, het aan die tydskrif Vogue gesê die spelling van haar naam, wat “geliefd” in dié Afrikaland se Shona-taal beteken, is verander toe sy in 1991 as 16-jarige aktrise haar eerste rol in die rolprent Flirting gekry het.

Die 48-jarige Westworld-ster sê egter nou sy gaan dit terug verander. “Dit is my naam. Dit was nog altyd my naam. Ek neem terug wat myne is,” het sy in ʼn voorbladonderhoud gesê, wat in die Mei-uitgawe van die Britse tydskrif sal verskyn.

Newton, wat lank reeds ʼn aktivis vir vroueregte is en wat ook seksueel aangerand is, is uitgesproke oor die rassisme en seksuele misbruik in Hollywood.

In die onderhoud met Vogue het sy gesê Flirting se regisseur John Duigan het haar gevra om ʼn “’n bietjie donkerder te wees” vir die rol, en het bewerings herhaal dat Duigan (toe 39) ʼn “gedwonge” seksuele verhouding met haar aangeknoop het.

Sy het ander neerhalende insidente van rassisme en seksuele misbruik herroep, waaronder ʼn regisseur wat haar mishandel het en toe die beeldmateriaal vir ander gewys het. “Ek was getraumatiseerd,” het sy aan die tydskrif gesê.

Sy het ook eerlik oor haar stryd teen eetsteurnisse gepraat en dit die “afgryslikste dans wat jy kan doen met iets wat veronderstel is om jou lewe te gee” genoem.

“Swart vroue is werklik die verbinding waar alles oorvleuel. Dink net aan wat alles anders die potensiaal het om gesond te raak as ons ondersteuning en versorging aan swart vroue bied,” het sy gesê.

Kortfliek met boodskap oor dieremishandeling gemaak

Rolprentmakers en akteurs in Hollywood het hande gevat met die Humane Society International om ʼn stop-aksie-animasiekortfliek, Save Ralph, te vervaardig.

Dié kortfliek het ʼn kragtige boodskap teen die toetsing van kosmetiese produkte op diere dwarsoor die wêreld. Hoewel die praktyk in meer as 40 lande verban is, is dit steeds wettig in die meeste lande en is daar selfs ʼn oplewing in sommige streke, met duisende diere wat blootgestel word aan lyding en die dood.

Akteurs soos Taika Waititi, Ricky Gervais, Zac Efron, Olivia Munn, Pom Klementieff, Tricia Helfer en vele meer wil saam met die HSI verandering teweeg bring deur die stemme aan die karakters in Save Ralph te gee.

Spencer Susser, skrywer en regisseur ook bekend vir rolprente soos Heshner en The Greatest Showman, en vervaardiger Jeff Vespa het saam met die Arch Model-ateljee van poppemaker Andy Gent gewerk om lewe aan Save Ralph te gee.

Die fliek word ook in Portugees, Spaans, Frans en Viëtnamees uitgereik.

In die fliek word ʼn onderhoud gevoer met die HSI se woordvoerder, die haas Ralph (wat deur Taika Waititi vertolk word), oor sy daaglikse roetine as ʼn “toetser” in ʼn toksikologielaboratorium.

Jeffrey Flocken, president van die HSI, het gesê: “Save Ralph maak ons bewus daarvan dat diere steeds ly vir kosmetiese produkte en dit is nou die tyd vir ons om saam te staan en dit wêreldwyd te laat verban. Vandag het ons ʼn oorvloed van betroubare, diere-vriendelike produkte tot ons beskikking wat die diere se veiligheid verseker. Daar is dus geen verskoning om diere soos Ralph te misbruik om te ly ten einde kosmetiese produkte te toets nie.”

Harry Potter-ster sterf

Paul Ritter. (Foto: Facebook/Friday Night Dinner)

Die Britse akteur Paul Ritter, wat onder meer in 2009 in Harry Potter and the Half-Blood Prince die rol van Eldred Worple vertolk het, is Maandag dood.

Hy was 54. Die akteur het ʼn breingewas gehad.

“Dit is met groot hartseer dat ons bevestig dat Paul Ritter gisteraand oorlede is. Hy het rustig by sy huis, met sy vrou, Polly, en seuns, Frank en Noah, aan sy sy, gesterf,” het sy woordvoerder aan NBC gesê.

“Paul was ʼn uitsonderlike en talentvolle akteur wat ʼn groot verskeidenheid van rolle op die skerm en op die verhoog vertolk het. Hy was intelligent, gaaf en baie snaaks. Ons sal hom baie mis.”

Ritter het ook in die James Bond-fliek Quantum of Solace (2008) verskyn. Hy het sedert 2011 die rol van Martin Goodman in die reeks Friday Night Dinner vertolk.

Bronne: AFP, HSI.org, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.