Hollywood: Oorsaak van Mej. VSA se dood bekend; ‘GOT’-aanhangers na Ierland genooi

Maroela Media bied jou ‘n opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Oorsaak van voormalige Mej. VSA se dood bekend

Cheslie Kryst. (Foto: Instagram)

Die skielike dood van die voormalige Mej. VSA en E!-aanbieder Cheslie Kryst het skokgolwe oor die wêreld veroorsaak.

Kryst (30) is dood nadat sy Sondagoggend uit ʼn gebou van 60 verdiepings in New York getuimel het. Die skoonheidskoningin is op die toneel dood verklaar.

ʼn Lykskouing het intussen Maandag bepaal dat Kryst selfmoord gepleeg het. Die oorsaak van haar dood is Dinsdag aan People bevestig.

Kryst, ʼn prokureur wat ook ʼn MBA-graad gehad het, is in 2019 as Mej. VSA gekroon nadat sy as Mej. Noord-Carolina aangewys is.

Sy en drie ander vroue – Nia Imani Franklin (Mej. Amerika), Kaleigh Garris (Mej. Teen USA) en Zozibini Tunzi (Mej. Heelal) – het daardie jaar skoonheidskompetisie-geskiedenis gemaak deur die eerste groep swart vroue te wees wat al vier groot titels in ʼn enkele jaar ingeoes het.

Cheslie (regs) en Zozibini Tunzi van Suid-Afrika. Hulle het ‘n woonstel gedeel nadat Tunzi as mej. Heelal aangewys is. (Foto: Instagram)

Tunzi, van Suid-Afrika, het ʼn woonstel in New York met Kryst gedeel nadat sy as Mej. Heelal gekroon is.

“Cheslie, my vriendin, ek is verpletter,” het Tunzi ná Kryst se dood in ʼn roerende huldeblyk op sosiale media geskryf.

“Ek het nie ʼn oog toegemaak nie, vasgevang tussen ongeloof oor die nuus en om te probeer sin maak van wat gebeur het. Ek is nie gereed vir ʼn wêreld waarin jy nie bestaan nie. Ek hoop jy rus nou sag. Jy het soveel beteken vir soveel mense en jy sal vir altyd. Jy het ʼn merk gemaak in hierdie wêreld en soveel lewens aangeraak. Ons vier jou lewe. Ek is so lief vir jou, my vir altyd- vriendin.”

Bekende babas

Rihanna wys haar swanger magie. (Foto: Instagram)

Rihanna, die sangeres en eienaar van die grimeringmaatskappy Fenty Beauty, het vandeesweek bekend gemaak dat sy swanger is.

Dit is haar en haar kêrel van die afgelope twee jaar, die musikant A$AP Rocky, se eersteling. Die geslag en verwagte geboortedatum is nie bekend nie.

Forbes het in Augustus verlede jaar aangekondig dat Rihanna, wie se regte naam Robyn Fenty is, amptelik ʼn miljardêr is.

Fenty Beauty is in 2017 op die been gebring en het sedertdien ʼn gesogte kosmetiese reeks vir vroue wêreldwyd geraak. Dié maatskappy het haar die hupstoot na miljardêrstatus gegee.

Volgens Forbes is Rihanna (33) nou sowat $1,7 miljard (sowat R24,4 miljard) sterk. Dit maak haar die rykste vrouemusikant ter wêreld, tweede ná Oprah Winfrey, wat tans die wêreld se rykste vrouevermaakpersoonlikheid is.

Rihanna en A$AP Rocky het die swangerskapnuus bekend gemaak met ʼn rits foto’s wat in New York City geneem is. Die sangeres, oorspronklik van Barbados, se swanger magie is duidelik sigbaar terwyl A$AP Rocky haar op die voorkop soen.

Sy het ook ʼn foto van haar groeiende magie op Instagram gedeel.

Priyanka Chopra en Nick Jonas. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die popster Nick Jonas, jongste van die bekende Jonas Brothers, en sy vrou, die voormalige Mej. Wêreld, Priyanka Chopra, het op Instagram bekend gemaak dat hulle ʼn pienkvoet deur middel van ʼn surrogaat ryker geword het.

“Ons is verheug om te bevestig dat ons ʼn baba via ʼn surrogaat verwelkom het. Ons vra respekvol vir privaatheid tydens hierdie spesiale tydperk om op ons familie te fokus,” het Nick en Priyanka op sosiale media geskryf.

Nick (29) en Chopra (39) is in Desember 2018 getroud. Die egpaar het destyds ʼn string tradisionele Indiese seremonies gehad as deel van hul huweliksfeesviering.

Chopra het in Indië grootgeword en wou haar Indiese kultuur respekteer deur verskeie tradisionele seremonies. Die paartjie het ook Jonas se kultuur gerespekteer deur ʼn tradisionele Westerse huwelikseremonie te hou.

Die akteur en America’s Got Talent-aanbieder Nick Cannon, wat voorheen met die sangeres Mariah Carey getroud was, het pas aangekondig dat sy agtste kind – ʼn seuntjie – op pad is saam met die model Bre Tiesi.

Dié nuus kom kort nadat hy in Desember verlede jaar die dood van sy babaseuntjie Zen bekend gemaak het. Dié baba, wat hy saam met die model Alyssa Scott verwek het, is dood na ʼn kort stryd teen breinkanker.

Cannon het verlede jaar nuusopskrifte gehaal toe dit onthul is dat hy vier kinders saam met drie verskillende vroue verwek het binne die bestek van ʼn paar maande.

Hy deel ʼn tienjarige tweeling, Monroe en Moroccan Cannon, met sy eksvrou, Mariah, en het ook ʼn seun, Golden “Sagon” Cannon (4) en ʼn 13 maande oue dogter, Powerful Queen Cannon, saam met sy eks, Brittany Bell. In Junie verlede jaar het hy tweelingseuns, Zion Mixolydian Cannon en Zillion Heir Cannon, verwelkom saam met Abby De La Rosa.

‘Game of Thrones’-aanhangers na Ierland genooi

‘n Plakkaat vir die laaste seisoen van ‘Game of Thrones’. Hier sit Daenerys Targaryen (Emilia Clark) op die ystertroon. (Foto: HBO/Twitter.com)

Aanhangers van die uiters gewilde televisiereeks Game of Thrones word genooi om die wêreld van Westeros te besoek by ʼn splinternuwe toeriste-aantreklikheid in Noord-Ierland.

Dié aantreklikheid van £40 miljoen (sowat R900 miljoen) huisves stelle, kostuums en rekwisiete van dié epiese televisiedrama.

Die “Game of Thrones Studio Tour” open later vanjaar by die Linen Mill, een van die plekke waar die reeks verfilm is.

Die stelle van The Great Hall of Winterfell en Castle Black het behoue gebly nadat die verfilming van die reeks in 2018 tot ʼn einde gekom het. Ander stelle is herkonstrueer en ikoniese rekwisiete soos die Iron Throne is by die aantreklikheid van sowat 10 200 m gevoeg.

Game of Thrones-toerisme het floreer in Noord-Ierland voor die aanvang van die pandemie, met een uit elke ses vakansiegangers wat gesê het die reeks het hulle besluit om na dié land te reis in 2018 beïnvloed.

Bronne: E! News, People, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.