Huldeblyke stroom in ná Naya Rivera-meertragedie

Naya Rivera (2013) (Foto: Dan Steinberg/Invision/AP, File)

Huldeblyke stroom in nadat die bekende Glee-aktrise, Naya Rivera, se liggaam Maandag in ʼn Kaliforniese meer gevind is ná sy Woensdag spoorloos verdwyn het.

Bill Ayub, Ventura County-sheriff, het bevestig dat hulle Rivera se liggaam in die Piru-meer gevind het. Volgens Ayub vermoed hulle geen gemene spel of dat dit selfdood was nie.

Die 33-jarige aktrise het Woensdag ʼn pontonboot (pontoon boat) by die meer gehuur. Haar vierjarige seun, Josey, is ure later met ʼn reddingsbaadjie aan in die boot aangetref.

“Ons is vol vertroue dat die liggaam wat ons gevind het, dié van Naya Rivera is,” het Ayub tydens ʼn mediakonferensie gesê. Hy het spesifiek verwys na die ligging, voorkoms, kleredrag en toestand van die liggaam wat gevind is.

“Hoewel geen ander vermiste persone by die Piru-meer aangemeld is nie, sal ʼn volledige lykskouing en bevestiging van identiteit deur tandheelkundige rekords gedoen word,” het Ayub bygevoeg.

Owerhede glo Rivera het per ongeluk verdrink nadat sy ʼn boot saam met haar jong seun gehuur het by die kampeer-en-ontspanningsplek sowat ʼn uur lange rit noordwes van Los Angeles.

Naya Rivera. (Foto: Instagram)

ʼn Massiewe soektog na die ster, wat duikers, patrolliebote en helikopters ingesluit het, is van stapel gestuur nadat ʼn slapende Josey alleen op die boot aangetref is.

Josey het later aan die owerhede gesê dat Rivera hom in die boot gehelp het “voordat hy teruggekyk en gesien het hoe sy onder die water verdwyn”.

Ayub het na die meer se sterk strome verwys as ʼn moontlike oorsaak van die noodlottige ongeluk. “Ons vermoed dat die boot begin dryf het – dit was nie geanker nie – en dat sy genoeg energie bymekaar kon skraap om haar seun terug in die boot te sit, maar nie genoeg om haarself te red nie,” het hy gesê.

Die meer is sedert Woensdag gesluit vir die publiek met sowat 100 personeellede, onder wie die US Coast Guard en redders van aangrensende distrikte wat by die soektog aangesluit het.

Rivera het die dag voor haar verdwyning ʼn foto van haarself en Josey op Instagram gedeel met die byskrif, “Net die twee van ons”.

Rivera het bekendheid verwerf vir haar rol as Santana Lopez, ʼn rasieleier in Ryan Murphy se musiekkomediereeks Glee, wat van 2009 tot 2015 uitgesaai is. Glee is vir 32 Emmy-toekennings en nege Golden Globe-toekennings benoem.

Rivera is in 2017 met Ryan Dorsay, Josey se pa, getroud. Die egpaar is in 2018 geskei.

Die akteur Chris Colfer het op Instagram hulde gebring aan sy Glee-medester. “Jou briljantheid en sin vir humor was ongeëwenaar en jou skoonheid en talent uitsonderlik,” het hy gesê.

‘n Inskrywing op Instagram wat Naya Rivera verlede jaar op haar seuntjie, Josey, se verjaarsdag. (Foto: Instagram)

“Om na aan haar te wees was ʼn erekenteken én ʼn wapenrusting. Naya was werklik enig in haar soort en sy sal altyd wees.”

Kristin Chenoweth, Tony- en Emmy-bekroonde aktrise en sangeres wat ook in Glee verskyn het, het op Twitter gesê: “Dankie vir wat jy aan die wêreld gegee het. Ek is lief vir jou.”

Lionsgate, vervaardigingsmaatskappy van Rivera se laaste reeks, Step Up, en Starz, wat die tweede seisoen van die reeks uitgesaai het, het in ʼn verklaring gesê hulle harte gaan uit na haar familie.

“Veral na haar jong kind. Sy was ʼn opgewekte en helder talent wat altyd ʼn spesiale deel van ons Step Up-familie sal bly. Haar merkwaardige bydrae tot ons bedryf het ʼn onverganklike herinnering geskep wat sal voortleef deur almal wat die voorreg gehad het om haar te ken.”

Bronne: EWN, New York Times, Deadline.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.