Kim K, Kanye ‘woon geskei van mekaar’

Kim Kardashian West en Kanye West op verlede jaar se Vanity Fair Oscars-partytjie. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

Die kletsrymer Kanye West en sy vrou, die televisiester Kim Kardashian West, woon geskei van mekaar en ondergaan huweliksberading.

Só sê ʼn bron na aan die familie aan NBC News. Volgens die bron woon Kanye (43) die afgelope paar maande in Wyoming terwyl Kim (40) en hulle vier kinders in Kalifornië woon.

Die egpaar wat in Mei 2014 tydens ʼn swierige seremonie in Italië getroud is, ontvang ook glo huweliksberading om “gewone verhoudingskwessies” uit te stryk. Daar is glo geen ander partye betrokke nie.

Die bron sê egter die paartjie werk aan hulle huwelik. “Kanye is lief vir sy uitgebreide familie. Hulle is baie na aan mekaar en hulle kry terapeutiese behandeling,” sê die bron aan NBC News.

Daar word gereeld in die skinderpers gegis oor dié mega-beroemde paartjie se huwelik wat kwansuis op die rotse sou wees. Volgens bronne soos People en Page Six, is Kim besig om voor te berei om aansoek te doen om ʼn egskeiding.

Kanye het onlangs openlik oor sy stryd met bipolêre gemoedsversteuring gepraat. Die vermaakmagnaat het in Julie verlede jaar, in ʼn bod om die presidentskap van die VSA, in ʼn onsamehangende toespraak onthul dat hy sy dogter wou laat aborteer en het in trane uitgebars.

Hy het ook in ʼn reeks inskrywings op Twitter, wat later uitgevee is, sy vrou en skoonma, Kris Jenner, daarvan beskuldig dat hulle hom wou laat opsluit en het dit laat blyk dat hy ʼn egskeiding wil hê.

Kim Kardashian West en Kanye West op verlede jaar se Vanity Fair Oscars-partytjie. (Foto: Jean-Baptiste Lacroix/AFP)

Kim het ʼn beroep op die media en publiek gedoen om “medelye en empatie” te toon ná haar man se wisselvallige optrede. Bipolêre gemoedsversteuring word onder meer gekenmerk deur uitermatige buiveranderings en lyers ervaar manie én euforie en tree dikwels roekeloos op.

“Diegene wat geestessiektes en kompulsiewe gedrag ken weet dat die familie magteloos is tensy die lid ʼn minderjarige is. Mense wat onbewus of ver verwyder is van hierdie ervaring kan veroordelend wees en nie verstaan dat die individu homself by die proses om hulp te kry moet betrek, maak nie saak hoe hard vriende of familielede probeer nie,” het Kim in Julie verlede jaar op Instagram geskryf.

Kim se 198 miljoen volgelinge op Instagram het begin agterkom haar man is afwesig van haar inskrywings die laaste paar weke.

Die twee het vier kinders: ʼn dogter North (7), ʼn seun Saint (5), ʼn dogter Chicago (2) en ʼn 19-maande oue babaseuntjie Psalm.

Dit is Kanye se eerste en Kim se derde huwelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.