Luister: Liefde blom steeds vir akteur Francois en sy Nykie

Francois Jacobs en Nykie Pretorius kuier by Maroela Media. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Sedert die akteur Francois Jacobs en sy meisie, Nykie Pretorius, mekaar ontmoet het op die stel van Op my Eish!, kykNET se maatsoekprogram, is hulle so te sê onafskeidbaar.

Nie net het Nykie, ʼn Pretorianer, sak en pak by Francois in sy huis in Melville, Johannesburg, ingetrek nie, maar die paartjie is nou ook gereeld saam op die verhoog by feeste en ander geleenthede te sien as seremoniemeesters en aanbieders.

Francois en Nykie vertel in Maroela Media se ateljee dat hulle nou ʼn jaar en sowat vyf maande in ʼn verhouding is.

Terwyl Francois hom toespits op verskeie TV- en fliekrolle, is Nykie ʼn besige inhoudskepper en beïnvloeder op sosiale media. Hulle is ook besig om ʼn ateljee by hulle huis in te rig waar hulle saam inhoud kan vervaardig.

Hoewel Francois sê dit was vir hom liefde met die eerste oogopslag toe hy die eerste keer vir Nykie op die stel van Op my Eish! gesien het, bieg Nykie om die beurt dat sy skepties was daaroor om liefde op ʼn TV-program te vind.

“Ná ʼn week in produksie het ek besef ons kom baie goed oor die weg en ons kan goeie vriende wees, maar nadat hy my gesoen het, het ek geweet dit kan romanties ook wees. Vriendskap en romanse is albei belangrik in ʼn verhouding,” vertel Nykie met ʼn glimlag.

Francois en Nykie is steeds smoorverlief. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Francois is aanvanklik genader om die aanbieder van Op my Eish! se tweede seisoen te wees ná die sukses van die eerste seisoen met akteur Neels van Jaarsveld.

“Ek was enkellopend en die vervaardigers het toe gevra of ek nie die sogenaamde bachelor wil wees nie. Aanvanklik het ek nee gesê, want ek is nou nie iemand wat my persoonlike lewe vir die wêreld daar buite tentoonstel nie.

“Hulle het egter vir my die geleentheid gebied om te wys wie ek is, en in my tuisdorp van Mbombela te verfilm, en ons het ʼn kontrak gesluit dat ek nié geforseer sou word om iemand op die einde te kies nie.

“Ek het besluit om dit te sien vir die avontuur wat dit is.”

Volgens Francois komplimenteer sy en Nykie se persoonlikhede mekaar, maar hulle deel ook dieselfde lewenslus en sin vir avontuur.

“Ons is gereeld op soek na die volgende avontuur of thrill, hetsy uit vliegtuie spring, of diepseeduik of net op die motorfiets spring en nuwe plekke verken.”

  • Luister bo-aan die berig na ʼn vollengte onderhoud met Francois en Nykie. Francois gesels oor sy rol as aanbieder van die VIA-program, Ram vir ʼn Rus 2, en Nykie verklap ʼn paar van hulle toekomsplanne.

Kyk hier hoe speel Francois en Nykie Maroela Media se prettige speletjie, As die vellie pas:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.