Nianell oor haar drieling, nuwe liefde en haar ma se dood

Nianell straal op 48 (Foto: Verskaf)

Geen bekendstelling is nodig as jy die naam Nianell hoor nie. Van haar trefferliedjie in 2002, “Who painted the moon black”, tot nou toe, het Sonia Nel Suid-Afrikaners se harte betower en hulle aan haar lippe laat hang.

Deesdae is Nianell (48) se optredes (met keuse) veel minder as voorheen en in haar huis in Johannesburg lyk sy gemakliker en rustiger as wat ʼn mens van só ʼn welbekende naam sal verwag. Voor die onderhoud begin, vra sy uit oor my lewe, my gesin en my toekomsplanne. Sy kyk my sag in die oë en luister aandagtig. Die gesprek vloei maklik en haar drieling is in en uit die huis saam met die hondjies en katte.

Haar drieling, Tayden, Kaeley en Jade, het vanjaar 12 geword, en Nianell sê die grootste lesse van haar lewe het sy by dié drie jong tieners geleer.

“My dogtertjies is verskriklik onafhanklik. Ek dink dit is omdat hulle deel is van ʼn drieling dat hulle so graag hul eie individualiteit self wil vestig. Dit is belangrik vir hulle om te weet wie hulle is in die drie; ek dink dit is ʼn groot ding vir kinders as hulle in so ʼn groot groep in die wêreld kom.”

Nianell vertel elkeen van hulle is uniek. Kaeley en Jade, wat ʼn identiese tweeling is, het dieselfde smaak in kos en hou van dieselfde goed. Hulle hou van plante en diere en doen graag navorsing oor visse. Tayden aan die ander kant stel weer in mode en ontwerp belang. Sy het op driejarige ouderdom al ʼn rokkie ontwerp en ook al vir Nianell sélf klere ontwerp.

“Die tweeling is partykeer groot fairies, soos ek. Ons sweef maar so rond. Maar Tayden is 12 going on 17,” lag sy. “Sy beskerm altyd almal, sy is baie streetwise.”

Nianell sê haar drieling het haar geleer om vir haarself lief te wees, want sy moes haarself liefhê voordat sy kon toelaat dat iemand ander haar liefhê.

“Dikwels werk ʼn mens lank daaraan om ʼn naam vir jouself te maak in jou loopbaan en om mooi te lyk, maar namate jy ouer raak, besef jy daardie goed definieer jou nie eintlik nie. Soos jy dan ontslae raak van al die lae, kom jy by jou ware self uit.”

Nianell vertel sy het deur ʼn moeilike tyd gegaan net nadat haar drieling gebore is omdat sy skuldig gevoel het dat sy so geseënd is.

“In die hospitaal het daar ʼn vrou langs my gelê wie se een babatjie doodgegaan het. En daar lê ek met my drie babatjies. Ek het ook baie vriende gehad wat jare lank sonder sukses probeer het om swanger te raak, en daar kry ek ʼn drieling op een slag!

“Toe begin die skuldgevoel omdat dit so goed gaan met my. Ek het begin glo ek verdien dit nie en is dit ook nie werd nie. Wat het ek gedoen om drie gesonde dogtertjies te verdien?”

Nianell saam met haar drieling, Tayden, Kaeley en Jade (Foto: Verskaf)

Maar Tayden, Kaeley en Jade het vir Nianell kom leer sy mág gelukkig wees en sy ís waardig. “Ek het besef ek mág hierdie pragtige kinders hê, al het ander mense dit nie,” sê sy.

Nianell sê sy het ook ʼn ander ding by haar drieling geleer, en dit is dat spanwerk belangrik is. “Het jy al gesien wat drie kinders kan regkry? Veel meer as een kind!” skerts sy.

Nianell het pas haar tweede boek genaamd Life Simplified bekendgestel, waarin sy praat oor hoe om jou selfwaarde te besef en lief te wees vir jou ware self.

Sy sê sy het eers later in haar lewe besef dat sy deur haar ma altyd teruggehou is sodat ander mense kan skyn, en dat dit daartoe gelei het dat sy skuldig gevoel het oor die mens wat sy is.

“Ek en my ma was baie na aan mekaar. Sy was my eerste, beste en enigste vriend. Toe my ma sewe jaar gelede oorlede is, het ek die eerste keer begin vriende maak.”

Nianell se ma, Heletje, is in die ouderdom van 66 dood nadat sy ʼn rugoperasie ondergaan het. Die operasie was volgens die dokters ʼn sukses, maar sy het die volgende dag in haar slaap gesterf.

Nianell (Foto: Verskaf)

“My ma het dit nie aspris gedoen nie, sy wou net regverdig in die huis gewees het. Sy het gesien hoe talentvol ek is, so sy het vir my gesê om ʼn bietjie terug te staan sodat my susters, Riana en Erika, ook kan skyn en ons vir hulle ʼn kans kan gee.”

Nianell sê sy het altyd vir haar ma se goedkeuring gewag voordat sy self begin skyn het, maar toe haar ma oorlede is, het sy besef daar is niemand meer om vir haar die toestemming te gee nie en dat sy dit sélf moet doen.

“Ná my ma se dood het ek nog aangestoom vir so ʼn jaar of twee; ek het baie gewerk. Maar ek kon voel my wind is uit, ek het my spark begin verloor. Ek wou nie eens meer sing nie,” sê sy.

“Terwyl my ma nog gelewe het, was my doel om vir haar die beste lewe moontlik te gee. Maar toe het ek swanger geraak en vir vier jaar daarna het ek net kinders grootgemaak. Voor ek my ma se lewe beter kon maak, is sy dood. Ek het nie meer geweet wat my doel was nie.”

Hoewel Nianell gevoel het sy moet terugstaan dat haar susters kon skyn, sê sy sy neem hulle nie vandag kwalik daaroor nie.

“Ek dink wel dit was vir Riana [Nel] moeilik om my as ʼn sussie te hê, want sy moes heeltyd opleef na my. Kan jy dink hoe dit moet voel om te hoor: ‘Sit julle hande bymekaar vir Nianell se sussie’?

“Maar nou het sy haar eie loopbaan gevestig en is gelukkig. Daar is geen kwade gevoelens tussen ons nie. Ek en Riana verskil ook tien jaar, so ons is lankal nie meer in mekaar se spasie nie. Ons drie susters is nie besonder na aan mekaar nie, maar daar is ook nie probleme nie. Ons ondersteun mekaar altyd,” sê sy.

Nianell en haar eksman, Andrew Thompson, is in 2014 geskei, en sedertdien het sy weer ʼn nuwe liefde gevind. Hoewel sy nie haar nuwe kêrel se naam wil verklap nie, vertel sy dat hulle al vier en ʼn half jaar ʼn paartjie is.

Nianell saam met haar drieling, Tayden, Kaeley en Jade (Foto: Verskaf)

En sal sy weer trou? “Never say never,” glimlag sy. “In my hart is ek reeds getroud,” sê sy.

Nianell en Thompson het wel nog ʼn goeie verhouding en maak saam die drieling groot. Hy is weer getroud.

“Ons is eintlik nou soos ʼn boetie en sussie wat net nie baie van mekaar hou nie. Ons is lief vir mekaar, maar wil nie heeltyd in mekaar se geselskap wees nie. Ons is wel daar vir mekaar as ons mekaar nodig het,” sê sy.

Nianell het die afgelope paar jaar wegbeweeg van die hoofstroom-vermaakbedryf en eerder haar musiektalent begin gebruik om mense met genesing te help.

“Die ding wat my die gelukkigste maak in die hele wêreld is om mense te leer hoe om hul ware self te vind. Ek is meer lief daarvoor as om te sing. Ek hou van sing, maar dit gee my nie naastenby soveel vreugde soos om mense oor hierdie goed te leer nie,” sê sy.

Daarom het sy Connect-werksessies begin doen, waar sy mense leer om hulself te aanvaar nes hulle is. Sy gebruik musiek om mense te help om met hul gevoelens in aanraking te kom.

Dié werksessies is al twee keer in Rusland aangebied; sy doen ook privaat sessies. Albei haar boeke, Knowing who I am en Life Simplified, handel oor die tema dat die lewe nie met mense gebeur nie, maar dat jy, saam met God, ʼn medeskepper van jou lewe is.

“Dit is die lekkerste ding van bekend wees: Mense praat altyd met my, want hulle voel of hulle my ken. En elke keer dat iemand met my praat, is daar ʼn geleentheid om ʼn ware konneksie te maak.

“Baie van my liedjies, selfs van my eerstes, het die boodskap wat ek probeer oordra. Dit gaan daaroor om jou hart oop te maak en jouself toe te laat om te voel. Ek sê altyd: ‘You have to feel in order to heal’.”

Nianell het self ook baie uit die skryf van Life Simplified geleer.

“Ek het minder begin doen en meer begin wees. Ek oefen dit al vir lank, en ek moet my elke dag daaraan herinner. Jy moet leer om te laat gaan, voordat jy vry kan wees.”

Sy is nou, net voor 50, op die beste plek waar sy nog ooit in haar lewe was.

“Ek sal nooit weer wil wees soos toe ek in my 20’s of 30’s was nie. My 40’s is vir my fantasties, en as ek nóú so voel, hoe lekker kan dit nie in my 50’s raak nie?” sê sy.

Nianell se liggaamstaal praat op sigself; sy sit agteroor in ʼn leunstoel in haar huis vol kinders en diere. Haar hare hang los oor haar skouers en sy het ʼn lang romp wat tot op die vloer hang aan. Sy lyk rustig, selfversekerd en sielsgelukkig.

“Ek kan nou uiteindelik 100 persent wees wie ek is, en ek kan myself behoorlik uitdruk. Ek is moeg om stil te bly oor die waarheid. Dit vat tyd om op ʼn plek te kom waar jy jouself aanvaar en liefhet, en ek is uiteindelik daar. En as dié weergawe van my enigiemand skrikmaak, dan is dit hulle probleem.”

Life Simplified word op 31 Oktober by Monte Casino in Johannesburg bekendgestel en sal in boekwinkels en aanlyn beskikbaar wees. Vir meer inligting oor Nianell se Connect-werksessies, besoek haar webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

charmaine ·

Soms is ouers ook nie goed vir hulle kinders nie elke kind is n individu op hulle eie en dis hartseer om haar storie te lees en te lees haar ma was haar alles maar het haar ook “terug gehou” en daarom moet ons ook nooit ons kinders met mekaar vergelyk nie en hulle moet genoeg komplimente kry op enige iets wat daai spesifieke kind doen sodat hy/sy kan voel maar ek het dit op my eie met ondersteuning reg gekry.

Clickbait ·

Nuwe liefde maar dis al 4 en 1/2 jaar… As dit nie clickbait is nie dan weet ek nie.

Cham ·

Baie geluk, en baie dankie vir die weergawe van jou. Dit inspireer my om die beter en ware ek in myself te wil vind

Sophia ·

Moet sê Riana se sang is uitstekend die opregtheid en diepte wat sy oordra gee ‘n mens hoendervleis!!!Gee haar vyf woorde en sy sing onmiddelik vir jou ‘n lied dit wil gedoen wees.

San ·

Dink ook Riana is baie meer gewild as Nianell i . t. v optredes en albumverkope.

lynette ·

ek sien eerder vir Nianel in Riana se skaduwee en nie soos sy dit beskryf nie.
ek dink sy is baie vol van haarself om so iets kwyt te raak. in my opinie is Riana die groot ster in die familie

Elize C ·

Ek stem saam, ek het nog nooit baie van Nianel se stem gehou of van haar songs nie, behalwe vir daardie “hit” Who Painted the Moon Black. Ek is egter mal oor Riana! Sy is ‘n baie nederige vrou, ek geniet haar shows en die opregte geselsies wat sy tussen-in maak, oneindig baie. Ek het nog nooit gehoor dat sy enige negatiewe of snedige opmerking maak oor Nianel nie…..

Erika ·

Ai tog, ek dink nie sy bedoel dit lelik nie! Moet mens dan altyd katterig wees oor als! Alle broers en susters verskil en baklei, maar as hul moet saamstaan dan is hul een..Beide van hulle het engele stemme! Wens jou geluk toe en hoop jy wys ons die man in jou lewe!!

Soetdoring ·

Dié vrou is darem baie vol van haarself. Geen wonder sy en haar susters is nie te na aanmekaar nie.

Soos die Son ·

Nee wat dankie! Nie my koppie tee nie! Hoogmoedige vrou wat eintlik in haar suster se skaduwee leef, en nie anders om nie! Stem saam met julle! Riana se songs is diep en baie sielsvol. Geniet Riana se musiek terdeë!

Jax ·

Ai regtig? As mens so uitwei oor hoe talentvol jy is, is dit dalk tyd om eerder stil te bly oor jou talent. Die berig het n hoogmoedige trant eerder as iemand wat selfversekerd is.
Volgens die berig is daar nie sibbe probleme nie maar ek dink, na die lees hiervan, daar dalk mag ontstaan
Dis jammer – ek is teleurgesteld

Plaasmeisie ·

Ek dink die artikel is opreg. Eks een van drie sussies en ek verstaan waarna verwys Nianell. Al wat sy bedoel het was dat sy eerste die musiekbedryf betree het en eintlik reeds naam gemaak het teen die tyd wat Riana begin sing het. Riana en Nianell se musiek is twee uiteenlopende genres inelkgeval.
Ek dink mens sal verstaan wat sy probeer sê as jy self uit n groot gesin uit kom.

Sarie ·

Ai julle is naar. Kinders verskil van mekaar en hulle ht verskillende sang style. Ouers kan onwetend skade doen en ni besef ni. Baie bly jou lewe is in plek En vergewe eierle ers Wat ni di son oor n ander laat skyn ni. Jesus skyn oor jou.

Kruger ·

Enige iemand wat een van Nianel se optredes gesien het sal besef sy is n diep mens sonder pretensies wat kwaliteit musiek maak NES Riana

Kruger ·

Enige iemand wat een van Nianel se optredes gesien het sal besef sy is n diep mens sonder pretensies wat kwaliteit musiek maak

Ja nee ·

Kyk ek is so bly ek is nie die vrou se sussie nie. Genade kan jy dit nou glo. Moet terug staan om ander te laat skyn. Lag my dood. Nog nooit in my lewe gehoor van iemand wat meer van hulself dink nie. En dan is alles nog mamma se skuld, dit nadat mamma oorlede is en niks kan se hieroor nie.

Nellie Kruger (Nee: Cook) ·

Janee ek stem saam sy het ‘n stem soos ‘n engel en is deur baie ….haal die balk eers uit die “Nay sayers” se oog voordat julle oordeel sy verdien nog ‘n kans in die lewe en liefde!!!!!!!!!! Baie geluk en GOD’s see”n oor julle.

T ·

Ek was altyd mal oor Nianell, totdat sy met die vreemde “healing” goed begin het.
Hoop sy vind weer haar weg na die volle Waarheid toe, waar werklike vrede en genesing plaasvind.

AB ·

Nianell? Wie is sy nou weer? Oooooo dis mos die dame wat altyd huisgenoot toe hol as sy geld nodig het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.