Nadat die Pretoriase skoonheid Janie Erasmus verlede jaar tydens ʼn spoggeleentheid in die Tsjeggiese Republiek as Mej. Doof Wêreld aangewys is, het dié skoonheid die afgelope naweek nóg goeie nuus met aanhangers gedeel.
Janie en haar kêrel van nege maande, Erwin Farago, het Saterdag verloof geraak. Haar ma, Anette, het dié nuus aan Maroela Media bevestig.
Volgens Anette het Ferago, ʼn deeltydse akteur, haar die jawoord by haar ouerhuis in Centurion gevra. “Dit was ʼn baie spoggerige geleentheid en ons het vooraf ewe vir Erwin gehelp om die dag in die geheim te beplan. Hy wou die dag baie spesiaal maak,” vertel Anette.
Sy sê Janie is “in die wolke”. “Sy het dit glad nie verwag nie. Hulle is dolverlief en baie gelukkig, en ons gun hulle net geluk. Die familie het ná die tyd by hulle aangesluit om die goeie nuus saam met hulle te vier.”
Die paartjie beplan om in Maart volgende jaar af te haak.
Janie, wat onderskeidelik nege en 18 jaar gelede kogleêre inplantings vir albei ore ontvang het, het in Julie vanjaar haar kroon aan die nuwe Mej. Doof, Chutima Netsuriwong van Thailand, tydens vanjaar se kroningsgeleentheid in Praag oorhandig.
BAIE BAIE GELUK!!!!!!!!!
Sjoe maar sy is n pragtige meisie!!!