Van Coke teen Hougaard: Tyd dat vuiste praatwerk doen

Francois van Coke en Derick Hougaard. Foto: BOXOP/Blue Banana Events.

Ná weke lange voorbereiding en mediakonferensies kry Francois van Coke en Derick Hougaard uiteindelik Saterdagaand die geleentheid om hul staal in die bokskryt te wys wanneer hulle mekaar in Pretoria aanvat.

“Dít is die ware Jakob. Ek oefen asof ek ’n bokser is en ek het al eintlik ’n bietjie vergeet van musiek maak. Om eerlik te wees, ek oefen om die geveg te wen,” het Van Coke destyds gesê.

Volgens Hougaard het die twee baie respek vir professionele boksers en wil hulle tegniekgewys ook hul ondersteuners beïndruk; die geveg moet met ander woorde nie soos ’n vinnige geveg agter die snoepie tydens tweede pouse lyk nie.

Die twee oefen hard, eet reg en is die fiksste wat hulle in ’n lang ruk was.

Hoewel talle ondersteuners meen dat die voormalige Bloubul-held net te veel skietgoed – hy is immers groter en sterker – vir die rock-ster sal hê, sê Tian Fick dat die wa nie te gou voor die perdekar ingespan moet word nie.

“Kyk, Francois is ’n tawwe kêrel en hy kan op sy voete dink wanneer hy moeg is.  Hy beweeg goed en hy slaan goed; Derick is in vir ’n ding!” het die SA swaargewigkampioen gewaarsku.

Van Coke is self nie skrikkerig vir Hougaard se grootte nie.

“Kyk, Derick kan my in die eerste ronde uitslaan, want hy is baie groter as ek. Maar dit gaan nie gebeur nie.”

Die amptelike inweegsessie vind môreaand plaas. Die tyd vir mooipraatjies en bekgevegte is verby; laat die bokshandskoene nou die praatwerk doen. Hier kom groot pret!

  • Hierdie Boxop (soos wat dit bekendstaan) word deur Blue Banana Events aangebied en ondersteuners kan onder meer die stroom-aksie op Boxop se skakel volg, terwyl die geveg ook by sommige Nu Metro-teaters vertoon sal word.
  • Stroomkaartjies is beskikbaar teen R150. Besoek itickets.co.za om jou plek op jou sitkamerbank te bespreek.
  • Die aksie sal Saterdag stiptelik om 17:00 begin en verskeie voorgevegte is ook op die spyskaart.
  • Jack Parow, Tasché, Early B, Rubber Duc en Synth Peter sal vir verdere vermaak sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.