Video: Irene-Louise vier nuwe parfuum

Irene-Louise van Wyk tydens die bekendstelling van haar nuwe parfuum. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die popsangeres Irene-Louise van Wyk het Donderdagaand saam met ʼn rits bekendes in Pretoria gekuier om die bekendstelling van haar nuwe parfuum, RINX, te vier.

Irene-Louise, wat al langer as ʼn dekade in die musiekbedryf doenig is, het ook onlangs haar eie spesiale uitgawe van Black Crow se Moonstone-jenewer uitgebring.

Bekendes soos Bobby van Jaarsveld, Dozi, Samantha Leonard, Elandré, Nicholis Louw, Matie van Graan en Quinton en Bernice van Rensburg van QMAN en Borrie-faam, het die parfuumbekendstelling by die Maslow-hotel in Menlyn bygewoon.

“Dit is baie opwindend en ʼn groot voorreg vir my, want ek droom al so lank oor hierdie aand,” sê Irene-Louise. Sy reik ook binnekort ʼn nuwe enkelsnit, “Waar gaan ons dans vanaand?”, uit.

Irene-Louise vertel sy het die naam van die parfuum, RINX, gekies omdat dit ʼn bynaam is wat haar ma, Irene van Wyk, vir haar gegee het.

Irene-Louise sê die bekendstelling van haar eie parfuum is ʼn tienermeisiedroom wat bewaarheid is. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Irene was as sangeres ook ʼn groot naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf voor sy in 2009 in ʼn motorongeluk gesterf het.

“Die naam [van die parfuum] is dus iets wat baie persoonlik is. Ek het besluit ek wil nie ʼn naam vir die parfuum opmaak wat niks beteken nie. RINX vang my identiteit vas.”

RINX het ʼn soet reuk, met ʼn ondertoon van sitrus- en blommegeure en ʼn titseltjie heuning, sê Irene-Louise.

“Ek sal die reuk beslis beskryf as soet, maar elegant.”

Die parfuum is op Irene-Louise se webwerf beskikbaar, asook by vertonings en kan ook deur direkte boodskappe op Facebook en Instagram bestel word.

Maroela Media het saamgekuier by die bekendstelling van RINX. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.