Video: Verlamde akteur kan weer musiek maak danksy spesiale kitaar

Erik Holm saam met sy versorger, Moshe Tlaatla (Foto: Instagram)

Die akteur Erik Holm (36) het gedink hy sal ná die duikongeluk in 2007 wat hom verlam gelaat het, nooit weer ʼn instrument kan bespeel nie, maar ʼn kitaar wat spesiaal vir hom ontwerp is, het hom hoop gegee om weer dié passie te kan beoefen.

Holm het Sondag ʼn video op Facebook gedeel waar hy dié nuwe kitaar speel en ook sing. Hy sê aan Maroela Media dié instrument is spesiaal vir hom gemaak deur die bekende kitaarvervaardiger Mervyn Davis.

Holm het in 2007 ʼn kwadrupleeg geword toe hy in ʼn dam geduik en sy kop gestamp het. Hy kan sy arms beweeg, maar het nie beheer oor sy hande en vingers nie. Sy liefde vir kitaarspeel was dus met dié lewensveranderende duikslag ook daarmee heen.

“Voor ek my nek gebreek het, het ek baie gehou van musiek maak. Ek het gedink ek sou nooit weer ʼn instrument kon bespeel nie, tot ek vir Mervyn ontmoet het. Hy het gesê hy sal vir my ʼn kitaar maak. Dit is die eerste een van sy soort ter wêreld,” sê Holm.

Hy erken hy was eers skepties oor die instrument, maar dat hy nou al gewoond geraak het daaraan.

“Ek speel al vir so twee maande en dit is amazing! Die kitaar wat ek het, is die eerste weergawe van die instrument. Mervyn is besig om dit nog beter, ligter en kleiner te maak, want op die oomblik is hy redelik bonkig.”

Holm werk nou saam met Davis om dié kitaar te verbeter. Hulle wil dit ook meer bekostigbaar maak sodat meer mense só ʼn instrument kan bekom. Die eerste weergawe van die kitaar het sowat R100 000 beloop, maar hulle het dit reeds reggekry om dié prys na sowat R46 000 af te bring en werk steeds daaraan om die koste nóg te verminder.

Holm sê dit is vir hom belangrik dat die instrument nie slegs deur hom gebruik moet kan word nie, maar ook deur ander mense met soortgelyke gestremdhede. Hy en Davis wil hê dat mense wie se ledemate geamputeer is of wat aan artritis ly ook die instrument sal kan bespeel.

“Dit is vir my wonderlik om weer die gevoel van ʼn instrument [in my hande] te hê. Musiek is sulke goeie terapie, maar sedert ek my nek gebreek en dié terapie juis nodig het, kon ek nie meer self musiek maak nie. Al wat ek basies kon speel, is ʼn bekfluitjie, so hierdie kitaar maak ʼn hele nuwe wêreld vir my oop,” sê hy.

Holm is positief daaroor dat dié instrument in sy finale weergawe deure gaan oopmaak vir mense met gestremdhede wat lief is vir musiek maak.

“Dit is belangrik om die ingesteldheid te hê dat die beperkings nie by die instrument lê nie, maar by die speler. Jy moet net gewillig wees om te leer en te oefen. Daar is niks wat die instrument nie kan doen nie. Dit is nie so maklik aan die begin nie, maar ek speel nog net twee maande en ek voel reeds baie meer gemaklik,” sê hy.

“Vir die eerste keer ná my ongeluk voel ek of ek dalk dié instrument beter gaan baasraak as gewone instrumente wat ek voor die ongeluk bespeel het.”

Die akteur Hykie Berg, ʼn jare lange vriend van Holm, het ook die video van Holm en sy nuwe kitaar op sy Instagram-blad gedeel. Berg sê aan Maroela Media dit is wonderlik om te sien dat sy vriend weer sy passie vir musiek kan uitleef.

“Enigiets wat vir hom vreugde bring, bring vir my vreugde. Niemand weet waardeur hy gaan nie, maar ek het hom nog nie een oomblik hoor kla nie. Die feit dat hy dít kon regkry, is vir my ongelooflik; dit maak my verskriklik bly,” sê hy.

My first official attempt at performing a song on this BEAST of a instrument designed by Mervyn Davis.Specifically Made for People who have limited, or no – hand and finger movement…I can’t thank you enough Merv…I’m slowwwwly getting there, and hopefully we will get a ton of people to play this instrument better than I do ????…#Thefuture #Musicislife #Happinessis #Beyond

Posted by Erik Holm Actor on Sunday, June 9, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

???? leser ·

baie mooi holm, met deursettings vermoe, wat jy het, is dit pragtig om jou liefde vir musiek uit te leef
dankie vir die vervaardiger, instrument maker, davis, om holm te help

nella ·

Sòveel deursettings vermoë. Baie mooi Erik, staan vas, ek is trots op jou. Geniet jou musiek verder.xxx

Anoniem ·

Ek bewonder hierdie jongman met die pragtige stem. Mag hy ongeëwenaarde sukses beleef en homself ten volle uitleef in sy musiek en sang.

Liza ·

Waw, ek bewonder jou …. mooi Erik …… sterkte vorentoe ……!!!!!!

KarinB ·

Aangrypend! Sukses vorentoe, Erik, jy is ‘n inspirasie vir baie ander.

Niel ·

trots op jou! waar daar ‘n wil is is daar ‘n weg! Die belangrikste boodskap van hierdie berig is, moet nooit tou opgooi nie. Daar’s altyd uitkoms. Soveel mense dink dis nou die einde wanneer iets trumaties gebeur het. Maar hier sien ons iets uniek. Dankie dat jy ietsie deel van dat enige iets moontlik is! Dit gee my bv ook hoop om ernstig te kyk na myself en iets unieks te probeer. Hierdie berig en video wys dat my eie persoonlike verskonings maar flou is. Geniet dit, en hou aan Erik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.