E-konserte: Danny Smoke, Polisiekarre, Mathys Roets sing die naweek aanlyn

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Danny Smoke hou hierdie naweek tuiskonsert in samewerking met Dapper Media. “Die konsert is geskiet op die koudste, mooiste aand langs ʼn rivier op ʼn plaas. Maar ons is in suits,” sê Smoke.

“As julle lus is vir ʼn groot partytjie, kry asseblief julle kaartjies en maak reg om te dans!”

Die konsert is vanaf Donderdag 8 Julie tot Maandag 13 Julie eksklusief op Dapper Media se webwerf beskikbaar teen slegs R69 per kaartjie. Wanneer jy jou kaartjie gekoop het, kan jy die konsert enige tyd en soveel kere as wat jy wil op enige slimtoestel geniet.

Vrydag 10 Julie

Steffie le Roux is te sien in die eerste episode van die reeks BLONDIEmentêr, in samewerking met die Pierneefteater. Hierdie blondine se lewe is kleurryk, karaktervol en oorvol, maar sy het altyd tyd vir ʼn mooi oomblik.

Onopgesmuk maar tog met ʼn bietjie maskara, vertel Steffie stories, sing nuwe liedjies en kuier saam met lekker mense. Hulle sing oor die Klein Karoo, bak brood en maak selfs ʼn draai in Sjina.

BLONDIEmentêr is saamgestel deur Steffie en haar begeleier, Mariëtte Galjaard. Hulle vang ʼn paar sonkolle en skadukante van die lewe vas in ʼn opwindende eerste episode.

BLONDIEmentêr is om 19:00 te sien. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Saterdag 11 Julie

Die rockgroep Fokofpolisiekar vier Saterdag sy 17de bestaansjaar met ʼn twee uur lange aanlyn konsert, Super Sick 17th.

“Mense oor die wêreld het ons al gevra om ʼn aanlyn konsert te doen, en watter beter tyd as nou; daar is ook geen beter rede as die band se 17de verjaarsdag nie,” sê Wynand Myburgh, baskitaarspeler vir die groep.

Die twee uur lange konsert sal gepak wees met ou bekende Fokofpolisiekar-treffers, asook al die aanhangers se gunstelinge en liedjies wat in jare nie gespeel is nie.

“Ons is besig om aan nuwe liedjies te werk en mag dalk selfs ʼn nuwe een speel,” sê kitaarspeler Johnny de Ridder.

Super Sick 17th is te sien om 20:00. Kaartjies kos R165 en is hier beskikbaar.

Mathys Roets se splinternuwe album, Reën, word eersdaags uitgereik en die sanger en liedjieskrywer bied Saterdag ʼn aanlyn konsert aan om sy nuwe album bekend te stel.

Dit is Roets se eerste album in nege jaar. Hy nooi jou in sy ateljee in waar hy en Matthys Maree, regisseur en pianis, die splinternuwe album na jou bring met ʼn gratis konsert.

In tipiese Mathys Roets-styl sal daar diepte en warmte wees, maar wat die album anders maak, is dat daar 11 splinternuwe liedjies op is. Vyf van die liedjies is deur Mathys en Matthys Maree getoonset wat ʼn nuwe aanslag daaraan gee. Roets sing al vir jare Piet van Wyk de Vries se unieke musiek en daar is ʼn splinternuwe lied van hom ook in die versameling. ʼn Mathys Roets-album sal nie volmaak wees sonder ʼn Leonard Cohen-lied nie en hy stel nie teleur nie.

Die vertoning vind om 19:00 regstreeks plaas op Mathys Roets se Facebook-blad.

Sondag 12 Julie

Country Legends en die Rodeo Girls.

Lefra Produksies se gewilde Country Legendes en Vriendekonsert het musiekaanhangers deur die jare vermaak en is jaarliks by Carnival City aangebied onder die leiding van die “Big Daddy” van Suid-Afrikaanse countrymusiek, Lance James.

Lefra het besluit om hulde te bring aan Lance James, wat op 2 Maart vanjaar oorlede is. Die konsert word Sondag om 17:00 uitgesaai. Kaartjies kos R70 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.