E-konsertgids: Elandré, Valiant Swart, Gian Groen en Lizz Meiring dié naweek te sien

Elandré. (Foto: Jacqui van Staden/Marilie Loubser)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Mothership Studios bied van Donderdag 30 Julie tot Donderdag 24 September ʼn eksklusiewe musiekreeks aan. Hierdie aanlyn reeks bevat optredes deur van ons land se voorste musikante en vermaaksterre.

Elandré skop die eerste Mothership Sessions-konsert met ʼn vyfstuk-orkes af.

Die Mothership Sessions-optredes is in Karen Zoid se ateljee opgeneem. “Niks sal ʼn regstreekse konsert in ʼn stadion, ʼn arena of in ʼn teater kan vervang nie, maar inperking het ons almal forseer om anders na dinge te kyk. Dit is nie noodwendig ʼn slegte ding nie, dis net anders,” sê Zoid.

Kaartjies vir Elandré se vertoning kos R150 en is hier beskikbaar.

Gian Groen en Valiant Swart.

Valiant Swart en Gian Groen het tydens die afsonderingstydperk bymekaar gekom in die verlate Die Boer-restaurantteater in Durbanville om konsert te hou. In dié intieme konsert deel Swart en Groen van hul nuwe liedjies, maar ook van hulle immergroen treffers.

Die konsert is van 30 Julie om 19:00 tot 4 Augustus om 19:00 te sien. Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Vrydag 31 Julie

ʼn Professionele kameraspan het met onder meer hommeltuie die ongelooflike Psychedelic Theatre se grasieuse vuurdansers tydens die Dans van die vlamme digitaal verewig, met die pragtige Taalmonument en omgewing as agtergrond.

Die virtuele Dans van die vlamme 2020 is aanlyn van 31 Julie om 18:30 te sien. Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

Saterdag 1 Augustus

Ramey Short saam met Liezel Pieters op die verhoog. (Foto: Verskaf)

Ramey Short, alombekend vir sy rol as dr. Quinton Meyer in die kykNET-sepie Binnelanders, het aan die begin van die jaar sy debuutalbum, #KannieBreek, bekendgestel.

Nou is hy vir die eerste keer aanlyn te sien in samewerking met @Warehouse21Studios. Hy gaan die verhoog deel met ander bekende sangers soos Liezel Pieters, Jakkie Louw, Ray Dylan en Samantha Leonard.

Ramey is van 19:00 tot 20:00 te sien. Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Sondag 2 Augustus

Lizz Meiring. (Foto: Robert Hamblin)

Lizz Meiring se solostuk Elke ander duim ʼn dame vertel, vier en satiriseer moderne Suid-Afrikaanse mans en vroue. Die stuk is slim, skerp, snaaks, vermaaklik en verrassend. Die materiaal is komies, maar ook donker en satiries. Meiring skep verskillende style in die stuk – van vertelling tot tango.  Die karakters is almal eg, herkenbaar – met ʼn aweregse streep of twee.  Daar is die presidente van Jong Dames Sianied, die nieu-politieke kinderstorie, ʼn beduiwelde Cupido, ʼn Lolita-huisvrou en ʼn aardse skoenkunstenaar.

Elke ander duim ʼn dame is Lefra se Kelderkonsert op Sondag 2 Augustus om 17:00. Kaartjies kos R125 en is hier beskikbaar.

Petronel Baard gee Sondag om 19h00 ʼn gratis aanlyn vertoning, Sonstorie, op haar Facebook-blad.

Sonstorie volg na die suksesvolle aanlyn vertoning, Liedjies van die see, wat vroeër in Julie plaasgevind het. Hierdie aanlyn vertonings is ter viering van haar 21 jaar in die musiekbedryf.

Dit is die verhaal van ʼn vader en ʼn dogter, albei ongelooflike woordkunstenaars en skeppers wat ten spyte van die vingers van die dood mekaar eggo. ʼn Ode aan die lewe, omgee mense, Afrikaans en woorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.