Afrikaanse fliek vier vriendskap, selfaanvaarding en ouer word

Die amptelike plakkaat vir #Lovemyselfie. (Foto: Verskaf)

Toe die plaaslike televisiester, Adele Swan, besef dat haar verloofde al haar spaargeld verkwansel het en haar boonop met ’n Gen Z-beïnvloeder verneuk het, weet sy dat die tyd ryp is om te wys wat nog in haar steek.

Sy het geen ander keuse as om die beste vertoning van haar lewe te gee om aan almal te bewys dat sy steeds relevant is nie.

Dié vertoning is egter ’n kompetisie op ’n luukse plesiervaart om eksklusiewe eenhede van die kunstebeskermheer en eiendomsmagnaat, George, se Silwer Eike-Aftreelandgoed te verkoop en sodoende haar skuld af te betaal.

Wat volg is ʼn diep, maar prettige selfontdekkingsreis oor aanvaarding, vriendskap en ouer word in die splinternuwe Afrikaanse fliek, #Lovemyselfie.

Van ʼn “Survivor for Seniors”-kompetisie, tot ʼn herontmoeting met ʼn ou skoolvriendin – #Lovemyselfie is veel meer as ’n plesiervaartvakansie-fliek.

Vier vroue wat ouer as 60 is, onderneem ’n reis na binne en ontdek dat dit nooit te laat is om te ontwikkel en selfs te verander nie. Dit is  ʼn verhaal wat beloof om gehore te laat lag én huil.

Die sterbelaaide rolverdeling sluit bekendes soos Illse Roos, Kevin Smith, June van Merch, Joanie Combrink, Helene Truter, Robyn Scott, Moses Williams, Kurt Darren en Chané Grobler in, met die aktrise Lika Berning wat in die regisseurstoel sit.

Begin solank werk aan jou selfie-vaardighede en maak reg vir ‘n lag met ‘n traan drama-komedie.

#Lovemyselfie se lokprent word in September bekendgestel. Hou Maroela Media en #Lovemyselfie se amptelike Facebookblad dop vir meer inligting.

  • Kyk na die sanger Kurt Darren se boodskap aan vroue in aanloop tot die fliek se bekendstelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.