Fliekresensie: Raaiselkind

Outisme Suid-Afrika (ASA) behoort te jubel oor Annelie Botes se Raaiselkind (2001) wat nou as rolprent uitgereik is. Veral met April as wêreldwye bewusmakingsmaand vir dié gedragsversteuring waarvan te min mense bewus is. Botes het immers wyd erkenning gekry vir haar navorsing oor die outismespektrumversteuring wat sy deeglik gestalte gegee het in haar roman en wat nou ʼn nog groter gehoor kry met dié uitreiking op die silwerdoek.

Raaiselkind is die verhaal van die Dorfling-gesin wie se jongste, Alexander, mettertyd met outisme gediagnoseer word. Maar die verhaal loop wyer as outisme en regisseur Andre Velts se Raaiselkind (2017) volg dié spoor. Dit is ook ʼn verhaal oor die broosheid van gewaande normaliteit en die maniere waarop mense en die gemeenskap Alexander, vertolk deur die negejarige Ian Roelofs, hanteer, of nie hanteer nie. Bowenal is dit die verhaal van ʼn ma, met Diaan Lawrenson in die rol van Ingrid Dorfling, wat antwoorde bly soek vir Alexander se gedrag en wat probeer sin maak van die omstandighede waarin sy haar bevind.

In hierdie soeke word haar ondersteuningsbasis al kleiner, tot net die getroue oppasser Miriam, vertolk deur June van Merch, oorbly. Dié vroue, die een gedryf deur bloedverwantskap en die ander deur ʼn gewortelde gemeenskapsin, is vasberade om Alexander te versorg, liefde en begrip – soms bomenslike begrip – te gee, ondanks hul eie beperkings én dié wat die gemeenskap stel.

In haar vertolking laat Lawrenson haar lei deur die logiese karakter wat Ingrid is. Sy wil by die wortel van die kwaal uitkom en wil serebraal begrip kan vorm van haar seun se toestand. Anders as haar man, Dawid, vertolk deur Neels Clasen, wat emosioneel veel minder volwasse as sy daaraan toe is. Lawrenson speel die rol met beheersing, selfs met iets van ʼn afstandelikheid. Daarom is dit aanvanklik moeilik om ʼn greep op Ingrid se karakter te kry. Dit is egter byvoorbeeld haar nadenke of diere siele het wat ʼn mens die idee gee sy internaliseer veel meer as wat sy laat blyk. In teenstelling met Dawid wat nie ʼn wag voor sy mond het nie.

Hoewel Alexander dalk die katalisator is wat die kloof tussen die twee verdiep, moet ʼn mens Dawid se agtergrond (hou in gedagte dat sy ouers niks met Alexander te doen wil hê nie) nie buite rekening laat as die bus se wiele begin afkom nie. En daarmee saam die finansiële verknorsing wat vererger word deur mediese rekeninge.

Clasen se gesigsuitdrukking op ʼn gegewe paar oomblikke in die prent, wanneer die geraas by die huis ondraaglik raak, is ʼn klein juweel; met netjiese kinematografie (soos elders) wat ʼn mens amper insae gee in dít wat in sy kop aangaan.

Van Merch, wat vir haar vertolking bekroon is as beste byspeler op verlede jaar se Silwerskermfees waar Raaiselkind die eerste keer vertoon is, het ʼn gemaklikheid as Miriam wat haar vertolking kwalik na toneelspel laat lyk. Sy het ʼn wysheid, aangevul deur die gemoedelikheid van die karakter, wat die fliekganger gerusstel en in die getraumatiseerde huishouding die “sonstraal” is.

Velts en die draaiboekskrywer, Pieter Esterhuizen, het aanpassings aangebring wat dalk effens afwyk van die romangegewe, maar wat filmies dalk meer verantwoordbaar is. Die ligging van die gesin se huis met die uitgestrekte see in die agtergrond, net soos die skilderytjie van ʼn onstuimige seetoneel teen die muur net voor die badkamerdeur, versterk nie net aspekte van Alexander se binnewêreld nie, maar ook van dié van sy gesin.

Omdat die verbale nie vir Alexander belangrik is nie, kry ʼn mens nie eerstehands ʼn idee van sy geslote wêreld nie. Behalwe tydens die rusie tussen sy ouers waar die kamera in die kas deur die hortjies as’t ware sy gesigspunt word. Dié insident is egter so geïsoleerd binne die omvang van die prent dat dit dalk gesny kon gewees het. Daarenteen is die metronomiese klank van die beitel teen die steenmuur ʼn veel sterker illustrasie van Alexander se isolasie.

Meer as ʼn fliek oor outisme is Raaiselkind ʼn ondersoek na vooroordeel, na agterdog oor en afkeur aan enigiets of enigiemand wat nie “normaliteit” beliggaam nie. Dit is nie net in die erediens op die dorp waarin geïrriteerdheid met die lastige knaap in die kerk geblyk het nie, maar ook in die ondervraging deur die bot polisiebeamptes. En les bes, die huisdokter wat juis veronderstel is om oopoog te wees. Sy refrein van “dis normaal” benadruk die sug van ʼn gemeenskap na sogenaamde normaliteit, na ʼn wêreld waarin almal eenders is. Of beter nog: Waarin almal soos ons is.

Raaiselkind is ʼn aangrypende prent wat maklik melodramaties of oordrewe sou kon word. Wat dit nié is nie. Die enigste aanduiding hiervan is dalk die gebruik van die Ingrid Jonker-gedig, bra buite konteks, reg op die einde. Daarsonder sou die prent nie swakker gewees het nie. Om die waarheid te sê …

***

Raaiselkind (2017). Regisseur: Andre Velts; vervaardiger: Sally Campher; kinematograaf: Amelia Henning. Met Diaan Lawrenson, Neels Clasen, June van Merch, Deon Lotz en Anrich Herbst.

Raaiselkind begin op 16 Februarie 2018 landswyd in teaters draai.

Maroela Media het op 15 Februarie ‘n spesiale vertoning van die fliek in Pretoria en Kaapstad gehou. Lees meer.
Maroela Media het ook vroeër ‘n onderhoud met Diaan Lawrenson gehou oor dié uitmergelende rol. Luister hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariana Benson ·

n Jammerte dat hierdie rolprent eers nou die 23ste Februarie in PE gaan draai. Nie een NuMetro of Ster Kinekor in PE het Raaiselkind wat gister landswyd vrygestel is begin vertoon nie. So n teleurstellende dag vir ons Baaienaars wat ook uit gesien het soos die res van die land om die vertoning te gaan kyk by een van ons plaaslike teaters maar onngelukkig het nie een van hulle dit op hulle skerms nie. Ek het Nu METRO PE gekontak en hul het my verseker dit kom eers nou die 23ste agv min teaters nadat Walmer Park hul Nu Metro teaters gesluit het die 15 de Februarie. Om te dink Anneli Botes is n plaaslike inwoner en ook niks ophef hier nie. Sy verdien erkenning van die teaters in PE. Hoop Nu Metro gaan haar hier erkenning gee siende dat hul n week later in PE gaan draai. n Jammerte ons Baaienaars het nie kennis gedra van die later verskynsel in PE nie . Ons ook lief vir goeie afrikaanse kultuur hier in die Oos Kaap!!Ons het genoeg droogte.

Ronel ·

Wees by julle het Kines om dit in te gaan kyk. Kroonstad s’n het toegemaak agv swak gedrag van mense…. Any woo. Sien uit om die fliek te gaan kyk, al moet ons Vereenging of Welkom toe ry daarvoor.

Z ·

Diep en soms ontstellende fliek. ‘n Móét kyk vir elke mens, sodat ons weer meer kan waardeer, dieper kan liefhê, meer probeer verstaan, minder veroordeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.