Fliekresensie: Verrassende toneelspel, draaiboek inspireer in ‘The Holdovers’

THE HOLDOVERS
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(9/10)
Met Paul Giamatti en Da’Vine Joy Randolph
Regisseur: Alexander Payne
(Slegs in teaters)

Baie mense kla dikwels dat Hollywood nie meer rolprente soos Dead Poets Society maak nie. Wel, vrees nie meer nie, want The Holdovers neig nogal in daardie rigting.

Dit gaan weer oor die verhouding tussen ʼn onderwyser en ʼn groep testosteroon-besmette seuns wat op die rand van volwassenheid staan.

Anders as in Dead Poets Society is Paul Giamatti, wat vir ʼn Oscar benoem is vir sy rol as die onderwyser, ʼn regte ou knorpot. Hy hou van niemand nie, en niemand hou van hom nie. Tot hy matrieks gedurende die Kersweek in die VSA moet oppas.

Dominic Sessa en Paul Giamatti in “The Holdovers”. (Foto: IMDb)

Die noodlot bepaal dit so dat net hy, die sjef en ʼn verwarde, neurotiese skoolseun, verrassend goed gespeel deur nuweling Dominic Sessa, alleen oor Kersfees in die onvriendelike, neerdrukkende gebou agterbly. Wat daar gebeur, verander veral die onderwyser se lewe vir altyd.

Jy vermoed dalk wat gaan gebeur, maar dis die komiese en ook hartseer reis na die besielende einde toe wat The Holdovers so inspirerend maak. As jy in ʼn winkelsentrum is waar dit wys, en jy is pootuit van die hitte en die pakkies, gaan ontspan met springmielies en ietsie te drinke in ʼn koel teater.

Da’Vine Joy Randolph in “The Holdovers”. (Foto: IMDb)

The Holdovers sal jou tyd heerlik met twee uur verkort, en Giamatti staan ʼn baie goeie kans om die Oscar as beste akteur te wen.

Slegs in teaters.

(9/10)

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.