Fliekresensie: Verwronge ‘Amerikaanse droom’ kraak oop in trefferfliek

OPPENHEIMER
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(10/10)
Met Cillian Murphy en Robert Downey Jr.
Regisseur: Christopher Nolan
(Slegs in IMAX en ander teaters)

Waar mense taamlik eensgesind opgewonde oor Barbie is, is hierdie veelbewoë rolprent deur die geniale Christopher Nolan die vonk by die atoombom-kruitvat.

Dit ondersoek die lewe, gewete, gebreke en aanvanklike sukses van die vader van die atoombom, J. Robert Oppenheimer (vertolk deur Cillian Murphy), met mening.

Die rolprent bombardeer die kyker met ongekende drama, oorverdowende klank, feite wat soms verdraai word en kritiek oor die heksejag op ʼn man wat opdragte uitgevoer het en sy verwronge droom nagejaag het.

Moenie dat die 10/10-gradering jou na jou motorsleutels laat gryp nie. Hoewel die rolprent ʼn diepgaande ondersoek doen na die jag op kommunistiese simpatiseerders, wys dit dat die fondament van die Amerikaanse Droom hier begin kraak het.

Cillian Murphy in ‘Oppenheimer’. (Foto: IMDb)

Oppenheimer verkeer in sy eie vlammehel nadat hy die sukses van sy vernietigende skepping ervaar het, want hy besef dan eers dat hy die wêreld die geleentheid gebied het om homself te vernietig.

Sy gewete teister hom en dryf hom feitlik tot selfvernietiging, maar nog erger, dit skaad sy siel tot so ʼn mate dat hy die handdoek ingooi, veral wanneer sy president, kollegas en land die rug op hom keer.

Indien jy gaan kyk, berei jou voor op ʼn soms bombastiese aanslag op jou sinne. Dit is briljant en sal jou nie onaangeraak laat nie, maar wat prysenswaardig is, is dat jy ʼn opinie sal hê en beslis gaan reageer. Dit is die kenmerke van ʼn goeie rolprent. Dat dit mense inspireer om te debatteer, in plaas daarvan om onbetrokke bloot net skouers op te haal.

(10/10)

  • Kykers moet let op die ouderdomsperke en waarskuwings, en daarvolgens besluit of hulle na ʼn reeks of rolprent wil kyk. Die waarskuwings word duidelik aangebring wanneer daar op die reeks se naam geklik word, of verskyn op rolprentplakkate, of bo regs op die TV-skerm. L kan ook laster suggereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.