Foto’s: ‘The Godfather’ vier 50 jaar

Francis Ford Coppola, James Caan en Talia Shire gesels op die verhoog tydens die 50ste herdenkingsviering van “The Godfather” by die Paramount Pictures-ateljee in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images via AFP)

Die ikoniese rolprent The Godfather het Dinsdagaand ʼn spesiale herdenkingsgeleentheid aangebied. Dié fliek is vanjaar 50 jaar oud.

Die geleentheid is by die Paramount-teater in Los Angeles, VSA, aangebied. Die Oscar-bekroonde regisseur Francis Ford Coppola (82) het die geleentheid saam met vriende en familie bygewoon.

Sterre soos James Caan (81), Talia Shire (75) en Jon Voigt (83) was ook teenwoordig. Caan se seun, James Caan jr. (26), het sy pa vergesel.

The Godfather, wat geskoei is op die roman deur Mario Puzo, het op 24 Maart 1972 vir die eerste keer op die grootskerm gewys. Om die fliek se mylpaal-herdenking te vier sal ʼn gerestoureerde weergawe weer in uitgesoekte fliekteaters te sien wees.

“Ek is baie trots op The Godfather, wat beslis ʼn derde van my kreatiewe leeftyd gedefinieer het,” het Coppola aan Variety gesê.

“Dit is bevredigend om dié mylpaal saam met Paramount en die wonderlike aanhangers wat al vir jare mal is oor die rolprent, te vier. Jonger generasies vind die fliek vandag nog relevant en sommige sal dit nou vir die eerste keer eers ontdek.”

Volgens Paramount Archives se senior visepresident, Andrea Kalas, voel hulle “bevoorreg” dat hulle die rolprent-trilogie kon restoureer.

“Ons kon eerstehands getuies wees van hoe briljant die kinematografie, klankbaan, produksieontwerp, kostuumontwerp, redigering, toneelspel en natuurlik die draaiboek en regie is. Ons is daaraan toegewy om al dié rolprentmakers te vereer vir hulle uitmuntende werk,” het Kalas gesê.

Francis Ford Coppola, regisseur van “The Godfather”. (Foto: Jon Kopaloff/Getty Images via AFP)

The Godfather handel oor die Corleone‑familie, met Vito Corleone, vertolk deur die ontslape akteur Marlon Brando, aan die hoof van die familie. Al Pacino, Robert Duvall, Diane Keaton en John Cazale, wat ook intussen oorlede is, verskyn ook in die flieks.

Die drie The Godfather-flieks het altesaam 28 benoemings vir Oscar-toekennings ontvang, waarvan die flieks nege beeldjies ingeoes het.

Bron: The Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.