Hier is die lokprent van ‘Lightyear’-animasiefliek

(Foto: Diana Penilla/ Walt Disney Studios)

Disney-aanhangers kan gerus hul ore spits en hul stoele nader trek. Disney en Pixar het pas die lokprent van die splinternuwe rolprent Lightyear bekendgestel.

As die naam klokkies van nostalgie by jou lui, is daar ’n goeie rede daarvoor. Dié rolprent is die voorganger van die Toy Story‑faam en die oorsprong van die geliefde karakter Buzz Lightyear.

Angus MacLane, regisseur Lightyear, is opgewonde om die geliefde karakter se agtergrondverhaal in die rolprent saam met gehore verder te verken.

“In Toy Story wil dit voorkom asof daar hierdie ongelooflike agtergrondstorie van hierdie ruimtevaarder is. Daar word egter nie veel daaroor gesê nie. Ek wou nog altyd dié agtergrond verder ondersoek en dit was my idee vir die fliek. Ek wonder nog altyd watter fliek het Andy [een van die karakters in Toy Story] gesien wat hom Buzz Lightyear laat koop het?”

Chris Evans van Avengers‑faam se stem sal gehoor kan word as dié van Buzz Lightyear. Ander bekende name in die animasierolprent is Keke Palmer, Dale Soules, Taika Waititi, Peter Sohn, Uzo Aduba, James Brolin, Mary McDonald-Lewis, Efren Ramirez en Isiah Whitlock.

MacLane is opgewonde oor die groep kunstenaars wie se stemme in die fliek gehoor gaan word.

“Elke kunstenaar het onmiddellik hul karakter opgeneem, en dus kon ons ʼn bietjie daarmee rondspeel tydens die opname van die fliek. Dit het veroorsaak dat ons ʼn vlak van spesifiekheid kon bereik wat die materiaal beter gemaak het en die karakters soveel meer diepte gegee het.”

Lightyear sal op 17 Junie vanjaar op silwerskerms wêreldwyd te siene wees.

Kyk die lokprent van die rolprent hier:

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.