Hollywood: Splinternuwe koninklike portret; Sandra Bullock neem blaaskans

Sandra Bullock. (Jamie McCarthy/Getty Images/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus

Sandra Bullock neem ’n blaaskans

Ná die sukses van die rolprent The Lost City het die aktrise Sandra Bullock besluit om ’n blaaskans van toneelspel te vat.

“Ek is uitgebrand. Ek is so moeg, en ek is nie in staat daartoe om gesonde, slim keuses te maak nie en ek weet dit,” het die aktrise vroeër in ’n onderhoud met The Hollywood Reporter gesê.

Sy het verduidelik dat sy vir die volgende ruk gaan fokus op haar twee kinders, Louis (12) en Laila (10).

Dié indrukwekkende aktrise het al in 50 rolprente verskyn en het talle pluimpies, onder meer twee Oscar-toekennings, op haar kerfstok.

Bullock het nie net ’n hoofrol in The Lost City, wat in Maart vanjaar uitgereik is, vertolk nie, sy was ook een van die vervaardigers daarvan.

Sy het die skerm met onder meer die hartebreker, Channing Tatum, en die Harry Potter-ster, Daniel Radcliffe, gedeel.

“Ek hou daarvan dat ek nie 25 is nie,” het die 57-jarige aktrise gesê. “En ek is mal daaroor dat daar ’n man [Tatum] is wat bereid was om vele aspekte van homself te wees wat nie gewoonlik in rolprente soos dié gewys word nie.”

Dié fliek, wat gevul is met avontuur, aksie, komedie en romanse, het sowat $188 miljoen (byna R3 miljard) by die internasionale loket losgeslaan.

Bullock het nog nie bekend gemaak wanneer sy na die skerm sal terugkeer nie.

Bekende miljardêr vervreem van sy dogter

Elon Musk, die miljardêr wat oorspronklik van Suid-Afrika afkomstig is, se paaie het wettig met een van sy sewe kinders geskei.

Sy 18-jarige dogter se versoek om naam- en geslagverandering is op Woensdag 22 Junie deur regter Rafeal Ongkeko in die hof in Santa Monica, Los Angeles, goedgekeur.

Elon Musk. (Foto: Jim Watson/AFP)

“Ek wil nie meer in enige vorm verwant wees aan my pa nie,” het Vivian Jenna Wilson, soos wat sy nou bekend staan, in die versoekskrif geskryf.

Wilson gebruik nou haar ma, die Kanadese skrywer Justine Wilson, se van. Justine was van 2000 tot 2008 met Musk getroud.

Hy het vyf kinders saam met Vivian gehad, van wie die oudste as babatjie gesterf het.

Musk is al drie keer getroud, waarvan twee huwelike met die Westworld-aktrise, Talulah Riley, was.

Hy en die sangeres, Grimes, het ook twee kinders saam.

Hy het op Vadersdag vanjaar die volgende boodskap op sy Twitter-bladsy gedeel: “Ek is so lief vir al my kinders.”

Musk, wat tans besig is om Twitter vir $44 miljard oor te koop, het voorheen gesê dat hy transgender mense ondersteun, maar is al gekritiseer oor die feit dat hy die gebruik van ander voornaamwoorde van die hand gewys het.

Splinternuwe koninklike portret slaan asems weg

Die hertog en hertogin van Cambridge, Kate Middleton en prins William, se heel eerste gesamentlike koninklike portret is op Donderdag 23 Junie by die Universiteit van Cambridge se Fitzwilliam Museum bekend gestel.

Kate Middleton en prins William, se heel eerste gesamentlike koninklike portret. (Foto: The Royal Family/Instagram)

Die Britse kunstenaar, Jamie Coreth, het die portret geskilder en was geïnspireer deur die koninklike egpaar se 2020-besoek aan Dublin, Ierland.

In die portret pronk die hertogin in ’n diepgroen midi-rok met ’n metaalglans, met Manolo Blahnik-skoene van groen satyn. Sy dra ’n stel pêreloorbelle wat eens aan prinses Diana behoort het.

Prins William lyk alte stylvol in ’n swart pak met ’n wit knopieshemp en blou das.

“Dit was die grootste voorreg van my lewe om gekies te word om hierdie portret te skilder. Ek wou hul koninklike hooghede op ’n manier uitbeeld waar hulle albei ontspanne en toeganklik, dog elegant en waardig voorkom,” het Coreth in ’n verklaring gesê.

Hy het verder verduidelik dat hy ’n gevoel van balans tussen hul openbare en private lewe wou skep met die portret.

“Die stuk is as geskenk aan die mense van Cambridgeshire gegee, en ek hoop hulle sal dit net soveel geniet as wat ek dit in die skeppingsproses geniet het.”

Nuwe rolprente op die horison

Fliekvlooie kan gerus hul warm sjokolade en die springmielies gereed kry, want ’n opwindende tyd lê voor met verskeie opvolgrolprente wat binnekort die skerms gaan tref.

Die terugkeer van die beer

Dit is onlangs bekend gemaak dat daar in 2023 met verfilming aan die derde rolprent van die geliefde Britse beer, wat tog net te lief is vir sy marmalade-toebroodjies, begin sal word.

Koningin Elizabeth het ʼn pot tee met Paddington Bear gedeel. (Foto: Buckingham Palace, Studio Canal, BBC studios, Heyday Films/AFP)

Die eerste rolprent in die reeks is in 2014 uitgereik en die tweede in 2017.

Paddington in Peru het ’n splinternuwe gesig in die regisseurstoel. Paul King, wat die regie van die eerste twee rolprente behartig het, se uittrede het die deur oopgelos vir Dougal Wilson om die verantwoordelikheid oor te neem.

Paddington het onlangs die wêreld aan die gons gehad toe hy saam met koningin Elizabeth II op die skerm gepronk het tydens die viering van haar platinumjubileum.

Wanneer die nuwe rolprent op die skerms te siene sal wees, is nog nie bekend nie.

My Big Fat Greek Wedding 3 is op pad

Nia Vardalos, die skrywer en ster van die My Big Fat Greek Wedding-rolprentreeks het pas bekend gemaak dat hulle besig is met die verfilming van die derde rolprent in Athene, Griekeland.

Nia Vardalos en John Corbett in die eerste ‘My Big Fat Greek Wedding’-rolprent. (Foto: Nia Vardalos/Instagram)

“Dankie vir almal se lieflike boodskappe,” het Vardalos in ’n video op haar Instagram-bladsy gesê.

In dié video leer sy ook die kykers wat die woord “regisseur” in Grieks is. Daarmee maak sy eintlik bekend dat sy die regisseur van die jongste film is.

Die eerste rolprent in die reeks is in 2002 uitgereik met die tweede wat meer as ’n dekade later, in 2016, die skerms getref het.

Dit is nog nie bekend wanneer die derde film uitgereik sal word nie.

Deadpool nou deel van Disney

Rhett Reese en Paul Wernick is tans besig om die teks van Deadpool 3 te skryf.

Ryan Reynolds tydens vanjaar se Met Gala. (Foto: Dimitrios Kambouris/Getty Images for The Met Museum/Vogue/AFP)

Dié nuwe insetsel sal die eerste Deadpool-fliek wees wat deur Disney gemaak word. Die eerste twee rolprente is deur Fox gemaak, wat in 2019 deur Disney oorgeneem is.

Die grootste vraag op Deadpool-aanhangers se lippe is of Deadpool sy ondeunde persoonlikheid gaan behou onder die vaandel van Disney.

Die skrywers is egter daarop gestel dat hulle nie wil skaaf aan dit wat die eerste twee flieks so suksesvol gemaak het nie.

“Ons is gewoond daaraan om dinge op ons manier te doen; daar is verskille, maar die goeie ding is dat Marvel [wat onder Disney val] sover ongelooflik ondersteunend was. Hulle wil Deadpool waarlik Deadpool hou, jy weet?

Só het Reece onlangs aan The Playlist verduidelik.

Deadpool 3 het ook nog nie ’n uitreikingsdatum nie.

Bronne: Harper’s Bazaar, The Hollywood Reporter, Associated Press, Deadline, Variety

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.