Leon se fliekresensie: Downton Abbey: A New Era

Downton Abbey: A New Era   ****  
Met Michelle Dockery en Hugh Bonneville
Regisseur: Simon Curtis

Vir hierdie een sal jy die motorsleutels moet vat, die pad fliekteaters toe aandurf en ʼn pakkie bottersout-springmielies en koeldrank gaan koop. Want dié epos oor ʼn vergete era sal jou teruglok na die dae toe rooi gordyne nog stadig oor silwerskerms oopgeskuif het, daar ʼn glansryke sigaretadvertensie net voor die hooffilm was, en teaters nog tot barstens toe vol was. Ai waar is die dae?

Mense onthou dié reeks oor die Britse aristokrasie seker nog van die lang TV-reeks oor die Crawley-gesin se doen en late in die Downton Abbey-kasteel. Die tweede fliek in die reeks is soos ʼn blokkiesraaisel, want daar is so baie karakters, jy moet leidrade gebruik om die name in te vul om presies te onthou wat gebeur het. Dit is slegs gerig op mense wat die Crawleys en hul dramatiese lewensverhale kén, anders sal jy nie jou Crawley van jou Downton kan onderskei nie.

Dié slag maak die stywe bolip-gesin met die rolprentbedryf kennis wanneer ʼn stilrolprent in 1930 in hul kasteel geskiet word, en Lady Grantham (Maggie Smith) ʼn onverwagse erflating kry. Daar is weer ʼn vonk as ʼn prop opnuut in die muur ingedruk word.

Jy verdrink in die beeldskone natuur, maak jou tuis in die indrukwekkende kasteel wat ook ʼn karakter is, en kuier saam met die gesin en lyfknegte en sjefs. Net hul geskokte reaksies op die rolprentbedryf is alreeds kostelik.

Die fliek is snaaks, luuks op die oog, hartseer en selfs boeiend.

Jy kan jou rusbank en televisieskerm maar vir ʼn middag opgee hiervoor. Dis soos om ʼn onverwagse blokkie sjokolade onderin jou laai te ontdek.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.