Leon se fliekresensie: Love and Gelato

Love & Gelato
Met Marie-France Arcilla en Alex Boniello
Regisseur: Brandon Camp

Iemand kla nou die dag: “Wanneer ek saans tuiskom en voor die televisie opkrul indien daar krag is, verkies ek net om vermaak te word. Sommige reekse is so ingewikkeld, of dit gaan altyd oor speurders wat ʼn moord moet oplos, dat ek skoon oorhoeks raak. Is daar dan nêrens sommer net doodgewone romantiese ontspanningsvermaak nie?”

Dan is hierdie gemaklike drafstappie-komedie vir jou. Soos ʼn goeie roomys (gelato in Italiaans) sorg die regisseur dat hy sy bestanddele met die nodige tongtippietoets meng. ʼn Stewige skeppie romanse, beeldskone natuurtonele, ʼn liefdesdriehoek met ʼn verwaande laventelhaan, kompleet met ʼn weerligkuifie, ʼn sexy meisie en ʼn bleeksiel-sjef. Daar is ook mooi musiek en avontuurritte deur van die mooiste plekke en stede in Italië, veral Rome en Florence. Dit voel dus of jy met vakansie is.

Natuurlik is die mense net so prentjiemooi as die natuurtonele, en veral die onbekende Marie-France Arcilla het die regte kombinasie van naïwiteit, vrolikheid, versigtigheid, sjarme en liefde vir Italië. Maar dit gaan veral ook om ʼn meisie wat haar oorlede ma se verlede in ʼn vreemde land naspoor en ʼn skok-ontdekking maak. En is romanse so lekker en gemaklik soos om Italiaanse roomys te eet? Terloops, Italië maak die lekkerste roomys (en pizzas in Napels!) in die wêreld. Dis hemels!

Daar het jy dit. ʼn Meisie ontdek dat roomys en liefde goeie kamermaats is! Dis gerieflike eenvoudige vermaak vol clichés wat jou in jou gemaksone sal hou, vrolik sal vermaak, geen aanstootlike of gewaagde tonele bevat nie en visuele prentjies verfilm wat jy sal wil skilder, so mooi is dit. Kyk gerus!

Op Netflix te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.