Leon van Nierop se fliekresensie: Minions: The Rise of Gru

Minions: The Rise of Gru
Met die stemme van Steve Carell en Taraji P. Henson
Regisseurs: Kyle Balda, Brad Ableson en Jonathan del Val

ʼn Resensie oor die oulike kreatuurtjies is eintlik baie moeiliker as om ʼn verwikkelde drama te resenseer. Hoekom? Want die vervaardigers ken hul mark so goed en weet watter karakters en stories hul merke gaan maak, dat ouers reeds by die aanhoor van die titel weet waarvoor hulle hulle inlaat. Maar dié resensie wil jou verder probeer aanmoedig om deel te neem.

Hoe som ʼn mens dié snaakse eiervormige geel karikatuurtjies met die blou oorpakkies se storie op? Is ʼn storie nodig? Ja, tog op ʼn manier, want hoe anders hou ʼn mens die kleinspan se aandag vir 90 minute? Skerp stemmetjies, kwinkslae en ʼn gegil en rondhollery moet ook met “storiefeite” afgewissel word!

Dié hoofstuk in die geel karaktertjies se holderstebolder-lewens gaan terug na die begin toe die nare Gru 11 jaar oud was en die wêreld se aakligste skurk wou word. Hy wil by ʼn groep super-skurke aansluit wat hom onderskat, maar hy steel iets van hulle om homself te bewys.

Onthou, dié reeks het in 2015 begin met hul voete in die Despicable Me-rolprente, maar die mees onlangse Minions-fliek, 2017 se Despicable Me 3 – fliek het alle rekords laat tuimel.

Hierdie aflewering, slegs in teaters, mag kinders opnuut laat besef dat dit eintlik maar beter is om ʼn rolprent op die grootskerm te sien! En ouers sal die uitstekende stemwerk en veral die klankbaan baldadig geniet.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.